Ruim sélf op – voor jy doodgaan

18 Maart 2021


Wat ’n makabere onderwerp! sal baie sê en summier omblaai. Maar bekyk dit gerus met ’n onbevange oog, en sien die nugtere, gesonde verstand daaragter.

DEUR ILETTE COETZER

Baie van ons is bang om oor die dood te praat. Dit voel amper asof jy op dié manier die noodlot tart. Maar Margaretha Magnusson, ’n Sweedse vrou, het in haar tagtigerjare besef dat dit vir haar en haar geliefdes baie makliker sal wees as sy voor haar dood haar eie huis in orde kry en van onnodighede ontslae raak.

En daar het dit begin, in Swede: döstädning, oftewel “death cleaning”. Om op te ruim met die oog op jou komende dood.

Magnusson skryf in haar boek, The gentle art of Swedish death cleaning: How to make your loved ones’ lives easier and your own life more pleasant, dat dit belang­rik is om krities na jou leefruimte te kyk en van alle onnodighede ontslae te raak. En om dit betyds te doen.

LEES OOK: Deel 4 van aanlyn boekreeks: Dít het my gehelp om te oorleef

Wanneer ’n geliefde sterf, skryf sy, is dit dikwels vir diegene wat agterbly ’n groot beslommernis om dié persoon se aardse besittings op te pak. Hierop het Magnusson die begrip “death cleaning” ontwikkel, waar jy self verantwoordelikheid vir jou aardse besittings neem. Jy gee weg of jy gooi weg.

Is dit werklik nodig?

Hoekom is dit so belangrik om voor jou dood hieraan te dink? Is dit nie ’n bietjie voortydig nie? Nee, sê die skrywer. Dit kan boonop vele voordele inhou. Onder meer:

Dit maak jou gelukkiger. Die proses hoef nie noodwendig morbied of hartseer te wees nie. Terwyl jy besig is om jou lewe eenvoudiger te maak, kan jy fokus op dit wat werklik belangrik is.

Jy bestry chaos. Wanneer jou lewe uiterlik meer georganiseerd word, spoel dit na jou innerlike lewe oor. Rommel en chaos is sinoniem met stres en onproduktiwiteit.

Dit help jou om vrede met jou verganklikheid te maak. Dis nie maklik om oor die dood te praat nie. Die proses om jou lewe en jou leefruimte in orde te kry, kan jou help om te aanvaar dat jy nie vir altyd gaan leef nie.

Jy maak dit makliker vir jou kinders. Soms is dit moeilik om te erken dat jy ouer word en nie meer in staat is om te doen wat jy altyd gedoen het nie. Verlig die druk op jou kinders en kry alles agtermekaar voordat dit te laat is en jy nie meer in staat is om so ’n bydrae te lewer nie.

Waar begin jy?

Die proses kan nie in een dag afgehandel word nie. Dit kan selfs jare duur – mits jy genoeg tyd het.
Dis egter belangrik om regtig goed na te dink oor wat jy iemand anders kan of wil aanbied. Moet byvoorbeeld nie ’n skildery, meubelstuk of ornament aan familielede “afsmeer” nie. Maak seker dat dit wel in die ontvangers se smaak val en dat hulle plek daarvoor het. Jy wil tog nie hê ander mense moet jou vermy omdat hulle bang is dat jy hulle iets in die hand gaan stop nie.

Die doel is ook nie om artikels van een huis na ’n ander te verskuif waar dit ook vergete in ’n kas gaan beland nie. Jy wil waarde tot iemand se lewe voeg, en iets nalaat wat hulle jare later steeds aan jou sal herinner.

Begin by:

Bêreplekke

  • Jy sal dinge besit wat in elk geval ver weggepak is – of dit nou in ’n stoor­kamer, ’n motorhuis of diep agter of bo-op ’n kas is. Wees openlik met jou familie en vriende wanneer jy met die proses begin. Dalk is daar iets wat vir hulle spesiale betekenis het en wat hulle graag sal wil hê.
  • Elke huis het soms ’n hamer, tang, skroe­wedraaiers en alledaagse hardeware nodig. Kyk krities na jou motorhuis en kies items wat jy wel in ’n kleiner woning sal gebruik. Bied die res vir vriende en familie aan, en verkoop of skenk dit wat niemand wil hê nie.

Klere

Verdeel jou klere in twee hope: een met kledingstukke wat jy graag wil hou, en ’n tweede vir klere wat jy nie in die afgelope seisoen gedra het nie. Jy sal verbaas wees hoeveel (of hoe min) in jou kas oorbly …

Kombuis

  • Wees objektief en stel vas wat jy werklik nodig het. As jy byvoorbeeld na ’n kleiner woonstel trek, is dit belangrik om te weet hoeveel plek die nuwe kombuis het. Kyk byvoorbeeld na hoeveel gaste jy daar kan ontvang, en hou soveel borde, messe en vurke uit. Dis regtig nie nodig om vier of vyf eetstelle te hê nie.
  • Die meeste blyplek in ’n aftreeoord se kombuis is klein en prakties ingerig en daar is nie noodwendig plek vir ’n klomp resepteboeke nie. Kies ’n paar gunste­linge en gee die res weg. Byna enige resep kan deesdae met die druk van ’n knoppie op die internet verkry word.

Versamelstukke

Sommige versamelstukke is kosbaar en waardevol. Kontak ’n kenner hieroor, of skenk dit aan ’n museum. Ou poppe of bepaalde stukke breekgoed het dalk nie veel waarde vir ander nie, maar wel vir jou. Dis egter nie altyd moontlik om ’n dosyn teepotjies na ’n aftreeoord saam te piekel nie.

LEES OOK: Pediater met breingewas skryf kinderboek vir sy kleuter voor hy sterf

Daar sal sekere items wees wat al so deel van jou is dat jy nie kans sien om daarvan ontslae te raak nie. Iets wat jou aan ’n spesiale persoon of ’n spesiale geleentheid herinner. “Death cleaning” beteken nie dat jy van alles wat sentimentele waarde het ontslae moet raak nie; bloot om dit minder te maak.

Foto’s

  • Om deur jou foto’s te kyk, kan vir verskeie nostalgiese oomblikke sorg. Jy gaan vir seker ’n paar trane stort, en dikwels glimlag.
  • Hou egter in gedagte dat jou goue herinneringe en jou familie s’n nie noodwendig dieselfde is nie.
  • As jy nie die name van die mense op die foto’s ken nie, sal jou kinders waarskynlik ook nie weet wie hulle is nie. Raak ontslae van foto’s wat nie regtig vir jou of jou familie betekenis het nie.
  • Skandeer of laat skandeer jou geliefde foto’s, plaas dit op ’n USB-stokkie en gee aan elke kind en kleinkind ’n kopie.

Dinge wat jy nié sal mis nie

  • Klere wat nie meer pas nie
  • Beddegoed wat beskadig is
  • Ongemaklike skoene
  • Boeke wat jy vir seker nie weer gaan lees nie
  • Glase en bekers wat getjip is
  • Plastiekhouers sonder deksels
  • Ongebruikte oefenapparate
Wenke wat help
  • Jy hoef nie iets te besit om dit te geniet nie. Magnusson skryf sy het geleer om dinge met haar oë te geniet.
  • Raak ontslae van enigiets wat jou familie ná jou dood sal ontstel of in die verleent­heid sal bring.
  • As jy weet aan wie jy ’n sekere item wil bemaak, byvoorbeeld ’n spesifieke skildery, vertel daardie persoon of laat ’n nota. Jy kan selfs ’n papiertjie met die persoon se naam daarop agter ’n skildery plak.
  • Elke mens het besittings wat vir hom of haar baie beteken, maar vir ander mense niks nie. Dié artikels (dalk ou liefdesbriewe, konsertprogramme, reisaandenkings) moet uiteindelik in ’n boks beland wat VIR WEGGOOI gemerk is. Die familielede kan ná jou dood die boks se inhoud deursoek as hulle wil, maar hulle het jou toestemming om daarvan ontslae te raak as hulle daarmee klaar is.
  • Gee alles wat oortollig is aan mense wat dit nodig het. Daar is groot nood en armoede in ons land.
Begin met ’n lewenslêer
  • Begin ’n lêer met jou begrafniswense. Dit hoef nie negatief en hartseer te wees nie, maar jy sal dit vir jou familie makliker maak as jy jou wense neerskryf.
  • Ons is besig om al hoe meer papierloos te leef. Baie ouer mense maak op die internet staat vir hul aankope en banksake. Dis belangrik om jou wagwoorde iewers neer te skryf sodat jou kinders toegang tot jou dokumente kan verkry as jy nie meer daar is nie.
  • Kry jou papierwerk in orde. Is dit tyd om weer jou testament te hersien?
  • Skryf al jou bankbesonderhede in ’n boekie neer, insluitende polisnommers en begunstigdes se kontakbesonderhede.
  • Hou al jou belangrike dokumentasie bymekaar – ID-dokument, trousertifikaat, huwelikskontrak, titelaktes, verbandregi­strasiedokumente, besonderhede van die mediese fonds, motorvoertuigregi­strasiesertifikate, korttermynverseke­ringskontrakte, vuurwapenlisensies, afskrifte van munisipale dienste- en belastingrekenings, telefoonrekenings en TV-lisensie. Asook die besonderhede van jou boekhouer, huisdokter en ’n begrafnisondernemer.
  • Dis ook belangrik om jou kinders in te lig presies wat om ná jou dood met jou sosiale media-blaaie te doen. Maak seker dat hulle die wagwoorde van jou Facebook- en Instagramblad ken.
Ten slotte

Moenie uitstel nie. Begin nóú om jou lewe te vereenvoudig.

LEES OOK: VIDEO: Vermoorde Charl Munnik se suster gesels oor sy nalatenskap

Dié proses handel nie oor “dinge” nie, maar gevoelens. Jy kan deur jou foto’s, skilderye en meubels jou hele lewe herleef. Jy kan die goeie én die slegte tye onthou en weet dit was deel van jou lewensverhaal.

Daarom: Maak ’n koppie tee, neem die eerste stap.

En luister so tussendeur na David Kramer se “Skipskop” as jy wil:
Pak op, pak op
Sit jou goedjies op jou kop
Môre gaan ons weg,
Ver van hier weg …Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img