Suid-Afrikaners kan hulle met die Italianers se passie vir die lewe en vir lekker kos identifiseer. Hierdie somer kan jy dus gerus jou gaste met ’n paar happies propvol Italiaanse inspirasie bederf. DEUR HELEEN MEYER; FOTO’S: ADEL FERREIRA

Basiliekruidpesto
Resep uit Kos is op die tafel
Lewer ongeveer 250 mlBasiliekruidpesto

Pesto
Jy benodig

  • 60-70 g vars basiliekruidblare
  • 2-3 knoffelhuisies, fyngedruk • 30-50 g gemaalde amandels of sonneblomsade, liggies gerooster
  • 125 ml (½ k) fyngerasperde pecorino-, parmesaan- of selfs beleë wit cheddarkaas
  • 125 ml (½ k) olyf- of avokado-olie
  • Sout en varsgemaalde swartpeper na smaak

Jy maak só

  1. Plaas die basiliekruid, knoffel, neute of sade, die kaas en die helfte van die olie in ’n voedselverwerker en meng alles goed saam. Of plaas al die bestanddele in ’n glasbak en meng dit met ’n stokmenger.
  2. Voeg die res van die olie geleidelik by sodra die bestanddele ’n mengsel begin vorm, en hou aan meng totdat die olie ingemeng is. Geur dit na smaak, en meng dit weer goed deur.
  3. Skep die pesto in ’n gesteriliseerde glasfles en bedek dit met ’n dun lagie olyfolie om verkleuring te voorkom. Bêre dit in die yskas.

Onthou: Die olie sal ’n soliede lagie bo-op vorm, maar dit sal baie gou weer loperig word sodra dit buite die yskas is. Bedek dit weer met olie as dit steeds in die yskas gehou gaan word.

WENK
1. Rooster die sonneblomsade oor matige hitte in ’n droë pan tot aromaties. Skud die pan gereeld om te verhoed dat dit brand– wees versigtig, dit gebeur vinnig!

Caprese in ’n glas
Lewer 6 porsiesCaprese in ’n glas

Jy benodig

  • 6 bocconcini (mozzarella-balletjies), in stukkies geskeur. Of 100 g mozzarella, in blokkies gesny
  • Ongeveer 200 g klein tamaties, enige kleur, gehalveer, in dik skywe of kwarte gesny
  • ’n Hand vol vars basiliekruidblare
  • Olyfolie, sout en peper na smaak
  • 60 ml pesto

Jy maak só

  1. Meng die kaas, tamaties en basiliekruidblare en skep dit in klein glasies.
  2. Geur dit na smaak met ’n paar druppels olyfolie, sout en peper.
  3. Sit dit met teelepels pesto voor.

Caprese op ’n stokkie
Lewer 6 porsiesCaprese op ’n stokkie

Jy benodig

  • 100 g mozzarella, in blokkies gesny. Of nog bocconcini, gehalveer
  • Ongeveer 200 g klein tamaties, enige kleur
  • ’n Hand vol vars basiliekruidblare
  • 60 ml pesto

Jy maak só

  1. Ryg die kaas, tamaties en basiliekruidblare om die beurt op klein kebabstokkies in, en sit dit met pesto as doopsous voor.

BruschettasBruschettas
Jy benodig

  • 1 middelslag ciabatta
  • 60-80 ml (¼ – ¹⁄³ k) olyf- of avokado-olie
  • 1-2 knoffelhuisies (opsioneel)

Jy maak só

  1. Voorverhit die oond tot 180 ˚C.
  2. Sny die ciabatta in ongeveer 1 cm-dik skywe en halveer elke skyf. Of sny dit in derdes of kwarte sodat dit maklik hanteerbaar is. Die skywe se grootte sal ook van die heel brood se grootte afhang.
  3. Verf elke sny met die olie en pak dit in ’n enkellaag op ’n groot bakplaat. As jy knoffel wil gebruik, kan die skyfies brood liggies met die heel knoffelhuisie gevryf word, ten einde die knoffel daarop te “rasper”. Te veel knoffel kan wel ’n bitter smaak tot gevolg hê en dus die ander bestanddele oorheers. Gebruik net genoeg om die brood ’n aromatiese geur te gee.
  4. Rooster 8-10 minute lank, of totdat dit net goudbruin en bros is. Draai die snye om en rooster dit nog ongeveer 5 minute aan die ander kant. Wees versigtig om dit nie te lank te rooster nie; dan is dit moeilik om te eet, en die bolaag val af.
  5. Laat dit afkoel en rond dit af met die bolaag-opsies wat jy verkies.

Geroosterde soetrissies

Die geur van geroosterde soetrissies is iets besonders en die gekonsentreerde smaak maak dit nóg veelsydiger. En dis baie maklik om voor te berei.

Jy benodig

  • 2-3 groot (of 6 klein) rooi of geel soetrissies, gehalveer en ontpit
  • 45 ml (3 e) olyf- of avokado-olie
  • Sout en peper

Jy maak só

  1. Voorverhit die oond tot 250 °C, of skakel die oondrooster-element aan. Verf die soetrissie-halwes met die olie en geur dit met die sout en peper.
  2. Plaas die soetrissies, met die skil-kant na bo, op ’n bakplaat. Rooster dit totdat die skilletjies pikswart is. Dit neem sowat 15-20 minute (of 8-10 minute onder die element). Maar hou dit goed dop, sodat jy kan sorg dat die soetrissie self nie brand nie.
  3. Verwyder dit dadelik uit die oond en plaas dit in ’n glasbak. Bedek dit met kleefplastiek en laat dit só stoom totdat dit afgekoel is. Of plaas dit in ’n stewige plastieksakkie, bind dit toe en laat dit só afkoel. Dit help dat die skilletjies lostrek en dus baie makliker afskil.
  4. Trek die skilletjies af, en gebruik die soetrissies op enige van die volgende maniere:
    Gemarineerde soetrissies: Sny die geroosterde soetrissies in repies en marineer dit in ’n mengsel van gelyke hoeveelhede olyfolie en balsamiese asyn. Gebruik die repies in slaai of as ’n bolaag vir bruschettas, of in klein wraps of selfs in ’n quiche.
    *Soetrissie-maaskaas: Verpulp van die rooi soetrissies met ’n stokmenger saam met 125 ml (½ k) gladde maaskaas of roomkaas totdat daar ’n gladde smeersel vorm wat jy op die bruschettas kan gebruik. Die rooi soetrissies gee die mengsel ’n pragtige kleur.

Bolaag-opsies

  1. Pecorino-skaafsels, geroosterde, gemarineerde soetrissierepies, kappertjiesaad, Italiaanse pietersielie
  2. Soetrissie-maaskaas*, prosciutto, olywe en basiliekruidblare
  3. Pesto, gemarineerde soetrissierepies, pecorino-skaafsels, kappertjiesaad, olywe, origanum
  4. Soetrissie-maaskaas*, kersietamaties, kappertjiesaad, olywe en Italiaanse
    pietersielie
  5. Prosciutto, kersietamaties en basiliekruidblare
  6. Pesto, gemarineerde soetrissierepies, prosciutto en olywe
  7. Pecorino-skaafsels, prosciutto, kappertjiesaad, origanum

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail