17 Maart 2021


Té lank is ’n belangrike skakel in kinderontwikkeling misgekyk: die invloed van swaartekrag op die liggaam en die brein. En was dit nie vir die ruimtevaart nie, was ons dalk steeds in die duister. Nou het daar boonop ’n baanbreker-boek verskyn wat meer lig hierop werp.

DEUR MARIETTE SNYMAN

Het jy geweet dat ruimtereisigers wat nie voorheen met lees of skryf gesukkel het nie, in hul kajuit soms onopsetlik asof in ’n spieëlbeeld skryf? Of doodgewoon van regs na links?

“Die rede waarom die ruimtevaarders ‘disleksies’ raak, lê in die afwesigheid van swaartekrag,” verduidelik dr Melodie de Jager, menslike ontwikkelingspesialis in Johannesburg. “In die buitenste ruimte weet die ruimtevaarders nie waar ‘bo’ of ‘onder’ is nie, en die voorwerpe om hulle dryf ook rond.

“Presies hierdie situasie verduidelik aan ons die belewenis van sommige kinders met leerprobleme.

LEES OOK: Leer jou kind selfdissipline

“Kinders moet die ruimtelike posisie van die letters korrek kan waarneem ten einde te kan lees en skryf. Indien die letters soos voorwerpe in ’n ruimteskip sou ‘ronddryf’, of as hulle nie seker is waar bo of onder is wat hul eie liggaam betref nie, word lees en skryf baie moeilik.

“En dis maar ’n enkele voorbeeld van die ontwrigtende uitwerking van sommige kinders se onvermoë om swaartekrag doeltreffend te prosesseer.”

Die boek Gravity, a missing link in child development wat Melodie saam met die Russiese neuroloog, dr Oleg Efimov, en sy vrou, die spraakterapeut Victoria Efimova, geskryf het, fokus op die verband tussen swaartekrag en ’n wye reeks kwessies, byvoorbeeld: aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom, disleksie, outisme, angsstoornisse, ontwikkelings-, spraak- en taalagterstande, lae spiertonus, swak sensoriese integrasie, problematiese lateraliteit en handdominansie, bewegingsiekte, vrees vir die donker en skeidings­angs.

Omdat swaartekrag oral op aarde ’n gegewe is, is die rol daarvan lank onderskat.

Ons word ons lewe lank deur swaartekrag beïnvloed, sê Melodie. “Vroeë kinderontwikkeling is eintlik die verhaal van die stryd teen swaartekrag. Swaartekrag voel vir pasgebore babas vyftig keer sterker as om in die amniotiese vloeistof in die baarmoeder te dryf. Namate hulle leer om hul kop op te tel, vorder hulle stap vir stap na kruip en loop. Spiertonus ontwikkel deur beweging téén die aantrekkingskrag van die aarde.

“Die oomblik wat kinders hul voete ferm op Moeder Aarde plant, het hulle ’n fisieke ‘wegspringplek’. ’n GPS kan ons slegs na ons bestemming neem wanneer dit ons huidige posisie kan bepaal. Net so kan kinders se fisieke, emosionele, sosiale en veral kognitiewe vaardighede slegs behoorlik ontwikkel indien hul brein hul huidige posisie kan vind.

“Om te kan skryf, vereis byvoorbeeld dat hulle oor die nodige spiertonus beskik om die pen vas te hou; dat hulle regop kan sit; dat hulle weet waar hul kop in verhouding met hul voete is; hoe hul hand moet beweeg; hoe hulle die letters ruimtelik moet plaas.

“In die afwesigheid van ’n gesonde verhouding met swaartekrag sal hul brein, net soos ’n GPS wat bly draai, na die ‘wegspringplek’ bly soek en soek – en nie by die aangeduide taak uitkom nie.”

Swaartekrag en vrese

“Die ‘hoofspeler’ in ’n doeltreffende verhouding met swaartekrag is die vestibulêre stelsel,” sê Melodie. “Vroeër het wetenskaplikes gereken laasgenoemde beheer slegs balans, maar vandag weet ons baie meer. Die vestibulêre stelsel skakel onder meer nou met die limbiese stelsel, wat die emosionele sentrum van die brein is.

“Beweging stimuleer die mens se vestibulêre stelsel. Hierop reageer elkeen verskillend. Dink maar aan ’n wipwarit in ’n pretpark: Sommige mense begin sweet, hul hartklop en asemhaling verander, hulle word naar of kry ’n angsaanval. Vir ander is dit een groot lekkerte.”

In Gravity, a missing link in child development word die talle oorsake van ’n swak ontwikkelde vestibulêre stelsel bespreek. “’n Vestibulêre stoornis kan daartoe lei dat ’n kind beweging as onaangenaam en emosioneel ontstellend ervaar. Beweging word dan ’n bron van vrees en ongemak.

“Dis soos wanneer ouers ’n huilende baba in hul arms wieg – en die baba huil net al hoe harder. Die arbeidsterapeut Jean Ayres het dié disfunksie ‘gravitasie-onsekerheid’ gedoop.

LEES OOK: Ek en my huis – só sal ons die Here dien

“Die betrokke kinders voel slegs veilig met ’n soliede oppervlak onder hul voete. Reseptore onder ons voete verskaf immers terugvoer oor ons ruimtelike posisie. Gravitasie-onsekerheid prikkel ’n diepliggende oervrees, en dit benadeel ’n kind se emosionele ontwikkeling en gedrag. Dit kan boonop tot in volwassenheid voortduur.

“Kinders wat net in die sandput speel en die klimraam vermy, kan gravitasie-onsekerheid beleef. Sulke kinders kan ook bang wees om fiets te ry, om uit ’n motor te klim, om van ’n lae muurtjie af te spring. En bang wees wanneer daar ’n oop ruimte agter hulle is.

“Die vestibulêre stelsel en swaartekrag vorm deel van motoriese beplanning en tydsberekening. Kinders met ’n onderontwikkelde vestibulêre funksie kan benoud raak as hulle ’n roltrap of ’n draaideur moet gebruik.

“Wanneer hulle ’n straat moet oorsteek, is hulle onseker: Staan die motors stil, of beweeg hulle? En indien laasgenoemde: In watter rigting beweeg hierdie motors?

“Hulle kan sukkel om trappe te klim, veral dié sonder ’n reling.

“Komplekse verhoudings met swaartekrag kan ook skeidings­angs veroorsaak. ’n Ma is kinders se bron van stabiliteit by wie hulle fisieke en emosionele veiligheid beleef.

“Kinders met ’n vestibulêre stoornis wil voortdurend fisiek met hul ma verbind wees deur byvoorbeeld haar hand vas te hou of aan haar klere te klou. Wanneer die ma selfs net ’n kort tydjie nie teenwoordig is nie, voel so ’n kind ankerloos.

“Vrees vir die donker kan ook met onvoldoende vestibulêre ontwikkeling verband hou. Baie kinders vra dat hul slaapkamerlig snags aangeskakel bly, en dalk dink die ouers dis ’n ‘sielkundige’ probleem.

“In werklikheid gebruik hierdie kinders bedags hul oë om hul omgewing te navigeer, en só kompenseer hulle vir hul foutiewe vestibulêre stelsel. In ’n donker kamer kan hulle nie sien waar die plafon en die vloer is nie. Hulle voel regtig verlore. En dit lei tot angstigheid.”

Waar lê die oplossing?

Gravity: a missing link in child development identifiseer nie bloot hierdie duisternis probleme nie; dit dui ook oplossings aan.

Melodie sê: “Indien ons die meganisme van breinontwikkeling verstaan, kan ons ingryp – nie deur bloot die simptome van ’n swaartekragverwante uitval te behandel nie, maar deur die oorsprong van die probleem te vind en ontwikkeling te versnel.

LEES OOK: ‘Kinders moet meer as die jongste oor TikTok weet,’ sê skrywer

“Leesvaardigheid en sukses in wiskunde en wetenskap op hoërskool is byvoorbeeld gegrond op die probleemoplossingsvaardighede wat ’n graad een-kind tydens bewegingspeletjies aanleer.

Meer beweging is dus die (eenvoudige!) antwoord.

Melodie sê: “Ons ervaring met duisende kinders het gewys dat intensiewe, kort- tot mediumtermyn-massering en bewegingsterapie die laer vlakke van die brein kan help ontwikkel.”

In die boek word ’n volledige afdeling aan “movement as medicine” gewy. ’n Nie-indringende masseertegniek wat ’n kind se voete stewig op die aarde help plant, maak binne enkele dae ’n verskil aan hul lees- en skryfvaardighede.

Hierdie soort bewegingsterapie behels nie oefening en sweet soos in ’n gimna­sium nie; dis eerder ’n klompie lekker speletjies. Spesifieke speletjies, wat tradisionele gunstelinge soos kruiwastoot en blindemol insluit, word vir spiertonus, liggaamsbewustheid, sensoriese integrasie, motoriese vaardigheid en abstrakte denke aanbeveel.

Al hierdie vars insigte bring hoop vir kinders wat onverdiend as “ontoereikend” of “ongemotiveerd” beskryf word. Én vir hul ouers.

Meer inligting, asook die boek, Gravi­ty, a missing link in child development (Mind Moves Institute Publishing, 2020), is by www.mindmoves.co.za beskikbaar.

……………………………………..

Swaartekrag en aandaggebrek-hiper­aktiwiteitsindroom (AGHS, oftewel ADHD)

In ’n navorsingstudie in hul Prognosis-kliniek in St Petersburg in Rusland het dr Oleg Efimov en Victoria Efimova bevind dat 89,3% van die kinders met AGHS ’n vestibulêre disfunksie het. Dié kinders word gehelp om ’n gesonder verhouding met swaartekrag te ontwikkel deur bewegingsessies in die kliniek se neurodinamiese gimnasium.

“Hiperaktiwiteit kan daarop dui dat ’n kind nog nie genoeg beweeg het nie,” verduidelik Melodie. “Vreemd genoeg moet kinders baie beweeg voordat hulle kan sit of stil staan. Die brein bevat ‘begin’- en ‘stop’-neurone – en die ‘stop’-aksie ontwikkel slegs deur voldoende beweging. ’n Liggaam wat nog nie die perfekte balans tussen vorentoe en agtertoe of tussen lê en regop staan gevind het nie, is soos ’n GPS wat bly herbereken om die beginpunt te vind.

“Stil sit is ’n voorvereiste om te kan lees, skryf, bereken en redeneer.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *