Deur Nicky Kruger

Vir die grootste deel van my lewe het ek ʼn baie lae selfbeeld gehad. As ek terugkyk kan ek nie iets uitsonder wat gebeur het nie, maar ek het vir jare geglo ek is niks werd nie. Ek het goeie ouers wat nou nog gelukkig getroud is en ek was die middelkind van vyf. Ek het direk na skool gaan onderwys studeer en altyd ʼn leemte in my hart ervaar. Ongelukkig het ek altyd die leemte met wêreldse dinge probeer vul en het nooit vrede gehad nie. Op my 21ste verjaarsdag het ek getrou en na so agt maande was ek swanger met my eerste kind. My baba was drie maande oud toe ek swanger geraak het met die tweede kind. Die kombinasie van my erge onsekerheid, twee babatjies en finansiële probleme was net te veel en ons huwelik het redelik vinnig verbrokkel.

“Ek het op daardie oomblik besluit ek gaan nie dat my verlede en slegte besluite my en my kinders se toekoms bepaal nie. Ek het gefokus op my verhouding met God en om ʼn beter voorbeeld te wees vir my kinders. Vyf jaar later het ek getrou met ʼn wonderlike, Godvresende man,” vertel Nicky Kruger, ‘n onderwyser van Rustenburg, nadat sy jare soos ‘n nikswerd gevoel het. Foto verskaf

In 2010 het ek ʼn man ontmoet wat aanvanklik goed was vir my en my kinders en ons het ʼn lewe saam begin. Na ʼn klomp goed skeefgeloop het, het hy deurmekaar geraak met dwelms en my twee seuns erg mishandel. Dit was soos ʼn nagmerrie waar ek net nooit wakker geword het nie. Ek het talle kere probeer wegkom en elke keer gefaal. Net soos die advertensies op televisie altyd sê: “Maar wag, daar’s meer … ” Net toe ek ʼn weg kon kry om uit te kom … weer swanger.

Vir ʼn paar maande het dit beter gegaan en ons het getrou voor ons baba gebore is. Net voor sy geboorte het my man iemand na aan hom aan die dood afgestaan. Dinge het toe baie erger gegaan. Die dwelms en mishandeling het net erger geraak en dobbelary het ook oorgeneem. Hy het my bankkaart gesteel en het gereeld alles in ons huis verpand en ek het elke dag in vrees geleef.

Ek sal nie sê ek het nie geglo in die Here nie. Ek het net geglo dat as daar ʼn God is sal Hy defnitief niks met my wil uit te waai hê nie. As iemand gesê het dat hulle vir my sal bid was my reaksie: “Regtig? Die bidkaart?” Maar in daardie slegte tyd het ek net op my knieë gegaan en God gesmeek om daai man uit ons lewe te vat.

Dit het ongelukkig nie so vinnig gebeur nie en ek het op ʼn punt gekom waar ek net ingegee het en nie meer wou lewe nie. Ek was opgeneem vir depressie min wetend dat dit is waar my storie gaan draai. Die vrou saam met wie ek in ʼn kamer was het ʼn polisievrou geken en haar gebel om my te help. Sy het die volgende dag my verklaring kom neem en hof toe gevat om ʼn interdik te kry. Toe ons terug was by die hospitaal was my man by die sielkundige en die polisie het ingegaan en hom gearresteer in die spreekkamer. Dit was soos om in ʼn fliek te wees en ek het gehoop die nagmerrie is nou verby.

In die aand as ek probeer slaap sien ek hoe hy kom wraak neem. Ek kon nie slaap nie en depressie,  angs en vrees het by die dag erger geword. Ek het so aangesukkel vir ʼn paar maande en by ʼn kerk uitgekom wat ʼn Divorce Care-kursus aanbied. Ek het my hart vir die Here gegee, maar die depressie was maar nog baie swaar.

Een oggend het ek net gevoel ek kan nie meer nie. Ek het die kinders by die skool afgelaai en terwyl ek gery het begin pille drink. Teen die tyd wat ek by die werk gekom het, het ek al 50 pille gedrink. Die vrou saam met wie ek in ʼn kamer was het my by die hospitaal kom haal en versorg vir ʼn paar dae. Sy het my geforseer om kunsvlyt te doen sodat ek kan beter voel. Een oggend kon ek nie en ek wou net nie uit die bed klim nie. Sy het my getrek tot in die kombuis en gedwing om kolwyntjies te bak. Ek het seker twee ure gevat om dit te maak, maar toe ek dit klaar gebak het,het ek beter gevoel. Ek het so entjie gaan draf tot by die rivier en ʼn oomblik beleef wat ek net in Engels kan beskryf as ʼn “Encounter of God’s love”.

Ek het teruggehardloop en my vriendin gevra om my terug te vat en ek het my kinders gaan haal. Ek het op daai oomblik besluit ek gaan nie dat my verlede en slegte besluite my en my kinders se toekoms bepaal nie.

Ek het gefokus op my verhouding met God en om ʼn beter voorbeeld te wees vir my kinders. Vyf jaar later het ek getrou met ʼn wonderlike, Godvresende man. Hy het my seuns met ope arms aanvaar en het hul lief soos sy eie. Hy versorg ons en ek kon nie vir ʼn beter voorbeeld vra vir my kinders nie. Ons dien saam die Here.

Ek is so dankbaar dat God ons gered en beskerm het en ʼn baie beter plan gehad het vir ons lewe.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail