DEUR LINDI SOROUR

Dit is net na Paasnaweek en ons is byna op die einde van drie weke se sosiale afsondering hier in Engeland. Drie weke gelede het drie weke baie lank geklink maar, soos met meeste dinge in die lewe, is dit redelik vinnig verby.

Die lente het aangebreek, die son skyn en dit word heerlik warm hier. Ons spandeer dus aansienlik meer tyd buite in die tuin. Dankie tog ons het ‘n tuin!

Ek moet bieg dat ek die sosiale afsondering tot dusver nie so erg ervaar nie, maar ek glo daar is heelwat redes hiervoor.

As voltydse tuisblyma van 4-jarige tweelingdogtertjies, het my lewe in werklikheid nie te veel verander nie. Natuurlik mis ek die 12 ure per week wat my meisies kleuterskool toe gegaan het en ek kosbare “alleentyd” gehad het. Dit is wanneer ek oefening kon doen, huisskoonmaak of kruideniersware in vrede kon gaan koop.

LIndi Sorour en gesin

Lindi en haar man Shane Sorour, albei oorspronklik van Natal, saam met hulle tweelingdogtertjies Daniella en Charlotte. Foto verskaf

Anders as in Suid-Afrika, mag ons eenkeer ’n dag die huis verlaat. Om te gaan stap of oefeninge te doen, solank jy net loopafstand van jou huis bly. Hiervoor is ek baie dankbaar, vir ons hele gesin se gemoedstoestand. Daar is ook maar dae wat ‘n mens lekker ingehok voel en jy nie altyd dadelik besef wat dit is wat jou pla nie. Maar more is nog ‘n dag en dan gaan jy weer aan en voel jy beter.

My dogtertjies begin Septembermaand met “groot skool”. So ek probeer maar aanhou met goedjies wat hulle by die kleuterskool geleer het – soos syfers lees en tel, die alfabet en klanke leer. Ons doen baie kunswerk, lees boeke en maak ons eie stories op. Ek sit egter nie te veel druk op hulle of op my nie, en ons maak baie tyd vir speel. Hulle help ook my en my man graag in die tuin of in die kombuis.


Lees nog getuienisse hier.


My man werk ook vir die laaste drie weke van die huis af en ons geniet die ekstra tyd saam met hom vreeslik baie. Al is dit net ‘n vinnige hallo hier en daar.

Dit is ongelooflik hoe klein kindertjies die nuwe omstandighede net aanvaar. Hulle verstaan dat ons nie op die oomblik êrens heen mag gaan of maatjies mag sien nie. Natuurlik sien en kyk hulle hoe ons as ouers die nuwe omstandighede hanteer, maar ek glo hulle geniet die kwaliteit-tyd saam met ons vreeslik baie. Ek en my man kry ook nou kans om oor naweke aan ons tuin te werk, en ek is besig om ou eetkamerstoele, wat ons op veiling gekoop het, af te skuur, oor te verf en nuwe lewe te gee.

Ons lewe in ‘n onsekere en vreemde tyd, waar ons gevra word om by die huis te bly om onsself en ons medemens te beveilig. Die ekonomie van die werêld gaan ongetyweld baie swaarkry as gevolg van COVID 19, maar ek glo en vertrou dat die Here ons hierdeur sal help. Jesaja 41:10 is my gunsteling-Bybelvers en ‘n vers waarna ek altyd verwys in moeilike tye.

“Moenie bang wees nie, Ek is by jou, moenie bekommerd wees nie, Ek is jou God. Ek versterk jou, Ek help jou, Ek hou jou vas, met my eie hand red Ek jou.”

Ek is dankbaar vir die rustigheid en die gesinstyd, dat ons eenkeer ’n dag mag gaan stap met ons dogtertjies en die kreatiewe tyd wat volg. Ons sal hier deurkom.

LEES OOK: Lockdown: Van jaag en oorleef na rus en leef

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail