DEUR LIANA KOTZE

Ek staan en bekyk die wêreld deur my kombuisvenster vroeër die week. Ek sien my buurvrou is besig om gras te sny. Sy is oor die 60-merk in jare, maar regop. Gewoonlik help my Pumba haar, maar met inperking is dit nie beskore nie, en ek glo dis ‘n manier om van haar frustrasies ontslae te raak, so sy bewerk die grassnyer met passie.

Liana Kotze glo daaraan om altyd haar “lippe op te sit” met alles wat sy aanpak.

Ek dink terug aan ‘n damesoggend in 2014, ”n bekende persoonlikheid vertel dat sy tydens haar vorige lewe in Portugal die gras gesny het, terwyl sy ‘n rojale lewe gelei het, maar dat sy dit “topless” gedoen het. Almal snak na hul asem, wat ‘n beeld is dit nie! Al deel sy ons mee dat sy dit net as deel van ‘n showpiece gedoen het.

Die dag wat jy gestroop word

Soos ek na my buurvrou kyk, wonder ek oor al hierdie dinge. Of jy dit nou mét klere of sonder ‘n toppie doen, die gras moet gesny word. Die verskil is, die dag as jy gestroop word en nie ‘n keuse het nie, hoe gaan jy dan die pad aanpak? Daardie “topless” grassny is ook gestroop wat die persoonlikheid genoop het om die gras op ‘n ander manier te sny.

Om die pad kaalkop aan te pak

Ek krap tussen my foto’s en kom af op ‘n foto, nie sonder ‘n toppie nie, maar kaalkop. Ek onthou die eerste dag dat ek kaalkop inkopies moes gaan doen. Dit het my ‘n halfuur geneem om moed te skep, maar die huismense moes kos kry, so ek moes uit die motor klim. En so het die dag ook aangebreek dat ek my kollegas moes ontmoet, nogal met ‘n hoed.


Lees nog getuienisse hier.


Die verskil wat helder lippe maak

Liana Kotze vertel dat om “haar lippe op te sit” haar gehelp het om rustig te raak. Foto: Juliana Malta ©

Ek het met elke chemo-sessie probeer op-dress, met lekker lippe. Dit was my manier om die sessie aan te pak en om die taak vir die mediese personeel ligter te maak. Asof ‘n paar helder lippe ‘n verskil sou maak, en bygesê, het ek hul laat verstaan dat ek baie besig was en die sessie moes inpas om hul nie te verontrief nie.

Ek het nie vir hulle gesê dat ek na die sessie – met lippe en al – op die bed neergeval het vir die volgende paar dae nie. Maar ek glo die lippe was nodig. Dit het gehelp om my rustig te maak; met of sonder hare of wimpers of wenkbroue.

Mag elkeen wat vandag ‘n bietjie gras moet sny, dít doen, al voel jy “topless” of haarloos, sit asseblief net jou lippe op …

 


LEES OOK: My kankerpad: ‘Twee engele, vrees en God se liefde’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail