Ry die langpad om

 

DEUR SIMONE GAUCHE

O Heer my God,
as ek in eerbied wonder
en al u werke elke dag aanskou:
die son en maan, die aarde, sterre, wolke,
hoe U dit elke dag so onderhou . . .

Ons bly in ’n kusdorpie teen die see, maar ons huis het nie ’n seeuitsig nie. My seuntjie wil elke oggend voor skool by die see verby ry. Aanvanklik het dit my ’n bietjie krapperig gemaak, want dis altyd soggens ’n gejaag om alles onder beheer te kry. Maar my kind het aangehou – en nou het ons al in die gewoonte gekom om so ’n bietjie vroeër te ry. Die langpad om.

Om eers by die see langs te ry, het een van ons rituele geword. Dis ’n tien minute-draai, maar ons sien elke oggend die see. Sommige oggende is dit so mistig dat ons byna niks voor ons kan sien nie; ander oggende is dit so helder dat ons ’n walvis kan sien, of ’n klomp dolfyne wat in die golwe speel.

Wanneer ons so ry, let ons die wolkformasies op, die aard en bui van die see. Ons sien die nuwe blommetjies raak en ons wys mekaar die voëltjies.

En die wonderlike van elke oggend is dat die see nooit soos die vorige dae lyk nie.

Hoe groot is U!

Lied 464 in die Liedboek van die kerk is gebaseer op Carl Gustav Boberg se gedig “O Sture Gud” wat hy in 1885 geskryf het. Dis waarskynlik deur Psalm 8 geïnspireer. Hoe gepas is dit dan, dink ek gereeld, dat die psalmdigter in vers 3 uitroep: “Kinders en suigelinge besing die magtige werk wat U tot stand gebring het.” Ek dink ons kan báie by kinders leer oor die wonder van die natuur, en hoe om dit te geniet.
Iets in ons menswees smag na tyd in die natuur. Dis nie net die skeppingsopdrag wat tot ons spreek nie; ons hunker ook na vars lug, ons wil die son op ons rug voel en die wind in ons hare. Bowenal smag ons daarna om God in sy skepping te beleef.

As ek u hemel aanskou, die werk van u vingers, die maan en die sterre waaraan U ’n plek gegee het, wat is die mens dan dat U aan hom dink, die mensekind dat U na hom omsien?

U laat hom heers oor die werk van u hande, U het alles aan hom onderwerp: skape en beeste, alles; selfs die diere in die veld, die voëls in die lug, en die visse in die see wat die oseane deurkruis. Here, ons Here, hoe wonderbaar is u Naam oor die hele aarde!
(Ps 8:4-5, 7-10)

God se hart

Ons moet opkyk na die berge en besef hoe klein ons is, en om te dink aan hoe groot ons Skepper is.

Ons moet sien hoe klein en onbelangrik ’n mossie is om God se hart te verstaan, Hy wat vir mossies en vir ons sorg.

Ons moet sien hoe ’n lelie sy geel tong uitsteek om te verstaan wat dit beteken dat God ook ons aantrek en versier.
Ons moet ’n ribbok se vlugtige voete sien wanneer hy teen ’n steilte uit hardloop om die krag wat die Here ons skenk, te verstaan.
Ons God is die God van ontmoetings by ’n brandende bos, of wanneer ons in die oop veld ’n klip as ’n kussing gebruik.

Hy ontmoet ook herders in die oop veld om aan hulle die blye tyding te bring.
Hy is die God wat sy almag aan ons openbaar in die natuur – deur tien plae, ’n wolkkolom, en ’n see wat oopgekloof word.

Hy is die God wat die offerlam verskaf as daar geen alternatief in sig is nie.

Hy praat deur ’n groot storm wanneer sy kinders hulpeloos in ’n skuitjie ronddobber.

Hy praat deur droogtes, en deur oorstromings ná 40 dae se aanhoudende reën. Hy praat wanneer die aarde een Vrydag, helder oordag, deur ’n groot duisternis ingesluk word.

God gebruik sy skepping om met ons te kommunikeer – maar as ons nooit in die natuur kom nie, sal ons nie hoor wat Hy sê nie.

Daarom moedig ek jou aan: Kies die lang pad en ry daarlangs om die see te gaan kyk. Stop langs die pad om die veldblommetjies te bestudeer en te bewonder. Staan vroeër op om die son te sien opkom. Hou jou oë en ore oop. Jy weet nooit wat jou Pappa jou wil wys of aan jou wil sê nie.

Dan moet ek juig,
my Redder en my God!
Hoe groot is U, hoe groot is U!
Want deur die hele skepping klink dit saam:
Hoe heerlik, Heer, u grote Naam!

  • Simone Gaucheis ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img