Só kan jy (dalk) haarverlies keer

Van bossiekop na kale eierdop? Nee, nie noodwendig nie; jy kán dit (dalk) keer.

Deur Salomé Delport

Ons hare is óns. Met jou stylvolle, elke-haartjie-op-sy-plek-kapsel of guitige, skokpienk kleurstrook wys jy immers die wêreld wie jy is. Geen wonder nie die meeste van ons voel skaam-naak as ons haredos kwyn.

Dokters identifiseer twee soorte haarverlies: geleidelik of skielik.

As daar skielik ’n hand vol hare op jou kussingsloop lê, het jy die toestand bekend as telogeen effluvium. Dit beteken jou haarfollikels het seergekry. Dit gebeur dikwels tydens kankerbehandeling en soms weens skok. Die follikels sal wel herstel – en jou haredos ook.

LEES OOK: Word jou hare yler? Hier is die 5 redes

Indien jou hare egter geleidelik minder word, dui dit op kwynende follikels wat nie meer hare kan produseer nie. Dit is tipies van androgenetiese alopesie, soos die medici manlike en vroulike haarverlies noem. En dit gebeur wanneer ons gene, hormone en ouderdom saam daaragter sit.

Gelukkig word baie navorsing hieroor gedoen, en taamlik suksesvolle oplossings is reeds daarvoor ontwikkel. Hier is vier daarvan:

Vitamiene

Jy het ongeveer 100 000 haarfollikels. Min of meer 90% van hulle is aktief en elkeen produseer ’n haar wat groei. Sodra ’n haar uitval, “rus” sy follikel so twee tot vier maande voordat dit ’n nuwe haartjie uitstoot.

haarverlies-foto
As daar skielik ’n hand vol hare op jou kussingsloop lê, het jou haarfollikels seergekry.

Jou haarfollikels het vitamiene en minerale nodig. Die regte aanvullers kan dus help om jou hare ná tydelike haarverlies te laat herstel, of permanente haarverlies uit te stel. Dit is die bekostigbaarste oplossing.

Maar werk dit?

Volgens ’n 2019-oorsigartikel lyk die bevindings só:

Vitamien D en yster (mits jy wel ’n ystertekort het) help werklik, en dit word vir alle soorte haarverlies aanbeveel.

Sink, foliensuur, vitamiene B2 en B12 het potensiaal, maar daar is min goeie bewyse dat dit suksesvol is.

Vitamien E en biotien wys die minste sukses.

Te veel van sekere vitamiene kan selfs tot haarverlies ly, soos selenium en vitamien A.

Plaatjieverrykte plasma (PRP)

Met hierdie nuwe, opwindende tegniek word jou eie bloed getap, die bloedplaatjies daarin word geoes, en dan word dit in jou kopvel gespuit ten einde die haarfollikels te stimuleer. Gewoonlik word dit drie keer oor drie maande gedoen, en daarna elke ses maande.

Is dit alles die geld en die pyn werd?

Volgens ’n oorsigartikel wat in April 2020 verskyn en wat 163 ondersoeke geëvalueer het, het 84% daarvan positiewe gevolge opgelewer. Maar net die helfte se uitslae was statisties beduidend, met ander woorde méér as moontlike toeval. Daarby het 17% van die ondersoeke geen positiewe uitwerking vasgestel nie.

Tog het 34% van die ondersoeke uitgewys dat PRP haardigtheid en haardikte verbeter. Dit lyk dus asof die graad van haarverlies hier belangrik is, want twee keer meer mense met min haarverlies het goed op PRP gereageer.

PRP lyk belowend, en met verdere navorsing kan dit net verbeter. Dis een van die belowendste opsies as jy androgenetiese haarverlies het.

Laserbehandeling

Mat laevlak-laserbehandeling (oftewel “low level laser therapy”) word die stamselle in die haarfollikel gestimuleer om nuwe hare te vorm.

Is dit doeltreffend?

Dit hang van die soort laser af. In een Amerikaanse ondersoek by middeljarige vroue met androgenetiese haarverlies het die deelnemers ná 16 weke se behandeling gemiddeld vier keer meer aktiewe haarfollikels gehad.

Wat meer kan jy vra?

Maar twee ander ondersoeke wat met die laserkam gedoen is, het min sukses gewys.

Die slotsom? Niks is gewaarborg nie, maar met die regte soort laser bestaan daar ’n kans op sukses.

 Medikasie

Haarverlies kan verband hou met ’n siekte soos lupus, met skildklierprobleme en nierversaking. Daarom moet jy eers by jou dokter uitvind waarom jou hare uitval.

Daar is tipies twee soorte medikasie wat ’n medikus kan voorskryf:

aanwendmiddels soos rome, tinkture en sjampoe wat progesteroon, minoksidiel of ander medikasie bevat.

medikasie wat die manlike andro­geniese hormone teenwerk.

Werk hierdie medikasie?

’n Onlangse groot oorsigondersoek het bevind dat net minoksidiel ’n klein tot matige uitwerking het. Daar is ook een “vangplekkie”: Dit werk net terwyl jy dit gebruik. Ná ses maande daarsonder is jy weer terug waar jy was.

As net tyd en gesonde selfliefde help …

Vir sommige van ons gaan niks help nie. Dan het jy net twee opsies: tyd en aanvaarding.

As jy telogeen effluvium het, is tyd die suksesvolste geneesmiddel. Die beseerde follikels herstel gewoonlik self, en dit sal jou binne ses maande met ’n nuwe haredos verras. Tot dan is oulike hoedjies, interessante serpe of ’n pruik ’n maklike uitweg.

As jy egter stadige haarverlies het, dit wil sê androgenetiese alopesie, is dit moontlik onomkeerbaar, want die genoemde terapieë werk nie vir almal nie.

Dan is die beste raad gesonde selfliefde. Jy is mos darem baie, baie meer as bloot ’n bos hare! En maak gerus interessante kopdoeke, hoede of pruike deel van jou identiteit.

 Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img