Roggeveld-boervrou se ‘huis van gebed’ en hul droogte-wonderwerk

DEUR HELÉNE MEISSENHEIMER; HOOFFOTO:EZBE JANSE VAN RENSBURG

Die piramideagtige klipstapel op die bergrandjie is kilometers ver sigbaar op die grondpad na die plaas Portugalsrivier, so 34 km van Sutherland in die Noord-Kaap.

“Ja, hier het al toeriste by ons plaas ingery en daaroor gevra,” vertel Elsje Basson. En as sy die storie agter die klipstapel vertel, besef ’n mens dis ’n sigbare getuienis van die groot rol wat gebed in hierdie boervrou van die Roggeveld se lewe speel.

Elsje Basson, boervrou van Sutherland, staan in die veld langs haar en haar skaapboerman, Elias, se eie ‘faith like potatoes”-storie. Hulle lusernlandjie het in Februarie ‘n rekord-oes gelewer na hulle in geloof daar gesaai het na November se goeie reëns. “Ons noem dit net ‘geloof soos lusern’,” sê Elsje. Foto:Heléne Meissenheimer

Elsje en haar skaapboerman Elias boer al 30 jaar op die Bassons se familieplaas Portugalsrivier. As ’n mens nou na hul plaas ry, lyk die veld mooi. Die skaapbossies blom geel en die skape staan rondlyf en gesond. Elias en Elsje sal jou gou vertel dis danksy die goeie reën wat sedert November verlede jaar begin val het. Die voorafgaande agt jaar het die gebied bloot elke dan en wan ’n paar druppels gehad. Die boere hier rond kén droogtes, maar die laaste een was van die ergstes ooit.

Die Bassons het die helfte van hul skaaptrop midde-in die droogte verkoop, en daarna alles probeer om die oorblywende deel van die trop te behou. Toe die veld se bossies begin vrek, het hulle voer aangekoop, maar dit was nooit genoeg nie. Twee jaar lank het hulle die hartseer beleef van lammers wat nie kon grootword nie, want die voer was te min. Teen November 2020 was daar ná sewe jaar se droogte niks meer kos in die veld nie.

“Moenie bekommerd wees nie”

Toe, een Sondagnag, Elsje skat so ongeveer halftwee, hoor sy ’n stem vir haar sê: “Elsje!” Sy vertel: “Ek sit regop in die bed. Ek besef dat ek hierdie stem ken, en dat ek nou moet luister. Maar nou is jy mos astrant. Jy kyk eers of dit nie dalk Elias is wat hier langs jou in die bed lê nie; dis net ons twee in die huis. Toe sê die stem vir my: ‘Moenie bekommerd wees nie, julle sal dit maak.’”

Die uitkoms het voor sonsak daardie einste Maandag gekom: ’n Boer van Caledon het ingestem dat hul skape op sy afgeoeste lande kan kom wei. Dit was net wat hulle nodig gehad het. Dit het ook die veld op hul plaas broodnodige hersteltyd gegee.

Elsje noem die uitkoms wat die Caledonse boer gebied het een van die “ge-loof-like” dinge wat hulle tydens die droogte beleef het. Sy het intussen geleer dat by die Here niks “ongelooflik” is nie.

LEES OOK: ‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

Boeremense soos die Bassons praat nie maklik oor hul belewenis van die droogte nie, maar Elsje en Elias het tog van hul besonderse geloofsverhale met lede van ’n stapgroep gedeel wat onlangs twee nagte op hul plaas gekampeer het. Die stapgroep was besig met die nuwe 108 km lange Stargazing Camino – ’n staproete van Sutherland na Merweville. Die doel was om fondse in te samel vir droogtehulp aan boeregemeenskappe in die Karoo.

Die fikse en bruingebrande Elsje is ’n toerleier saam met Kallie le Roux, ’n afgetrede dominee wat nou ’n gastehuiseienaar op Merweville is. Hier kom haar ervaring as staptoerleier van Enduro-staptogte deur die Moordenaarskaroo haar goed te pas.

“Geloof soos lusern”

Een middag kom haal Elsje my* en vra ek moet saam met haar ry. “Ek wil jou iets gaan wys,” sê sy en ons kies koers in ’n plaasbakkie oor ’n sanderige grondpad. Ons stop by ’n groen lusernland in die middel van nêrens.

LEES OOK: Caminostap vir Droogtehulp: Pelgrimspsalms, donderdweer en sprinkane

Elsje vertel my dat daar tydens die droogte nie water was om dié landjie nat te lei nie. Maar ná die milde reën in November het hulle in geloof gesaai. Groot was hul blydskap toe hulle 134 bale lusern in Februarie kon afsny. Gewoonlik lewer dié stukkie grond maar tussen 60 en 80 bale.

Dis hul eie “faith like potatoes”-storie, lag sy. “Ons noem dit net ‘geloof soos lusern’.”

Tydens aandete vertel dié 54-jarige vrou met die wakker blou oë en kort, grys kapsel aan die hele stapgroep die geloofsverhaal van hul uitkoms. Sy vertel onder meer van die eerste keer wat sy die stem met haar hoor praat het.

“Hoe weet jy?”

Elsje en Elias het twee kinders. Hul dogter, nou reeds 23, is gehoorgestremd gebore. Vir Elsje is haar man en hul twee kinders álles, en die nuus oor haar kind se gehoorgestremdheid was vir haar moeilik om te aanvaar.

“Dit was ’n vreeslike ding in my kop,” vertel sy. “Ek was drie maande lank in sak en as.”

Maar praktiese boervrou wat sy is, het sy besluit sy moet haar regruk. “Ek het besef dis my kind, ek is lief vir haar. Sy is ’n sterk kind, sy sal dit maak in die lewe, ek moet haar net ondersteun.”

Die dogter het ouer geword en Elsje-hulle moes verneem dat gehoorgestremde kinders tydens hul tienerjare soms ’n terugslag in hul gehoor kan beleef. Elke jaar is die kind se gehoor in Worcester getoets waar sy op kosskool was, en Elsje was telkens bekommerd oor die uitslag. Totdat sy een nag wakker geword het van ’n stem wat duidelik sê: “Daardie kind se gehoor sal nie verder verswak nie.”

Dit was vir Elsje genoeg. Elke keer wat haar dogter vir ’n gehoortoets gegaan en daarna laat weet het die uitslag is onveranderd, het Elsje geantwoord: “Ek weet.”

“Toe vra my dogter my: ‘Hoe weet jy?’ En ek kon haar die storie vertel.”

“As ek op my knieë staan”

Dis haar kinders wat die bergrand oorkant die opstal “Mammaberg” gedoop het. Vir Elsje, ’n buitelug-mens, was die uitklim van hierdie bergrand saans nadat haar man se werkdag verby is, aanvanklik bloot haar “my tyd”.

“Dit het eers later ook my dink-tyd, my dankie sê-tyd en my bid-tyd geword,” vertel sy.

Daar het twee dinge gebeur wat haar denke oor gebed verander het. Die eerste was ’n CD-snit “On my knees” van die gospelsanger Hanli Slabbert. Verskeie snitte op dié CD het haar hart geroer, sê sy, maar hierdie een het haar geleer jy kan met God praat al is jy in ’n groep.

Die tweede gebeurtenis was ’n ernstige siekbed in 2004. Sy is met geelsug gediagnoseer en die tyd in die bed het haar kans gegee om te dink, om ook oor haar gebedslewe na te dink. “Ek het besef ek rammel saans my gebed af. Sedert ek uit die hospitaal ontslaan is, kniel ek langs my bed, somer en winter. Ek buig elke dag in gebed voor God. En, soos daardie lied se woorde lui, ‘iets gebeur met my as ek op my knieë staan en bid’.”

Só het sy begin om, elke keer as sy op Mammaberg gaan bid, ’n ronde klip daar neer te sit. Met verloop van tyd het haar klipstapeltjie ál hoër geword. Sy het al daaraan gedink om dié gebruik te laat vaar – maar as sy haar kom kry, sit sy nog enetjie by. En sy het noukeurig rekord gehou: Daar is tans 9 141 klippe op daardie klipstapel.

Die volgende dag vertrek die groep. Ons stap met Elsje se klipstapel op Mammaberg deurentyd voor ons in die dynserige verte. Dis ’n bemoedigende baken van hoop op ’n lang, stowwerige plaaspad. Plek-plek sien jy nog die tekens van die lang droogte wat Karooboere soos die Bassons in geloof deurleef het.

* Heléne Meissenheimer was deel van die stapgroep wat die roete gevolg het. Die doel was fondsinsameling vir droogtehulp, en dis gereël deur Diaconia, die gesamentlike deernisbediening van die NG Kerk en die VGK in die Wes-Kaap. Die mikpunt is R600 000, wat aan sewe boeregemeenskappe in die Ring van Beaufort in die Karoo uitbetaal sal word. Enigeen wat hiermee wil help, kan nog tot einde April ’n inbetaling by die volgende rekening maak: Diaconia Droogtehulp Nedbank Rek no. 1135900337 Takkode 198765.

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img