Van platsak pennesakkiesmous na suksesvolle entrepreneur: ‘Ek het net bly vertrou op Hom’

Haar lewe is ’n behoorlike tapisserie van wonderwerke, sê sy. Al haar stories is in mekaar verweef en vorm ’n groter storie vol genade. Sommige mense mag dit dalk as ’n “klomp toevallighede” beskryf; sý weet wat dit in werklikheid is.

DEUR MARETHA BOTES; FOTO’S: GILLIAN PHOTOGRAPHER

Anneme Grobler het doelbewus besluit om geluk te kies. Te midde van seerkry en swaarkry het hierdie lewenskeuse haar baie seën gebring. Vandag besit sy haar eie sakeonderneming, Anna Me Handmade, en sy pluk die vrugte van ’n stille vertroue op die Een wat haar elke dag lei.

Die Here se hand

In die 50-jarige Anneme se huis in die Hemel en Aarde-landgoed naby die skilderagtige Hermanus word sy deur alles omring wat haar siel gelukkig maak – potte vol orgideë, kleur, ooptes. Sy het deure en vensters wat wyd na buite oopmaak en wat die groen en sagte tuingeure na binne nooi.

Sy vertel sy het op ’n wynplaas grootgeword waar haar pa die wynmaker en kelderbestuurder was, en sy kán nie sonder die natuur nie.

Nou woon sy hier aan die Overbergse kus saam met haar 16-jarige dogter Karmi, en Molly, die goue “golden retriever”. Tydens vakansies kom kuier Pippa (20), ’n tweedejaarstudent aan die Sentrale Universiteit van Tegnologie in Bloemfontein.

Haar huis, sê Anneme, is een van die baie dinge wat oor haar lewenspad gekom het waarin sy die Here se hand so duidelik sien.

Dit was nie maklik nie

Toe Anneme agt jaar gelede potlood­sakkies vir Karmi en Pippa se maatjies begin maak het, het sy nooit kon droom dat dít die saadjie vir ’n suksesvolle onderneming sou plant nie.

Sy en haar gewese man het in dié tyd hul plaas in die Grabouw-omgewing verloor en was finansieel-gesproke op hul knieë. Annemie het besef sy moes iets doen om die pot aan die kook te hou.

LEES OOK: ‘Ek droom altyd ek loop weer’

Voordat hulle die plaas gekoop het, het Anneme ’n suksesvolle eiendomsverhuringsagentskap op Stellenbosch gehad. Sy het haar onderneming én hul spoghuis verkoop om die plaas te finansier. Vier jaar later was dié droom aan skerwe. En daar was niks oor nie.

Die potloodsakkie-idee het egter by Anneme bly spook – en op ’n dag het sy haar laaste duisend rand onttrek, Kaap toe gery en materiaal gaan koop. Sy vertel: “Ek onthou my man was woedend. Hy het gereken dis onverantwoordelik. Maar ek begin toe om sakkies te stik.”

’n Vriendin met ’n kruidenierswinkel op Stellenbosch het die eerste tien sakkies gekoop om in haar winkel uit te stal.

“Daarna het ek elke dag van winkel tot winkel gery om my pennesakkies te smous. Soms het ek huis toe gegaan en nie geweet waar die volgende dag se geld vandaan gaan kom nie. En dan, as ek in my e-pos kyk, lê daar ’n bestelling.

“Dit was nie maklik nie. Daar was baie dae dat ek nie geweet het watter kant toe nie. Maar ons het nooit honger gaan slaap nie.”

Kort nadat hulle van die plaas moes trek, is Anneme en haar man geskei. Sy vertel: “Die huwelik was toe eintlik lank reeds aan die verbrokkel. Ek het uiteindelik besef ek moet ’n besluit neem, ter wille van ons almal.

“Ons is nie hier op aarde om ongelukkig te wees nie. En ná 19 jaar se getroude lewe is ons geskei. Dit was nie maklik nie.

“Maar die waarheid is dat ek van lag en liefhê hou, van mooi dinge. Ek het besef ek kan nie goed wees vir ander as ek self ongelukkig is nie.”

Dit was pret, ja, maar …

Hierna het sy en die dogters sak en pak by haar ouers op Hermanus ingetrek. Dit het goed gegaan. “Dis lekker om by jou ma te bly, maar die blyplek was effens beknop. Ek en die dogters moes op een bed slaap. Dit was pret, ja, maar nie vir lank nie!”

Toe kruis Anneme se paaie met dié van ’n versorger wat na ’n sieklike bejaarde omgesien het. Hy is na ’n versorgingseenheid verplaas en die huis waarin hy gewoon het, was eensklaps te huur.

LEES OOK: ‘Ek het geleer om Hom in die storm te prys’

“Die huis was pienk, en daar was muise. Maar ek het van die plek gehou en die eienaar gekontak.

“En hoe wonderlik: Die eienaar vra my hoeveel huur ek maandeliks kan bekostig. Op daardie tydstip was my onderneming in sy kinderskoene en ek het eintlik glad nie geld gehad nie. Ek het toe maar oop kaarte gespeel, gesê hoe min ek regtig kan betaal – en sonder om twee keer daaroor te dink, het sy my aanbod aanvaar.

“Daardie einste aand het ek en my jongste sommer daar gaan slaap. Ek kon nie ’n oog toemaak nie en het begin meubels skuif. Toe gebeur dit: Ek lig die matras in die een kamer op – en daar val ’n bondel note uit! Iemand moes dit daar ingedruk het om die bed te balanseer.

“En só val daar drie duisend rand in my skoot, letterlik.”

En hier sit ek …

Kort nadat hulle in die pienk huis ingetrek het, ontvang Anneme ’n oproep van ’n verspreidingsagent wat by ’n reuse-skryfbehoeftegroep betrokke is. “Iewers het sy my pennesakkies te siene gekry, en sy wou weet of ek sou belangstel om dit in hul winkels te verkoop.

“Ek kon dit nie glo nie! Net ’n paar weke tevore het ek die einste groep genader en ek is weggewys.

“En hier sit ek met my ou naaimasjien en werk op my eetkamertafel en hierdie vrou bel my. Dit was weer ’n bewys dat daar vir my gesorg word. Die Here se tyd is nie altyd my tyd nie. Ek moet net vertrou.”

Sy vertel hoe sy nagte deur gewerk het om genoeg pennesakkies gereed te kry. Bedags het haar dogters met die verpakking gehelp.

Vandag bestaan die Anna Me-reeks uit ’n verskeidenheid sakkies, onder meer koelsakkies, toiletwaresakkies en skootrekenaarsakke. Sy het sewe mense voltyds in diens en sy versprei landwyd aan ’n hele rits winkels. Sy verkoop steeds aanlyn en op markte.

Anneme Grobler het by haar ou naaimasjien gesit en pennesakkies stik toe ’n reuse-skryfbehoeftegroep haar genader het om in hulle winkels te verkoop. Dié geleentheid het haar lewe verander. Foto: Gillian Photographer

Binnekort open die eerste Anna Me Handmade-winkel sy deure op die kusdorpie Onrus, net neffens Hermanus.

“Ek kyk vandag met soveel dankbaarheid terug. En ek weet dat as dit nie vir daardie agent was wat my produk gesien en in my geglo het nie, sou ek nie hierdie soort sukses behaal het nie.”

Ek het gedoen wat ek moes

Anneme bestempel haarself as ’n tevrede mens. “Ek was nog altyd so. Ek is tevrede met wat ek gehad het en met wat ek nou het. Ek het nooit gevoel ek moet méér hê en groter dinge bereik nie. Ek het gedoen wat ek moes, en ek het die geleenthede aangegryp wat oor my pad gekom het.”

Douvoordag elke Saterdag gaan swem Anneme en ’n klompie vriendinne in Jan Rabie se poel op Onrus. Dié ritueel het begin as ’n swem-en-sjampanje-geleentheid ter nagedagtenis aan een van haar vriendinne se oorlede ma. Gou het hulle besluit dit is nodig, dié saamwees en die (yskoue) lafenis. Dis nodig vir fokus, vir gesondheid en vir innerlike vrede.

En dít verwoord ongeveer Anneme se lewensfilosofie: om te doen wat jou gelukkig maak. Want, sê sy, ons is nie hier op aarde geplaas om ons lewe te slyt as ongelukkige mense nie. Ons is hier om gelukkig te wees.

Anneme se raad aan entrepreneurs

“Ek dink dis baie belangrik dat jy in jou produk glo, ongeag wat ander daaroor sê of hoe eenvoudig die produk klink of lyk. Daar was mense wat dalk gevoel het my pennesakkies is te eenvoudig, maar ek het bly glo daar is ’n mark.

“En, natuurlik, enigiets wat jy aanpak, verg harde werk. Daar is nie ’n ompad of ’n kortpad nie. Maar as jy daarin glo, sal die harde werk jou nie pla nie.”

  • Dié artikel verskyn in die Lente-uitgawe van die gedrukte LiG.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘As surrogaatma wys ek níks is vir God onmoontlik nie’

DEUR CONETTE LE ROUX “Ek is dankbaar vir die ouers wat mý gekies het om die surrogaatma vir hulle baba...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img