DEUR HALRIKA BREYTENBACH

Ek hou van stories. Goedvoelstories met ‘n mooi einde. Dis mos verkwikkend om soms weg te glip na ‘n verbeeldingswêreld ver hiervandaan. Nog beter as daar ‘n morele les te leer is waaraan jy kan herkou terwyl dit salf aan jou siel smeer.

Ek en my gesin is nie juis kranige televisiekykers nie. Dieselfde televisie wat ons gekoop het as jong getroudes, het ons twee jaar gelede weggegee. Die blymoedige ontvanger sou ten minste meer nut vir die toestel hê wat by ons net ‘n wit olifant was. Die televisie se bynaam was hoeka “Noag se ark”, weens sy ouderdom en vierkantige blokvorm.

Maar tog, moet ek darem bysê, het Noag se ark op sy dag vir ons baie vreugde verskaf. In die dae van die videomasjien (met VHS-videobande), het ons graag by ons gunsteling videowinkel gaan video’s uitneem. Later is die videomasjien met die meer moderne DVD-speler vervang en Noag se ark het getrou sy diens gedoen om ons te vermaak. Hy het vir die kroos stories vertel en liedjies gesing, en vir my en manlief “date nights” in ons eie huis geskep.

Deesdae hou ek en ons dogter graag “girls night” met ‘n prinsesfliek en ‘n bak springmielies. (Natuurlik is Noag se ark nou vervang deur die rekenaar.) Ons raak verlore in ‘n wêreld van koninklikes wat in kolossale paleise woon. Verlustig ons aan hul deftige klere, perfekte grimering en die sprokiesagtige eindes.

Die meeste dogtertjies droom graag oor daardie prinses-wees. Die mammas ook! Want wie wil nou nie ‘n handvol diensmeisies hê om die huis vir jou skoon te maak en ‘n privaat-sjef wat vir jou dekadente feesmaaltye voorsit nie?

Hierdie dagstukkie is deel van ‘n reeks. Ander dagstukkies:

Horisonne en dankbaarheid

Die skottelgoedwasser en dankbaarheid

Juwele, ‘n nuwe normaal én dankbaarheid

Die afgelope week het ek twee maal min of meer dieselfde droom gedroom: Ek was by ‘n bal. Ons is in ‘n paleis, almal deftig aangetrek vir die swierige geleentheid. Die diensknegte kloek om my en wil die heeltyd weet wat hulle kan doen om my te behaag. Hoe meer ek verduidelik dat ek regtig niks nodig het nie, en net ‘n gas by die geleentheid is, hoe meer vra hulle wat ek benodig of wat hulle vir my kan doen.

Die volgende oomblik kom ek tot die besef: Ek is die Koning se vrou! Ek is die koningin by die geleentheid.

Ek word wakker en gesels dadelik met God oor die droom. Dalk het ons een té veel prinsesflieks in grendeltyd gekyk, het ek glimlaggend gedink. Maar ek hoor dadelik Heilige Gees se fluistering: “Jy is nie net ‘n gas nie. Jy is myne. Jy is deel van my adelstand. Neem jou outoriteit op.”

Tranerig blaai ek my Bybel oop, terwyl die lieflike woorde oor my gees spoel:

Die Gees wat julle ontvang het, is nie ’n Gees wat weer van julle vreesbevange slawe maak nie. Julle het die Gees van ware kindwees ontvang en deur hierdie Gees roep julle uit tot God: Abba – ons Vader. Want die Gees self bevestig teenoor ons eie gees dat ons God se kinders is. En as ons God se kinders is, maak Hy ons ook sy erfgename. Saam met Christus deel ons in God se rykdom. As ons bereid is om saam met Christus te ly, sal ons sekerlik ook deel in sy heerlikheid. (Romeine 8:15-17)

Dankie Abba Vader. Ek behoort aan U, ook in hierdie tyd. Ek ís toe ‘n koningin – en dit nogal in die régte lewe.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail