Reisjoernaal volg ma se pad ná dogter se selfdood

Matty Strydom was reeds in haar middeljare toe sy in Maleisië gaan skoolhou het, en in dié tyd ook onder meer Kambodja en Mianmar besoek het. Sy is Treppie, die onverskrokke “intrepid adventurer”. Jy kan nie anders nie as om al daardie veraf plekke te google op soek na foto’s daarvan.

Hier waar ek nou is (Protea, 2021) sou reeds ’n avontuurryke reisjoernaal kon wees – die ene webskakels, aanhalings uit ander boeke, klein geskiedenislesse en brokkies inligting waarin sy die lesers na onder meer minder bekende hoekies van Suidoos-Asië neem.

Maar nou is dit veel, veel meer.

Die boek is eerstens ’n aangrypende belewingsjoernaal, want ongeag al die eksotiese nuwighede en nuwe vriendinne word dié 300 bladsye gekleur deur die onontwykbare wete van die selfdood van haar kreatiewe 19-jarige dogter Jessica.

LEES OOK: My reis na heelwording

Matty probeer so dapper as wat menslik moontlik is, en sonder om modder te gooi of haar dogter te verwyt, sin maak uit dié ellendige gebeure.

Haar reise help haar soms om so bietjies-bietjies te ontsnap en te besin, en gee haar ook die kans om die besef van haar verlies te laat insak. So leer sy hoe die lewe, goed of sleg, moet voortgaan. Al hou dit dalk selfs iets soos ’n borskankerdiagnose in.

Hier waar ek nou is eindig met ’n kykie na die kunswerke en kunsjoernale wat Matty Strydom se kreatiewe dogter nagelaat het. Haar matriekportefeulje was getiteld “I lost my heart before I lost my mind”.  Foto verskaf

Dis ’n reis deur haarself ook. Soos die onbekende bron wat sy in die boek aanhaal dit wil hê: “If we arrive the same as we depart, there would be no reason to go.”

ENGELA DUVENAGE het met die skrywer, wat deesdae in Vanwyksdorp in die Suid-Kaap woon, gesels:

Hoe sou jy die boek in 25 woorde beskryf?

Die boek praat uit die hart van ’n ma wat ’n kind aan selfdood verloor het. Vir haar vind die verwerking daarvan plaas deur haar alleenreise na binne en na buite.

Hoekom het jy besluit om juis hierdie baie intieme en persoonlike boek te skryf? Was daar ’n spesifieke insident of prikkel?

So ’n verhaal roep om neergeskryf te word. Dit het reeds bestaan in joernale – wat geskaaf moes word – en daar was die aanmoediging van vriende wat my reisberigte (onder meer per WhatsApp) geniet het.

Dit ís intiem, ja. Maar een mens se verhaal is ook vele ander se verhaal.

Wat beteken die skryf en die publikasie van die boek vir jou?

Publikasie is ’n lank gekoesterde droom. Die Kanadese skrywer Anne Michaels sê sy lees om ’n ander mens vas te hou. In Hier waar ek nou is hou ek my kind styf vas – en seker ook myself.

Jessica Strydom het hierdie beeld, “Fool’s paradise”, uit papierklei gemaak. Sy was toe in matriek. Foto verskaf

Kan jy onthou wanneer jy die eerste keer die Antjie Krog-gedig raakgeloop het waaraan jou boek se titel ontleen is? En wat beteken dit vir jou?

Ek het Antjie Krog se Januarie-suite as ’n boekprys in Graad 10 ontvang. Die jaar daarna het ek die gedig “Hier waar ek nou is” op ’n eisteddfod voorgedra, en 35 jaar later het my Jessica ’n goue sertifikaat vir haar vertolking daarvan gekry.

Met haar dood sê die gedig eenvoudig alles wat gesê kan word, oor waar sý was en waar ék is.

’n Uittreksel uit die gedig: “Hier waar ek nou is”

… hier waar ek nou is, sal jy nooit kan wees nie
daarom vee ek die wasem van die ruit
sodat ek vir oulaas kan kyk na jou oë – vredig soos sprinkaanvoëls
sakdoeke gebind aan elke wintertak
sodat ek kan treur oor die lier van jou hande
die seer stilte in jou bors
ek sien hoedat jou blaaie soos deure voor my sluit
hoe die staaf van jou skouers finaal voor my inskuif
en afstand kry in die lig

dit is goed dat jy van my weg gaan dink ek by myself
dit is goed, want jy is nog so mooi so voltooid
tog bly dit seer om altyd agter te bly
om myself te troos met die woorde:
dat waar ek nou is, sal niemand ooit saam met my kan wees nie.

Uit: Januarie-suite – Antjie Krog

LEES OOK: ‘My kind, my kind, hoekom?’

Hoe hoop jy sal die boek ander mense raak?

Dis nie net ’n swaar en hartseer boek nie. Só kan ek Jess se lewe nie vier nie. Ons onthou haar met ’n glimlag. My lesers sal ook saam met my lag vir Treppie – dis nou ek as vreeslose reisiger – se maltrap-avonture.

Matty by kinders vir wie sy onderrig het in Asië. Foto verskaf

Wat reken jy het gehelp dat jy deur die jare heen kon saambeweeg met die feit van jou dogter se dood? Het jy raad wat jy dalk vir ander in ’n soortgelyke situasie kan gee?

Jess het haar lewe verskuif, nie ons nie. Ek wil voluit bly leef, vir haar en vir myself en vir my mense. Natuurlik is daar vrae. Selfverwyt. Maar moenie agter die badkamerdeur gaan nie. Verwyte en skuld is vernietigend.

My plek van berusting is waar ek op die Suid-Chinese see dobber en aan my Japannese vriendin sê: “Die engel van die dood het haar geroep en sy het ‘Ja’ gesê.”

Of, soos iemand dit omgedraai het: “Sy het die engel van die dood geroep en die engel het ‘Ja’ gesê.”

Wil jy mense deur die boek laat beweeg, of eerder laat besin?

Die pad deur die dal van doodskadu sorg vir ’n baie individuele reis. Sommige mense sal hul kop skud. Ander se voete sal begin jeuk. Al wat ek eintlik wil sê, is: Kyk sag na die dood. Drink jou pille as dit jou help.

LEES OOK: Pediater met breingewas skryf kinderboek vir sy kleuter voor hy sterf

Vertel van ’n stukkie hoop wat in of deur die boek gebied word.

Tussen die liefde en die leegte is daar altyd hoop.

Wat het jy in die skryfproses geleer?

Die teks is deurweef met aanhalings en pragtige musiek en lirieke. Die skryfproses was ’n reis op sigself, met soveel intertekstuele verwysings wat my geraak het.

Vertel asseblief iets oor die terugvoer wat jy reeds ontvang het.

’n Vriend bel my. Hy sê sy neef se dogter se vriendin se pa het sy lewe geneem. Op die begrafnis sê die man se broer: “Ons sal nooit weet waar my broer was nie, maar hier waar ons nou is …”

Hy beveel aan dat mense die boek Hier waar ek nou is deur Matty Strydom moet lees.

Hier raak my woorde in ootmoed weg.

Jy het pas saam met jou man Hennie uit die Noorde na Vanwyksdorp in die Klein-Karoo verhuis.

Ek en my man het ’n heerlike aftreeprojek: om vir ons ’n huis in die Klein-Karoo te bou. Vrede het in ons hart nes gemaak. Studies toon aan dat mense met 60-plus jare agter die blad gelukkiger is as vroeër in hul lewe.

Ek haal vry aan uit Antjie Krog se “Hier waar ek nou is”-gedig:

… want ek het myself nou ingehardloop

ek is verenig met myself soos twee hande in mekaar in pas …

* Hier waar ek nou is (Protea Boekhuis R295) is by die Bybel-Media-boekwinkel te koop.

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img