Van 16-jarige vlugteling tot ‘die dokter met die goue hart’

18 Mei 2021

Van uithou en aanhou kan niemand dr Emmanuel Taban van Pretoria enigiets vertel nie. Hy het in die bitter arm Suid-Soedan grootgeword, en na ’n beter lewe in Suid-Afrika geryloop. Hier het hy, danksy die ondersteuning van ’n klompie individue en die Comboni Sendingorganisasie in Johannesburg sy skoolopleiding voltooi. Hy skryf nou reeds drie mediese grade agter sy naam. Hy het nooit sy geloof in sy eie vermoë laat vaar nie. En hy het elke geleentheid aangegryp wat na sy kant gekom het.

DEUR ENGELA DUVENAGE

Vandag is hy ’n pulmunoloog wat in probleme van die asemhalingstelsel spesialiseer. Sy pasiënte by Mediclinic Highveld in Trichardt en Midstream Mediclinic in Centurion noem hom “die dokter met die goue hart”.

LEES OOK: ‘Ek vind moed en inspirasie in Bybel,’ sê 21-jarige wat boek uitgee om ander te help

Met die uitbreek van die Covid-19-pandemie was dié 44-jarige spesialis deel van hierdie hospitaalgroep se noodspan wat protokolle rakende kwarantynmaatreëls en behandeling moes ontwikkel. Hy het talle lewens help red deur ’n bepaalde tegniek voor te stel om dik proppe slym uit ’n pasiënt se longe te verwyder. Dit vergemaklik asemhaling. Daaroor het hy ook reeds artikels in internasionale mediese joernale gepubliseer.

Emmanuel het kaalvoet grootgeword in Suid-Soedan in Noord-Afrika. Dis ’n land wat onder meer deur Soedan, Ethiopië, Tsjad en Uganda begrens word. Suid-Soedan is die jongste soewereine staat ter wêreld, nadat dit in 2011 onafhanklikheid van Soedan verkry het. Maar ’n jare lange burgeroorlog het dit só vernietig dat daar uiters min infrastruktuur oorgebly het, en selfs minder geleenthede. Dié land haal trouens die wêreldranglyste om al die verkeerde redes. In 2019 het dit byvoorbeeld die derde laaste plek in die World Happiness Report en die Global Peace Indeks ingeneem.

Eers nadat dr Emmanuel die koerante gehaal het na ’n metropolisielid hom en sy vrou in 2020 aangerand het, is sy lewensverhaal vir publikasie goedgekeur.

Dit alles beteken vele ontberings vir die inwoners. Vir die jong Emmanuel was dit geensins vreemd dat rotte snags aan sy hakskene knaag terwyl hy op die grond tussen sy broers en susters probeer slaap het nie. Ten spyte van sy honger na geleerdheid kon hy net dan en wan skool toe gaan. Sy pa is vroeg oorlede.

Hy was 16 jaar oud toe hy in 1994 die reis suidwaarts aangepak het. Dit het 18 maande geduur. Hy vertel: “Een voordeel van alleen reis was dat niemand langs die pad juis vir my vreeslike stories kon inprent oor wat alles verkeerd kon loop nie. Niemand kon twyfel saai nie.”

Vandag sê hy steeds: “Bly weg van negatiwiteit, gryp eerder geleenthede aan. Te veel kere fokus mense op wat nié moontlik is nie, eerder as wat wel moontlik is.”

Emmanuel vertel met behulp van die skrywer Andrew Crofts sy merkwaardige verhaal in The boy who never gave up – a refugee’s epic journey to triumph wat vroeër vanjaar by Jonathan Ball Publishers verskyn het.

Dr Emmanuel Taban

Die verhaal begin só: “Ek het altyd gehardloop. Niks kon my keer terwyl ek entoesiasties deur my kinderjare beweeg het nie.”

Dit is steeds sy ingesteldheid teenoor die lewe.

Harde werk

Tewyl ons oor die telefoon gesels, hy in sy spreekkamer so tussen pasiëntbesoeke deur, klink dit byna asof dr Emmanuel Taban nie tot ’n negatiewe gedagte in staat is nie. Hy het egter min geduld met mense se “slagoffer-mentaliteit” – dit is diegene wat agter verskonings skuil en wat ander mense verkwalik as dit nie goed gaan nie.

Harde werk, sê hy, is die enigste ding wat die mensdom kan red. Daar is geen ander suksesresep nie.

“Besluit op jou doel. Bly fokus daarop, al is daar afdraaipaaie en terugslae. Begin net weer, en gaan voort. Fokus daarop om jou reis te voltooi.”

Hy sê sy lewensuitkyk is op drie pilare gebou: passie, vasberadenheid en volharding. “Dis deel van my DNS.”

“Nog nooit so bang nie”

Paulo Coelho se bekende The Alchemist het hom geïnspireer om sy eie storie neer te skryf, een waaroor hy as jong man, as hawelose kind, aanvanklik skaam was. “Ek het uiteindelik besef my reis is nie veel anders as baie ander mense s’n nie, en dat ontberings bloot deel van my reis en einddoel was.”

Die uiteindelike publikasie daarvan het nie maklik gekom nie. Emmanuel vertel: “Nadat ek reeds geruime tyd daaraan gewerk het, kon ek, teleurstellend genoeg, nie ’n uitgewer daarvoor vind nie.”

LEES OOK: Musikant moet ‘iets anders doen’ om vir gesin te sorg

Maar op 21 Junie 2020 het ’n brutale toevoeging tot sy lewensverhaal die koerante in sy aangenome land gehaal. Emmanuel en sy doktersvrou Motheo (sy spesialiseer in kardiorespiratoriese fisioterapie) was haastig op pad na die Midstream Mediclinic om pasiënte te besoek. Emmanuel erken hy het wederregtelik oor ’n sperstreep gery. Met dié is hul motor deur ’n maskerlose, aggressiewe metropolisielid van die pad getrek.

Die beampte was woedend toe Emmanuel hom in Engels eerder as Sepedi (wat Emmanuel nie magtig is nie) aanspreek. “Ek het hom gewaarsku dat ek Covid-19-pasiënte behandel, en dat hy ’n veilige afstand moet handhaaf. Dit het hom selfs kwater gemaak.”

Om ’n lang storie vol misverstande en aggressie kort te maak: Emmanuel is uitgekryt as ’n makwerekwere (buitelander). Hy is gewurg totdat hy sy bewussyn verloor het. Motheo is ten aanskoue van twee vrouebeamptes aangerand. Hierna is die egpaar in ’n voertuig van die metropolisie geboender. Uiteindelik is hulle by die Lyttletonse polisiekantoor vrygelaat.

Hierdie ellendige insident het, ironies genoeg, tot gevolg gehad dat sy boek vir publikasie aanvaar is.

In die boek plaas Emmanuel daardie gebeurtenis só in perspektief: “Ek het vanuit die oorloggeteiserde Soedan gevlug nadat ek deur regeringsmagte ontvoer en gemartel is. Ná my ontsnapping het ek maande lank suidwaarts gereis, deur talle Afrikalande. Ek het hongersnood, die lewe op straat, diewe, korrupte grensbeamptes en talle gevare oorleef.

“Maar daardie dag kon nie eens my mediese graad my red nie. Ek was nog nooit so bang nie.”

Dan voeg hy egter by, met sy tipiese Taban-optimisme: “My hele lewe lank weier ek om ’n slagoffer te wees. Ek bly altyd positief, ongeag die hindernisse op my pad. En ek bly optimisties oor die toekoms. Nie rassisme óf xenofobie sal my siening verander nie.

“Nee, ek haat hulle nie. Ek beskou alles wat met my gebeur as ’n les. Ek probeer alles volgende keer beter doen. Ek hou aan vorentoe beweeg.”Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Previous article‘Hier is die pad!’
Next articleTyd vir notaboeke?
- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img