Sampioene, veelsydige kampioene

Sampioene van alle soorte is deesdae in die supermark beskikbaar. Pak gerus daarvan in jou mandjie en gaan kyk wat jy alles daarmee kan optower. Én hoeveel uiteenlopende smake jy met hierdie veelsydige kampioene kan bevredig. DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S: BERNA COETZEE

Rooster die ou grotes
Groot sampioene se tekstuur laat jou amper dink aan dié van ’n stuk sappige steak. Juis daarom is dit ’n gewilde kossoort vir vegetariërs en vegans. Dis egter ewe maklik
om hierdie groot sampioene as ’n interessante bygereg te maak. Sit eenvoudig ’n vulsel wat jy verkies daarop, rooster dit teen 200 °C vir ’n klompie minute – en siedaar!

Probeer gerus een van hierdie moontlikhedeSampioene

  • Geur geroomde maaskaas of roomkaas met vars tiemie of ’n skeppie korrelmosterd en smeer dit op ’n groot sampioen. Rooster dit 10-12 minute lank en sit dit
    dan voor met brosgebraaide spek en roketblare, en ’n lékker draai swartpeper. Vervang die spek met avokado en sit dit as ’n ligte maaltyd of bygereg voor.
  • Halveer ’n klompie kersietamaties en geur dit met suurlemoensap en fyngerasperde suurlemoenskil, gekapte Italiaanse pietersielie en olyfolie. Skep dit op ’n
    groot sampioen en strooi ’n mengsel beleë cheddar- en mozzarellakaas bo-op. Rooster dit totdat die kaas gesmelt is en sit dit met gerookte ham voor. Dis dan
    sommer ’n hele maaltyd! Vervang die tamaties en kaas met bloukaas of camembert, en rooster dit totdat die kaas gesmelt het. Dit is ’n heerlike bygereg.

Kampioenwenke:

  • Koop sampioene so vars moontlik. Dit moet liefs sonder enige merke wees. En onthou om dit liefs in kombuispapier of ’n bruinpapiersak in die yskas te hou; dit
    verhoed dat dit maklik sweet en later muf en sleg raak.
  • Moenie sampioene was nie; hulle is soos sponsies. Vee dit bloot met kombuispapier af. Die groeimedium waarin sampioene geplant word, is heeltemal skoon en steriel.
  • Moet dit tog nie afskil nie, want die meeste van die voedingswaarde lê binne en net onder die skil.
  • Soteer of braai sampioene oor ’n matige tot hoë hitte. Dit moet ’n piepgeluid maak wanneer dit in ’n pan beland; dit beteken die pan het net die regte temperatuur.
  • Moenie te veel olie gebruik nie; sampioene absorbeer dit.
  • Panbraai dit in sarsies. Te veel daarvan op een slag verlaag die pan se temperatuur en dan verloor die sampioene vog. En dan begin dit kook.
  • Sampioene bevat baie water – wat die rede verklap waarom dit soveel krimp wanneer dit gaar word. Moet dit dus nie oorgaar maak nie.
  • Wilde sampioene word ook al hoe gewilder – maar onthou tog dat jy beslis ’n kenner moet wees as jy dit in die veld wil gaan pluk!

Pasta met sampioene en kruie
Resep aangepas uit Maak vyf
Lewer 4-6 porsiesPasta met sampioene en kruie

Pasta met ’n eenvoudige maar geurige sous is ’n heerlike en vinnige ete. Vir dié resep word geklitste eiers by die warm pasta geroer om ’n soort sous te vorm;  dit laat jou nogal aan ’n tipiese Carbonara dink. Sampioene, ’n bietjie kaas en vars kruie is dan al wat verder nodig is.

Jy benodig

  • 75 ml (5 e) olyf- of avokado-olie
  • 250 g Portabellini’s, in kwarte gesny
  • Sout en swartpeper na smaak
  • 300 g linguini (of spaghetti of tagliatelle of enige ander dun pasta)
  • 100 g dun groenboontjies, in die breedte gehalveer
  • Sap van een suurlemoen, of na smaak
  • 3 eiers, deeglik geklits
  • 2 hande vol babaspinasie, grofgeskeur
  • 80 ml (¹⁄³ k) gerasperde wit cheddarkaas of pecorino
  • 10 ml (2 t) elk grofgekapte vars Italiaanse pietersielie en origanum, of basiliekruid
  • ’n Hand vol geroosterde amandelsplinters (kyk by wenke hierlangsaan)
  • Suurlemoenwiggies om mee voor te sit

Jy maak só

  1. Verhit 15 ml van die olie in ’n pan oor matige hitte, en soteer die sampioene tot goudbruin. Geur na smaak.
  2. Bring ’n groot kastrol vol water tot kookpunt en geur dit met sout. Kook die pasta sowat 10-15 minute lank, of tot byna sag. Voeg die groenboontjies by en kook
    dit nog ’n paar minute lank saam met die pasta tot net gaar (oftewel al dente).
  3. Dreineer die pasta en groenboontjies in ’n vergiettes, maar behou ’n paar eetlepels water in die kastrol. Plaas die pasta terug in die kastrol en roer die suurlemoensap en orige olie goed daarin deur.
  4. Stel die plaat op ’n lae temperatuur, geur die eiers en roer dit versigtig by die pasta. Die eiers sal gaar word en die pasta beter bind.
  5. Roer die spinasie, kaas en kruie dadelik by en geur dit na smaak. Strooi die geroosterde amandels oor en sit dit voor met ’n ekstra skeut olie en die suurlemoenwiggies.

Wenke

  1. Gebruik ’n verskeidenheid groen groente wat vir jou lekker is. Broccoli, aspersies en ertjies is ook heerlik saam met die res van die genoemde bestanddele.
  2. Vervang die origanum met vars kruisement; dit werk baie lekker saam met groen groente.
  3. Suurlemoengegeurde avokado-olie is heerlik in hierdie pastagereg.
  4. Rooster die sampioene in die oond teen 220 °C – as die oond dalk vir iets anders ook aangeskakel is. Meng die sampioene met olie en geur dit na smaak. Rooster dit tien minute lank op ’n bakplaat wat met bakpapier uitgevoer is.
  5. Rooster die amandelsplinters in die pan voordat die sampioene gesoteer word. Of rooster dit ’n paar minute lank in die oond as dié in elk geval aangeskakel is. Hou die neute fyn dop;  dit brand maklik.

Gemarineerde sampioene met tamatie en bocconcini
Lewer 4-6 porsiesGemarineerde sampioene met tamatie en bocconcini

Sampioene se uitstekende vermoë om ander geure te absorbeer, maak dit die ideale bestanddeel om te marineer. Sulke gemarineerde sampioene is boonop veelsydig, want dit kan as deel van ’n slaai of net so as bygereg gebruik word. Sny dit kleiner en gebruik dit in koeskoes of op ’n peuselbord. Of tower ’n gewone groen slaai daarmee om tot ’n gourmet-slaai.

Gemarineerde sampioene

Jy benodig

  • 90 ml (6 e) olyf- of avokado-olie
  • 60 ml (¼ k) balsamiese of rooiwynasyn
  • 30 ml (2 e) suurlemoensap
  • 10 ml (2 t) korrelmosterd
  • 20 ml (4 t) elk gekapte vars basiliekruid en Italiaanse pietersielie
  • Swartpeper na smaak
  • 250 g heel babasampioene of knopiesampioene, in kwarte gesny

Slaaibestanddele
Jy benodig

  • 400 g verskillende klein tamaties, heel of gehalveer
  • 150 g bocconcini-kaas (mozzarellaballetjies), grofgeskeur. Of fetakaas
  • ’n Hand vol mikrokruie

Jy maak só

  1. Sampioene: Meng al die marinadebestanddele saam en geur dit met peper na smaak. Meng dit met die sampioene en laat marineer dit minstens 30-60 minute lank.
  2. Slaai: Skep die sampioene, tamaties en kaas op ’n bord en strooi die mikrokruie oor. Sit dit met van die marinade as slaaisous voor, indien so verkies. Dis ewe lekker
    as bygereg, ’n slaai of selfs as ’n ligte voorgereg.

Groente-roerbraai met Oosterse geure
Lewer 4 porsiesGroente-roerbraai met Oosterse geure

Vars gemmer, ’n bietjie heuning, suurlemoen en sojasous, alles met Chinese vyfspeserymengsel gegeur, is ’n bekende kombinasie van Oosterse geure. En dit is veral lekker saam met sampioene en groen groentes. Maak hierdie vinnige roerbraai vir ’n bygereg saam met vis of hoender of varkvleis.

Sous
Jy benodig

  • 15 ml (1 e) sojasous
  • 10 ml (1 t) heuning
  • 30 ml (2 e) olyf- of avokado-olie
  • 10 ml (2 t) varsgerasperde gemmer
  • 2,5 ml (½ t) Chinese vyfspesery-mengsel*
  • 20 ml (4 t) lemmetjie- of suurlemoensap

Groente
Jy benodig

  • 15-30 ml (1-2 e) olyf- of avokado-olie
  • 400 g bruinsampioene, in dik skywe gesny
  • 6-8 dun sprietuie met groen blare, in dik diagonale skywe gesny
  • 1 rooi soetrissie, ontpit en in dun skyfies gesny
  • 300 g langsteel-broccoli
  • 30 ml elk swart sesamsaad en geroosterde wit sesamsaad
  • Sout en varsgemaalde swartpeper, en lemmetjie- of suurlemoensap na smaak

Jy maak só

  1. Sous: Klits al die bestanddele in ’n glasbeker saam en hou dit eenkant.
  2. Groente: Sny al die groente voordat die gaarmaakproses begin. Dit maak die kookwerk net soveel makliker.
  3. Verhit die helfte van die olie oor mediumhoë hitte in ’n groot, vlak braaipan, en soteer die sampioene 2-3 minute lank totdat die meeste van die vloeistof verdamp het. Skep alles uit en hou dit eenkant.
  4. Soteer die sprietuie en soetrissie in dieselfde pan totdat dit net sag is. Voeg die broccoli en sampioene by en roer dit af en toe totdat die broccoli gaar maar steeds heldergroen is. Voeg nog olie by indien nodig.
  5. Giet die sous oor die groente en roer dit goed deur totdat alles verhit is. Sprinkel die sesaamsaad oor en geur dit na smaak. Sit dit dadelik voor.

*Chinese vyfspeserymengsel is by die meeste supermarkte beskikbaar.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img