DEUR JAUN-RENÉ FOURIE

Spieëltjie, spieëltjie in my hand, wie is die mooiste in die land? Het jy al ooit gevoel dat jy niks werd is nie? Dat omstandighede, jou verlede, mense se opinies – selfs dié naby aan jou, jou laat verstote voel? Alleen? Verlaat deur mens en verlaat deur God.

Ons almal hou van stories, veral dié met ’n goeie einde. Meeste stories het goeie en slegte karakters. My storie begin 40 jaar gelede. Ek word gebore sonder ’n pa en sonder God. My mamma word gestenig, want in daardie tyd was dit onaanvaarbaar om as ongetroude vrou swanger te word. Tog, soos God vir Moses sorg, stuur Hy iemand wat die eerste vyf jaar van my lewe die grondslag lê vir dit wat sou kom.

“Die onstabiliteit in my kinderdae en die wortel van verwerping het gemaak dat ek my identiteit begin soek het in mense se goedkeuring. Deur dit alles was ek vasbeslote om ’n manier uit hierdie pyn te vind, selfs al sou dit my lewe kos,” sê Jaun-René Fourie. Foto verskaf

My ma se ridder op die witperd kom red nie net vir haar nie, maar belowe ons ’n lewe van stabiliteit en standvastigheid. Ek kry selfs ’n boetie uit hierdie transaksie. Vinnig verander hierdie feëverhaal in ’n nagmerrie. Ons dae word geken deur dreigemente, fisiese en verbale mishandeling. Die ridder op die witperd word skielik die reus wat voor Dawid staan en hom uitdaag en herinner aan al sy tekortkominge. Anders as Dawid het ek nie vyf klein klippies gehad nie. Na jare se mishandeling kry my ma haar een klippie en kry sy genoeg moed om van hierdie reus in ons lewe ontslae te raak. Die sisteem laat my in die steek en ons moes vakansies na hom toe gaan. Ek sien nou nog my boetie buite speel deur die venster, ek ruik die Bloureën en ek voel sy koue hande oor my lyf streel. Ek glo elke belofte – as ek iemand hiervan sou vertel, sou hy dié vir wie ek die liefste was vernietig.

Die onstabiliteit in my kinderdae en die wortel van verwerping het gemaak dat ek my identiteit begin soek het in mense se goedkeuring. Deur dit alles was ek vasbeslote om ’n manier uit hierdie pyn te vind, selfs al sou dit my lewe kos. Op hoërskool word ek gediagnoseer met Anoreksia Nervosa. ’n Eetversteuring wat in ’n mate my manier was om beheer te kry oor ’n wêreld wat ek nie verstaan het nie. ’n Wêreld waarin ek weggehardloop het vir die reuse wat gebore was uit my eie seer. Dit is wanneer daardie reus hom tuismaak in jou kop, dat hy jou die meeste begin intimideer en dan later vernietig. Met elke gebeurtenis het ek my spieëltjie laat val en met elke val het die krake net groter geword.

Ek het soos Dawid in Psalm 142:5 uitgeroep: “Ek soek hulp, maar niemand wil help nie, daar is vir my geen vlugkans nie en niemand gee om vir my nie.” Mense wat emosionele pyn verduur, voel dikwels dat niemand omgee nie. God weet egter en Hy gee om. Ons vra dikwels: “Waar was God toe hierdie seer plaasgevind het?” Die antwoord is dat Hy daar was. Ek moes van vooraf leer om God te vertrou en sy beloftes my eie te maak.

Lees ook: ‘Sy is nie minder nie’

So voltooi ek my honneurs in sielkunde aan die Universiteit van die Vrystaat. Ons almal ken mos die gesegde dat die motorwerktuigkundige se motor altyd in die ergste toestand is. In my eie gebrokenheid wou ek ander mense red, terwyl ek self besig was om te sink. Ek doen aansoek om my meestersgraad te voltooi en ten spyte van baie goeie punte, kry ek nie keuring nie. Weer val my spieëltjie en voel ek eerder soos God se weggooikind as sy meesterstuk. In my eie soeke na antwoorde begin ek teologie studeer. So begin my eie genesing. Amper asof God my seer ’n doel gee …

Intussen het ek my eie ridder op die witperd ontmoet, wat my verder help skryf het aan my verhaal. Uit ons huwelik gee God vir my die grootste geskenk ooit, vir die eerste keer verstaan ek wat dit beteken as mense sê jou hart loop buite jou lyf rond. Twee jaar na haar geboorte het ons pad met infertiliteit begin. Nou was dit nie net my begeerte nie, maar hoor ek steeds elke aand hoe sy bid vir ’n boetie of ’n sussie. Sy het eers baie spesifiek gebid vir ’n boetie en later was dit net ’n opregte smeking na enige iets solank sy net nie meer alleen is nie.

In 2017 word ek gediagnoseer met variegate porfirie (VP). Dit is oorerflik en word van een generasie na die volgende oorgedra. Slegs sowat 10% van gevalle het simptome. Kort na my infertiliteitsbehandeling het die simptome begin. Sonder enige kennis van hierdie siekte wat soos melaatsheid aan jou vel vreet en van een dokter na die volgende, is ek gediagnoseer. In Afrikaans – ek is allergies vir die son en sensitief vir allerlei bronne van lig. Ons bly in Suid-Afrika, ek hou van die son en die see en buitewees. So het my pad begin waar ek myself aanvanklik baie jammer gekry het. Ek het myself onttrek van mense  omdat die sere my lyf oortrek het. Ons is voltyds in die bediening wat dit baie moeilik gemaak het. Weer was ek op my knieë gedwing voor my reus en weer het ek my klippie opgetel en my God gesmeek. Een van die grootste dinge waarmee ek geworstel het, is waar hou geloof op en waar begin jou eie aksies. Ek moes ’n keuse maak om myself te herinner aan God se getrouheid en krag in die verlede.

Elke pasiënt reageer anders en daarom is die behadeling kompleks. VP-lyers mag net beperkte medikasie neem en daarom het ek besluit om die natuurlike roete te volg. Ek moes leer om na my lyf te luister. Ek het begin eksperimenteer met diëte. Ek het sekere kossoorte begin vermy. Ek kom steeds in die son, dit is onvermydelik. Ek weier om nie na my dogtertjie se netbal te kyk of om tyd saam met my gesin buite te geniet nie. Ek is nie onverantwoordelik nie, maar ek lewe. My sere is onder beheer en as ek soms na ander mense kyk wat ook VP-lyers is, weet ek God is goed vir my.

In my storie het ek geleer daar is reuse, maar ek het ook geleer dat God die enigste klippie is wat ek nodig het om daardie reus te verslaan. Die duiwel wil jou laat glo dat die lelike eendjie nooit sal verander in ’n swaan nie. Die klimaks van die verhaal is: God het elke stukkende deel van my spiëel in my hand gevat en die mooiste mosaiëk daarvan gemaak. Ek moes net leer om die spiëel in sy hande te vertrou. Neem sy hand, staan op en leef, want hulle sal teen jou veg maar jou nie oorweldig nie, want Ek is by jou, Ek sal jou red (Jer 1:19).

  • Stuur jou getuienis en foto na lig@tydskrifte.co.za. Bydraes moet nie langer as ʼn 1 500 woorde wees nie. Alle verhale word op www.lig.co.za gepubliseer en sommige in LiG se gedrukte weergawe.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail