‘Sy is nou my suster, daar is ’n deel van my in haar’

DEUR DEONETTE DE KOCK

Elke jaar op 21 Februarie vier twee families die lewe, oorvloedig dankbaar vir dié betekenisvolle datum. Dit was immers op dié dag dat twee vriendinne susters geword het.

“Dit was ’n verbysterende gebaar van Ronel om haar nier aan my te skenk,” vertel Theresa Bester (53) van Durbanville. Sy en Ronel van der Merwe (58) is reeds die afgelope 19 jaar hartsvriendinne. “Boonop is sy so ’n lieflike en beskeie mens,” voeg Theresa by.

Hierop sê Ronel: “Omdat die Here my met soveel goeie gesondheid geseën het, was dit my manier om dankie te sê. Om iemand anders daarmee te seën. Die Here het my so gedra dat ek nooit rêrig hieroor getwyfel het nie.”

‘Hoekom ek?’

Theresa het ’n oorgeërfde niersiekte wat as polisistiese niere bekend staan. Die genetiese aard daarvan – haar ma was die draer, maar Theresa se broer en suster het dit vrygespring – het daartoe gelei dat Theresa se dogter Ilse (27) dit ook opgedoen het. Die ouer dogter, Marzanne (30), het nie.

Theresa het al op veertien geweet sy het polisistiese niere, maar sy was deurentyd gesond. In 2002 het sy begin siek voel, en ’n internis het die diagnose bevestig. Sy is jaarliks gemonitor, en stadig maar seker het haar nierfunksie verswak. Theresa het in 2014 tydens ’n oorsese reis nie goed gevoel nie en sy is met hul terugkeer in die hospitaal opgeneem. Dr Rust Theron, Theresa se internis, het gesê hulle moet ’n nieroorplanting oorweeg.

Op 21 Februarie 2017 het Ronel van der Merwe (links) ‘n nier aan haar hartsvriendin Theresa Bester geskenk. “Sy is nou my suster. Daar is ’n deel van my in haar,” vertel Ronel. Foto verskaf

Hieroor vertel sy: “Sodra jy siek word, begin jy anders na dinge kyk. Hoewel ek altyd gelowig was, het dié situasie my nader aan die Here gebring. ’n Bybelteks wat altyd vir my uitgestaan het, is Jeremia 29:11. Dit lui só: ‘Ek weet wat Ek vir julle beplan, sê die Here: voorspoed en nie teenspoed nie; Ek wil vir julle ’n toekoms gee, ’n verwagting!’

“Dit was vir my ’n waarborg dat die Here na my sou kyk.

“Daar was dae wat jy vra: ‘Hoekom ek?’ Maar ek is van nature ’n positiewe mens en ek tob nie te veel oor negatiewe dinge nie. Ek aanvaar, ek beweeg aan en maak die beste van my omstandighede.

‘Om iets van myself te gee’

Ronel vertel: “Toe Theresa in die hospitaal lê en vertel dat sy net 10% nierfunksie het en voortaan dialise moet kry, was ek baie hartseer. Hierdie pragtige, lewenslustige mens wat eensklaps so siek geword het …

“Ek wou haar help. En al hoe ek dit kon doen, was om iets van myself te gee. Ek het dit met my man Ben bespreek. Hy het my ondersteun, maar daarop aangedring dat ek eers na ons kinders – Hannerie (31), Elretha (28) en Benita (27) – se niere moet laat kyk, asook my eie, wat ons toe gedoen het. Ons het alle denkbare mediese toetse ondergaan om seker te maak alles is in orde.

LEES OOK: ‘My God is groter as mediese statistieke’

“Daar is boonop gevind dat my niere perfek vir Theresa sal wees. Haar mediese fonds het vir alles betaal.

“Ek sou nie so iets kon aanpak as ek nie ’n verhouding met die Here gehad het nie. Ek het in my besluit om my nier aan Theresa te gee die Here gevra om my hierin te lei en vir my te sorg. Ek het net vasgeklou aan Matteus 21:22: ‘As julle glo, sal julle alles ontvang wat julle in die gebed vra.’

Die vriendinne van Durbanville poseer saam vir ‘n foto die aand voor die oorplanting. “Ek en Ronel (links) is baie dankbaar dat ons deel kan wees van bewusmaking en om ons storie van hoop, vriendskap en onbaatsugtige liefde vir jou medemens met LiG-lesers te kan deel,” laat weet Theresa in ‘n e-pos. Foto verskaf

“Daar was soveel engele op my pad wat vir my gebid en my bemoedig het. Ook ons dominee het my besluit bevestig deur vir my Johannes 15:13 te gee. Dit is waar Jesus gesê het: ‘Niemand het groter liefde as dit nie: dat hy sy lewe vir sy vriende aflê.’”

‘Sy is nou my suster’

Die operasie het op 21 Februarie 2017 by die Christiaan Barnard-gedenkhospitaal in Kaapstad plaasgevind. Die vorige dag het Theresa haar laaste nierdialise ondergaan. In daardie stadium moes sy drie keer per week dialise kry.

Theresa vertel: “Sóveel mense het ons op hul gebedslys geplaas. Ronel en ek het oorkant mekaar in ’n hospitaalkamer gelê. Ek onthou ons het elkeen so ’n wit kamerjas aangehad. Ons het heelpad gelag en gesels. Die verpleegsuster was verstom dat ons so vrolik was en wou weet of ons op pad spa toe is.

“Ons was regtig nooit bang nie; ons was rustig oor die operasie. Die aand voor die oorplanting het ons ’n lekker Bybelstudiesessie gehad.”

Ronel is so teen agtuur daardie oggend teater toe. Haar man Ben en Theresa het saam met haar gestap. Die regternier is verwyder en op ys geplaas.

Ronel vertel: “Dit was baie seer, maar die pynmedikasie het darem gehelp.”

“Ronel (agter) wou nie hê ander mense moet weet dat sy haar een nier aan my geskenk het nie. Sy wou nie hê mense moet dink sy probeer aansien verkry nie,” verklap Theresa. Foto verskaf

’n Rukkie later is Theresa teater toe. Alles het vlot verloop.

Ná die operasie moes Theresa ’n tyd lank in isolasie deurbring. “Ek het dadelik beter gevoel,” vertel sy. “en ek was gou weer my ou self. Ek moes tien dae in die hospitaal deurbring sodat hulle my medikasie kon monitor.

“Ronel is dadelik ná haar operasie na ’n gewone saal geskuif. Ná ’n paar dae het sy vir my kom kuier. Sy was só emosioneel … Ons het mekaar net gedruk.

“Alles het goed afgeloop; daar was soveel seëninge. Ek het gespot en gesê ek is nou een van die Browns (Brown is Ronel se nooiensvan) en dat ek my verblyfreg op hul familieplaas gaan uitoefen.”

Ronel sê: “Ek was ’n lewende skenker, en ek kon sien hoe Theresa se lewe verander, hoe sy in dankbaarheid leef. Theresa kyk baie mooi na haarself, sy drink haar pille gereeld en sy geniet haar gesin se ondersteuning.

“Sy is nou my suster. Daar is ’n deel van my in haar.”

Gemaklik, ongekompliseerd

Theresa verklap: “Ronel wou nie hê ander mense moet weet dat sy haar een nier aan my geskenk het nie. Sy wou nie hê mense moet dink sy probeer aansien verkry nie.

“Ons is twee vriendinne wat baie saam lag. Dis ‘n gemaklike en ongekompliseerde vriendskap.”

Ronel bevestig dit. “Theresa is so ’n maklike geselser, sy is opgewek en báie positief. Sy laat haar nie onderkry nie. Nie een van ons wroeg oor dinge nie. Theresa koester ons vriendskap. Sy is ’n heerlike vriendin om by jou te hê.”

Deesdae

Ronel voer tans ’n heel normale lewe met die een nier; sy hoef geen medikasie te gebruik nie. Sy moet net reg eet, nie te veel pille gebruik nie, en sy moet twee tot drie liter water per dag drink.

Theresa se twee ou niere veroorsaak steeds baie infeksie. Sy gebruik medikasie wat moontlike verwerping teëwerk. “Maar,” sê sy, “ek beskou myself as gesond. Ek is ook ’n orgaanskenker en ek voel baie sterk daaroor om bewusmaking hieroor by ander te kweek. Deur jou organe te skenk, gee jy lewe.”

*Polisistiese niere het tot gevolg dat die nierfunksie verswak. Dit veroorsaak ook allerlei infeksies.

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Destyds sou ek sê: Begrawe my ook! Maar nou weet ek God wil hê ek moet lééf,’ sê Wilmien ná Kalahari-brand

DEUR CONETTE LE ROUX “As iemand twee jaar gelede vir my gesê het dís wat gaan gebeur, dan het ek...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img