DEUR PHILIP COETZEE

Somtyds gebruik God die harde en naakte werklikheid om ’n mens tot luister of gehoorsaamheid te ruk, jou uit jou gemaksone te laat beweeg sodat Hy jou die werklikheid van menswees in Christus kan laat besef.

Ons noem dit ook beproewing: waar daar ’n uitkoms is volgens God se wil en nie ons wil nie. Met ander woorde, somtyds vra ons vir ’n vis, maar kry ’n visstok. Hy stel jou nie teleur nie, maar gaan jou nie met ’n lepel voer nie. Hy gaan jou leer hoe om die lepel te gebruik en ook hoe om vis te vang. Daarom is dit belangrik om te kan luister as God, deur middel van die Heilige Gees, met ons praat, as Hy vir ons sê watter kant van die skuit ons vis moet vang. Maar luister ons?

‘Kolle so groot soos gholfballe’

So ’n paar maande gelede is ek gediagnoseer met aggressiewe longkanker. Daar was twee kolle so groot soos gholfballe op my linkerkantste lob en ek was onder die toesig van drie spesialiste. Ek is opgeneem in die intensiewesorgeenheid te midde van die hoogtepunt van die Covid-19-krisis, waar verskeie monsters uit my long geneem is vir ontleding ter bevestiging van die diagnose. Op die sewende dag het hulle besluit om groter monsters te neem om weg te stuur vir verdere toetse, maar om ’n behoorlike monster te kry uit die twee kolle, moes hulle ’n groot genoeg snit onder my arm maak sodat die chirurg sy instrumente kon gebruik. Die uitslae sou eers vyf tot sewe dae later terug wees van die patologielaboratorium.

Philip Coetzee getuig dat hy onlangs tot die werklikheid geruk is, en werklik besef het wat menswees in Christus is. Foto verskaf

’n Dag later het daar ’n verskriklike ding met my gebeur: Die oggend, net na nog ’n skandering en X-stralesessie, lê ek in die bed met my oë toe. Ek gaan in hierdie diepste donkerste duisternis in, die ergste vrees en eensaamheid pak my beet. Dit is die verskriklikste onbeskryfbare gevoel wat my vasgryp. Ek dwing my oë oop om seker te maak dat ek nie droom nie, en ek bid ernstig tot God om my te help uit hierdie angswekkende onwerklikheid wat ek soos ’n werklikheid beleef. Ek ondervind dat God in die vertrek is, maar Hy staan met sy rug na my gekeer. Hoe meer ek bid hoe meer besef ek dat God nie na my luister nie, en elke keer as ek my oë toemaak, ondervind ek dieselfde onheilspellende gewaarwording en angs. Ek wens ek kon eerder dood wees, wanneer hierdie verskriklike godverlate duisternis kan net erger as die dood wees!

Wonderbaarlik genees

So skielik as wat alles gekom het, so skielik is alles weg. Daar kom ’n rustigheid oor my en toe ek bid kon ek voel hoe God omdraai en na my luister. ’n Gevoel van verlossing van die ewige duisternis, beskerming en vertroosting in die arms van my Heer … dit was oorweldigend. Dieselfde middag kom die pulmonoloog na my toe en sê dat die laaste skandering en X-strale wys dat die donker kolle verdwyn het en dat dit onverklaarbaar vir hom is. Natuurlik was ek oorstelp met blydskap en deel hom mee dat daar ’n verklaring daarvoor is: Die God wat ek dien is groot en dit is sy handewerk. Op die negende dag het hulle weer X-strale laat neem sowel as bloedtoetse, en alles was skoon sodat ek op die tiende dag kon huis toe gaan.

LEES OOK: Waardeer wat jy het

’n Week later het ek die chirurg gesien en hy en die pulmonoloog het my meegedeel dat die patoloë net so verbaas is, want die eerste dag se toetse het by ’n later toetsing onverklaarbaar verander. My God is groot, want ek het die hele tyd gebid dat Hy my lyding draagbaar sal maak. Hy het meer gedoen, Hy het my wonderbaarlik genees. Maar ek kon nog steeds nie verstaan hoekom Hy my so “geteister” het deur my in daardie afgryslike godverlate donkerte in te stuur nie, en ek het baie geworstel daarmee. ’n Paar dae later het Hy my met insig gevul.

Die insig en boodskap

Ek lees uit prof Hermie van Zyl en prof Francois Tolmie se verklaring oor Matteus 27:46 en Markus 15:34 en skielik begin ek verstaan. Wanneer Jesus uitroep: “My God, my God, waarom het U my verlaat?” weerspieël dit Jesus se absolute, uiterste verlatenheid, en ’n uitroep na sy Vader. Ons moet verstaan dat dit nie ’n roep van ongeloof in die nietigheid in is nie, maar ’n besonderse diep gebed wat uitdrukking gee aan hoop teen alle hoop in. God doen dit ook vir ons as ons lyding en beproewing ervaar. Met ander woorde, ons moet die dimensie van verlatenheid vanuit ’n ander hoek beskou. Soos Jesus in die klag van Godverlatenheid aan God vashou, “my God!”, so moet ons ook onthou dat God ook ons God is en ons nooit sal verlaat nie. God het juis Jesus se klag so verhoor dat Hy aan Jesus sy lewe teruggegee het.

Ook moet ons verstaan, soos Hermie verduidelik: Hierdie gebeure aan die kruis is ook om die katastrofale gebeure van die eindtyd te beskryf, dus, die finale wending wat verwys na Jesus se tweede koms. Met ander woorde, ek moes ook verstaan dat dit wat ek ervaar het, ’n wekroep vir my is om die boodskap van Jesus se tweede koms uit te dra. ’n Wekroep om bekering, want die tyd is min: Hoe lank gaan ek of jy nog lewe? Onthou, by ons dood het die eindtyd reeds aangebreek vir ons, daar sal nie ’n tweede kans wees as ons saak nie reg is by God nie. Maak gebruik van jou lepel en visstok. Jou handleiding hoe om dit te gebruik is die Heilige Skrif, die Bybel! Amen.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail