DEUR MELANIE JACOBS

Op die ouderdom van 15 het ek van ’n perdfris en gesonde tiener na ’n 30 kg, inmekaar-getrekte meisie in ’n rolstoel verander.

Vandag doen Melanie modelwerk en motiveringspraatjies. Foto: Helen du Plessis.

“My hele liggaam het in spasma gegaan”

Ek was eens ’n Royal Academy of Ballet-danseres, atleet, rasieleier en skopbokser. Binne maande was ek ’n meisie vasgevang in ’n rolstoel. My ma moes my van my rolstoel na my bed dra, my voer, aantrek, in die bed omdraai, bad – sy moes absoluut alles vir my doen. My hele liggaam het in spasma gegaan. Daardie krampe wat mens kry in jou kuite wanneer jy in koue water swem? Dis hoe elke spier in my liggaan gevoel het. En steeds vandag voel.

Albei my voete en my linkerhand het 90 grade ingedraai. Ek kon nie praat nie, want jou tong is mos ook ’n spier. Ek het soveel keer gedink ek gaan verdrink wanneer ek ’n slukkie water sou drink en my slukspiere nie werk nie.

Die lewe is wat jy kies

Geen dokter, spesialis of homeopaat kon vir ons sê wat fout is nie en ’n neuroloog het gesê dat ek moontlik nie my 16de verjaarsdag sou sien nie. Al kon ek nie veel van daardie eerste paar maande onthou nie, het ek ’n duidelike herinnering van my ma wat langs my bed gesit het om die nuus met my te deel dat ek besig was om te sterf. Ek het net daar besluit dat ek sou veg om 16 te sien.

Ek onthou in die volgende paar maande dat ek bewus was daarvan dat ek ’n keuse gehad het. Ek kon laat gaan en ek sou by Abba wees. Maar in die grootste, slegste tyd het Hy by my kom sit en ek het besluit om te veg. Daardie tyd het ek ’n intieme verhouding met Hom beleef.


Lees nog getuienisse hier.


“Op my 21ste verjaarsdag het ek my eerste tree gegee”

Die dokters was verras dat ek 16 gehaal het, maar hul was oortuig dat ek nie weer sou loop nie. Maar ek het aan God se Woord vasgehou, dat Hy my belowe het dat ek weer sou loop. Ek het daardie tyd my getuienis met mense begin deel, en besef dat die vyand ons jongmeisies so besig hou met probeer “inpas”, dat ons die amazing dinge mis wat Jesus nou al reeds vir ons in gedagte het.

Ek was sewe jaar in ’n rolstoel. Uiteindelik het ek op my eie geleer hoe om op my ingedraaide voete te loop en ek het besef dat as ek my voete weer plat sou kon kry, ek weer sou loop.

Melanie se diepste begeerte is om bruikbaar in Jesus se hande te wees. Foto: Helen du Plessis.

Ek het by ’n spesialis uitgekom wat die Ilizarov-raam aan my bene gesit het. Ons moes met ’n nommer 10 spanner (ek kan steeds ʼn nommer 10 uit enige gereedskapskis uitken) ’n spesifieke “bolt” draai en die raam het vir nege maande my spiere, ligamente en vel millimeter vir millimeter uitmekaar geskeur.

Op 20 het ek my eerste operasie ondergaan om been af te saag en penne deur te boor om my twee voetjies so reguit as moontlik te kry. En op my 21ste verjaarsdag het ek offisieël my eerste tree voor vriende en familie gegee.

God is goed en in beheer

In April 2019 het ek my twee-en-dertigste operasie ondergaan. Ek kan nie onthou hoe dit voel om sonder pyn te wees nie. Ek is in chroniese pyn met al die penne en bene wat eintlik abnormale objekte in my liggaam is.

Maar genade, soms as ek my storie vertel soos nou, rejoice my hart om vir mense te kan vertel wonderwerke gebeur nog. God is goed. Hy is in beheer. Dis my grootste passie om vandag veral met ons jongmeisies en vrouens te werk. Met sosiale media… dit breek my hart. Ek sit en sien hoe ons ’n generasie van vroue verloor aan swak selfbeeld met die verwagtinge wat gestel is om net “aanvaarbaar” te wees.

“Wow, as ek na hierdie foto’s van myself kyk, is ek verstom. Dat ek op albei my voete staan, dis net wow,” sê Melanie. Foto: Melinda Collins.

Die voetspore wat Melanie moes trap

Vandag is ek ’n trotse 32-jarige vrou, getroud met die wonderlikste man, en ek probeer my pad vind tussen werk, skryf en motiveringspraatjies. Soms is ek kwaad vir God omdat ek elke dag onsigbare gevegte moet veg – albei my hakke en my linkergewrig is vasgeheg aan penne. Klein goed waaraan niemand dink nie, soos trappe of gemaklike skoene, is soms ’n groot uitdaging.

Ek onthou hoe dit voel om “normaal” te wees. Hoe dit voel om sonder pyn en moegheid te wees, of kommer oor die volgende operasie wat voorlê. Maar daar is nie ’n dag dat ek my storie anders sou wou hê nie. Dit is my diepste begeerte om ’n verskil te maak met my verhaal, om bruikbaar in Jesus se hande gevind te word.


LEES OOK: ‘Elke dag is nog ’n stukkie van my liggaam weg’

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail