DEUR CLARISA ABRAHAMS

Op 27 September 2019, twee dae voor my 32ste verjaarsdag, het die dokter bevestig dis kanker.

Borskanker, fase 3A en ’n klomp ander terme en woorde wat ek op daardie stadium nie regtig verstaan het nie. My oë het baie warm gevoel soos die trane gebrand het, al seerder hoe harder ek probeer het om dit te keer. Dit het gevoel asof daar ’n knop in my keel is en dat dit my wurg. My gedagtes het ’n myl per minuut gejaag. Die dokter het steeds gepraat, maar sy stem het net ge-eggo in my kop.

Wanneer jy vir hoop luister

Na maande van wag op die uitslag, het die duiwel al baie kere op my skouer kom sit en vrees en onsekerheid in my oor kom fluister. Dan het my Christenskap oorgeneem en hoop het gefluister dat enigiets moontlik is. Ek is maar net mens en daarom het ek myself begin voorberei. As dit nie kanker is nie, gaan ek dit vat as ’n geloofstoets. As dit kanker is, gaan ek maar net by God skuil.

“Dit het steeds gevoel of die mat onder my uitgeruk word,” vertel Clarisa.

Alhoewel ek slegte nuus vermoed het na al die toetse en biopsies en skanderings, het dit steeds gevoel of die mat onder my uitgeruk word. Saam met my vermoedens het ek steeds bly hoop dat dit tog nie kanker moet wees nie. Met die bevestiging dat dit wel kanker is, het ek God gevra vir baie kalmte sodat ek hierdie nuus net eers kon verwerk.

My ma was op daardie stadium in die hospitaal na ’n ligte beroerte en hartversaking, en ek moes dit ook verwerk. Hoe hou mens sulke nuus eers weg van die persoon wat jy op daardie oomblik so nodig het? Ter wille van my ma se gesondheid het ek nie ’n keuse gehad nie. Dit was asof God wou seker maak ek gee alles net oor aan Hom.

Die besluit om volkome op God te vertrou het my baie vinnig by aanvaarding gebring. Aanvaarding het geweldige krag. Dit was my manier om erkenning te gee dat alles volgens God se plan verloop.

Soms trek God jou plat om jou nader aan Hom te bring

Na die mammogram is ek verwys na Tygerberg Hospitaal. In Oktober 2019 het ek vir nog twee skanderings gegaan voordat ek kon begin met chemoterapie. My eerste chemosessie was die 21ste November. Ek het daardie dag baie optimisties benader, maar nie die ware impak van die rooi duiwel geken nie. (Die rooi duiwel verwys na die rooikleurige chemo). Dit het my fisies en emosioneel platgeslaan.

Chemo is nie ’n maklike pad nie en na elke sessie was dit net so moeilik soos die vorige keer. Ek het ook gesê ek gaan nie weer terug nie, maar as ek beter gevoel het, het ek weer besef hoekom ek dit doen. Wanneer ek platgelê het in my kamer was dit asof die Here my platgetrek het om my nader aan Hom te bring. Daar het ek die diepste gesprekke met God gehad. Ek het vir God gesê as dit Sy manier is om my nader aan Hom te bring…Wonderlik! Dan stap ek hierdie pad. My lewe het vinnig verander, op ’n positiewe manier, omdat ék dit toegelaat het.

“Soms word ons getoets. Nie om ons swakhede te wys nie, maar om ons sterk punte te ontdek.”

Twee weke na my eerste chemosessie het ek van my hare in die stort sien agterbly. Elke dag het al hoe meer hare op die badkamervloer bly lê. Ek was van kleins af gewoond aan baie hare. Ek het die dikste vlegsels op laerskool gehad. So dik dat ek soms gespot was daaroor en ek so baie kere gewens het dat hierdie goed op my kop asseblief tog net minder word. Op die oggend van 6 Desember 2019 was ek nie meer die naïewe laerskooldogtertjie nie, maar ’n jong volwasse vrou wat letterlik met knoese hare in my hande gestaan het. Niks en niemand kon my regtig daarop voorberei nie, want daar het ek gestaan, magteloos… Ja, ek het geweet dit is tog net hare wat weer kan teruggroei, maar daarop was ek net nooit volkome voorberei nie. Tog, ken ek my krag – en sterktebron en ek het hierdie “pakkie” ook aanvaar.

Laat jou beker oorloop van die Here se genade

Na agt sessies van chemoterapie, op die 23ste April 2020, was dit my laaste chemosessie. Vyf lang maande van olik voel, bitter smake, oorgewig, warm- en kouegloede, gewrigs- en beenpyne, droë vel, haarverlies en baie emosioneel, is ek nog ’n hekkie op dié pad deur. Ek hoor dieselfde dag my operasiedatum. Nog ’n hek.

Op die 27ste Mei 2020 het ek ’n dubbele mastektomie gehad. Dit is nou ’n paar weke na my operasie en ek glo ek is waar ek moet wees. God het so besluit. Dis oraait. Daar is nog ’n paar hekke wat ek moet deur, maar my beker loop oor van die Here se genade. Ek het besluit om volkome op God te vertrou en daarmee saam het God oorvloedig in vreugde, vrede en hoop voorsien.

Toe God my op dié pad stuur, het Hy aan alles gedink. Ek het so baie nuwe mense en vriende op my pad leerken. Mense wat my ondersteun en bemoedig. Ek is so bevoorreg om ’n goeie ondersteuningsnetwerk te hê. Saam met my wonderlike familie, opregte vriende en my begripvolle kollegas kan ek die steil strate op hierdie moeilike pad elke dag makliker stap. Ek het eienskappe van myself leerken wat ek nooit gedink het ek besit nie.

Soms word ons getoets. Nie om ons swakhede te wys nie, maar om ons sterk punte te ontdek. Só deeglik is die Here.


Lees ook: ‘Sit asseblief net jou lippe op’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail