Ná ’n oorsese reis in Maart 2020 is Samantha Olivier en haar man met Covid-19 gediagnoseer. Sy was swanger. Haar grootste bekommernis was die ongebore baba se gesondheid.

DEUR SAMANTHA OLIVIER

Samantha Olivier en haar man Garth.

Ek het aan die begin van Maart vanjaar in Londen aangekom. Ná ’n werkverwante konferensie sou ek en my man Garth met vakansie gaan. Ons het heelwat planne vir ons tydjie saam in Londen gemaak. En ek was 15 weke swanger.

Daar was reeds allerlei stories en gerugte in omloop oor die nuwe virus wat so aansteeklik is, maar niemand was vreeslik bekommerd nie. Ons het wel die voorgeskrewe voorsorgmaatreëls getref: Ons het gereeld ons hande gewas en handdrukke vermy.

Na afloop van die konferensie kon ons vakansie in alle erns begin, en ons het die naweek in Londen baie geniet. Maar toe die nuwe week aanbreek, het ek begin siek voel. Allerlei ligte simptome: ’n effense hoes, ’n seer keel, hoofpyn, moegheid.

Die volgende dag het Garth begin sleg voel. Ons het die vorige nag met ’n oop venster geslaap en gedink ons het só dalk verkoue opgedoen.

“Ons was oortuig dat dit niks meer as verkoue was nie”

Aanvanklik het my en Garth se simptome van mekaar verskil. Ons was steeds daarvan oortuig dat dit niks meer as verkoue was nie. Tog het ons die NHS se noodlyn gebel om uit te vind of ons vir die nuwe virus getoets moes word. Op daardie stadium het die eerste groot klomp gevalle in Londen voorgekom en die NHS het gesê dat ons nie sommer getoets gaan word nie, tensy ons gehospitaliseer moet word.

Ons het by ons tweede Airbnb ingetrek. Die kamer was klein en op die derde verdieping. Daar was nie ’n hysbak nie. Ek en Garth het agtergekom dat ons besonder uitasem is nadat ons die drie stelle trappe moes klim. Ons is maar net onfiks, het ons gedink.

Die laaste klompie dae in Londen was ’n nagmerrie: Ons het naarstiglik probeer uitvind of ons regtig siek is, terwyl die wêreld om ons besig was om vir grendeltyd voor te berei.

Die internet by ons Airbnb het nie gewerk nie, en ons kon nie uitvind wat aangaan nie. Ek het my van koffiewinkel tot koffiewinkel gehaas om ’n internetverbinding te kry sodat ons met ons familie en vriende kon kontak maak.

Ons het besluit om so gou moontlik huis toe te gaan – en ons het die lughawe gehaal slegs drie dae voor die Britte se verbod op internasionale vlugte.

Terug in Suid-Afrika hoe nou gemaak?

By die huis aangekom, het ons dadelik probeer om getoets te word. Ons het ons plaaslike hospitaal in Kaapstad gebel om vas te stel wat die prosedure is. Met die eerste oproep kon niemand ons help nie. Met die tweede oproep het die ontvangsdame gesê dat ons deur die hospitaal na die laboratorium moet loop om getoets te word.

Ek het gevra of dit die beste manier is. Of ons nie op dié wyse ’n gevaar vir ander sou skep nie. Sy was onwrikbaar. Later bel ons weer, en toe verduidelik die persoon wat die foon beantwoord dat daar ’n tydelike toetsstasie in die hospitaal se ondergrondse parkeergebied opgestel is.

In ons soektog na die toetsstasie was dit vir ons duidelik dat niemand regtig die virus se impak begryp nie. Ons moes elke sekerheidswag wat by die motor met ons wou kom gesels, vra om asseblief nie te naby aan ons te kom nie.

Toe ons uiteindelik die toetsstasie opspoor, was daar reeds ’n paar motors. En ’n vrou met ’n masker en handskoene wat die toetse behartig.

Ons het in ons motor bly sit totdat sy na ons toe gekom en die toetse begin uitvoer het. Dit was regtig nie baie aangenaam nie: ’n bloedtoets, ’n speekseltoets en ’n sputumtoets. Daar word ’n oorstokkie in jou neus op gedruk sodat dit voel asof jou brein gekielie word.

Ons is huis toe. Die gewag het begin.

“Ons simptome het vererger. Ons albei het positief getoets”

In die dae wat gevolg het, het ons simptome vererger. Erge hoofpyn, keelseer, chroniese moegheid. Garth het koors en lyfseer gekry. En ek het ’n diep, slymerige hoes gehad, maar gelukkig nooit koors nie. Later het Garth ook die hoes ontwikkel. Ons albei was kortasem, met ’n benoude bors.

Vier dae ná die toets het ons huisdokter gebel met die uitslae. Positief. Ons al twee.

Aanvanklik was ons verpletter. Hoe nou gemaak? Al waaraan ek kon dink, was my baba. Moes ons hospitaal toe gaan? Met wie almal het ons kontak gehad? Waarheen nou?

Ons het ’n oproep van Nios (die Nasionale Instituut vir Oordraagbare Siektes) ontvang en ons het ’n pad saam met hulle begin stap. Ons was verras en dankbaar oor hoe goed georganiseer en doeltreffend hulle was. Hulle het 15 moontlike simptome aan ons verduidelik en alles aangeteken terwyl hulle ons deur elke stap geneem het. Ons het amper elke dag opvolgoproepe ontvang om ons simptome te monitor en ons vrae te beantwoord.

Ons was nog twee weke lank siek. Garth het ’n uitslag op sy bene gekry, en ek het ’n velsensitiwiteit ontwikkel. En ons het baie geslaap vanweë die voortdurende moegheid en tamheid.

Ons het met ons asemhaling gesukkel, ons was baie naar. Ons het ook ons vermoë om te ruik en te proe verloor. Ons het ’n branderige sensasie in ons neus gekry, amper asof ons per ongeluk water gesnuif het.

Samantha ontvang berusting dat hulle baba veilig is

“Ons baba se welstand was een van ons grootste bekommernisse,” sê Samantha.

Uiteraard was ons baba se welstand een van ons grootste bekommernisse. My ginekoloog het ons gerusgestel en gesê dat ons nie bekommerd hoef te wees nie. My oom, wat ’n dokter in die VSA is, het vir ons ’n mediese verslag oor bevindings rakende Covid-19 in swanger vroue gestuur. ’n Vriendin het ’n artikel oor dié onderwerp aangestuur. Al die bronne het bevestig dat daar geen bewys is dat die virus tydens swangerskap aan die baba oorgedra word nie.

Dit het ons baie gehelp om gereeld vloeistof in te neem, en om Panado en Vitamien C te drink. Om soveel moontlik te slaap en te rus. Daar was dae wat ons in die middel van die dag in die bed opgekrul en ure lank onafgebroke geslaap het.

’n Vraag wat ons gereeld gevra het, was op watter stadium jy hospitaal toe moet gaan. Ons Nios-dokter het ’n baie waardevolle antwoord gehad: “As jy sukkel om ’n sin klaar te maak, moet jy gehospitaliseer word.” Drie weke nadat ons siek geword het, het ons simptome opgeklaar en het Nios die groen lig gegee.

God dra ons deur die swaarste storms

Daar is soveel mense wat in hierdie tyd vir ons gebid het. Terwyl ons menige slapelose nag beleef het, het God ons oorweldig met die manier waarop Hy ons deur die storm gedra het.

Ten spyte van al die chaos, is ek en Garth vandag bemoedig deur die waarheid dat God in beheer is. Ons het besef dat ons magteloos is, maar dat selfs wanneer die wind en die golwe teen die boot slaan, God steeds sorg (vlg Luk 8:23).

* Teen druktyd was Samantha sowat sewe maande swanger, en was die medici tevrede met die baba (dis ’n dogtertjie!) se vordering en gesondheid.


Lees nog getuienisse hier.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail