Sunday, July 25, 2021

Hooploos? Hou jou oë oop vir hemelse kos

Die koronavirus jaag ons behoorlik, en dit maak ons siende blind en horende doof vir goeie nuus. Dit maak dat ons, soos Elia, woestyn toe vlug en onder ’n besembos gaan lê en op die einde wag. Maar dan daag die hemelse trooskos op. Sien ons dit raak?

DEUR STEPHAN JOUBERT

Pandemies is groeigrond vir letterlik enigiets. Goed en sleg groei welig in sulke tye.

Gewoonlik sien ons die groeikrag van die slegte dinge heel eerste raak. Ons vaar net soveel beter met moeilikheid raaksien as met God raaksien. Daarby glo ons slegte nuus makliker as wat ons goeie nuus glo.

En dis presies wat Julia Roberts se karakter in die fliek Pretty Woman sê: “The bad stuff is easier to believe. You ever notice that?”

Onder die besembos

In swaar tye staar ’n mens jou maklik blind teen alles wat sleg is. En voor jy jou kom kry, lééf jy jou sommer ook uit alle hoop uit. Vra maar die mense daar in koning Agab en sy vrou Isebel se tyd (874-853 vC).

Isebel was ’n moeilike tannie. Toe ’n reusehongersnood in die land uitbreek, het sy die staatskas geplunder om 850 priesters van die afgode Baäl en Asjera aan die lewe te hou. So tussendeur lees ons in 1 Konings 18 hoe sy die Here se profete links en regs laat doodmaak het.

Isebel se boosheid en afgodery het haar berug gemaak. Dis ’n reputasie wat haar naam oor alle eeue sou bevlek. Frankie Laine sing byvoorbeeld só in sy lied “Jezebel”: “If ever the devil was born with­out a pair of horns; It was you, Jezebel, it was you. If ever an angel fell; Jezebel, it was you, Jezebel, it was you.”

Gevaarlike tye bring gevaarlike mense voort.

Tog het een man dit gewaag om hom teen Isebel se korrupsie te verset – die profeet Elia. Die skrywer van 1 Konings 18 vertel van die groot stryd tussen hierdie profeet en Isebel se 450 Baälprofete. Elia het nie sag met hulle gewerk nie …

LEES OOK: Maak 2021 ’n hersteljaar!

Isebel was woedend oor haar profete se noodlottige nederlaag. Net daar het sy Elia se doodsvonnis onderteken. Sy doppie was geklink.

Elia moes vlug vir sy lewe. Die skrywer sê dat Elia so vinnig die hasepad woestyn in gekies het dat dit gelyk het asof hy vir sy slaaf weghardloop. Elia was klaarblyklik meer vlug-fiks as die slaaf.

Elia wou van alles en almal af wegkom. Toe beland hy onder ’n besembos, moeg geleef, sonder hoop, óp geleef. Die Here moet hom maar kom haal, het hy gesug. Hy kan eenvoudig nie meer nie.

Vlug-fiks

In hierdie korona-tyd verstaan ons iets van Elia se hooploosheid. Ons eie gevleuelde woorde – lank, lank gelede, op 31 Desember 2019 om presies te wees – het in 2020 se dryfsand weggesyfer.

“Voorspoedige nuwe jaar!” het ons mekaar mos toegewens. Toe word ons wens nie bewaarheid nie. Trouens, die nuwe jaar was “on-voorspoediger” as wat ons ooit kon dink.

Eensklaps was dit ’n ganse mensdom teen Die Virus. Drome het verlore gegaan, sakeondernemings het gesink. Kinders se ideale vir ’n lekker skooljaar lê aan skerwe, grootmense se toekoms is duister. Onsekerheid en ’n siniese ingesteldheid het onwelkome kuiergaste geword.

En só het dit gebeur dat almal, stadig maar seker, begin het om vlug-fiks te raak. Die koronavirus het ons in vlugtelinge verander, voltydse vlugtelinge. Ons vlug vir ons gesondheid. Ons vlug vir ons lewe. Ons vlug sommer net …

Sonder ophou moet ons afstand tussen onsself en ander probeer kry. “Sosiale afstand” het “fisiese afstand” geword. Ons kort ruimte, bloot om veilig teen hierdie onsigbare vyand te probeer wees.

Boonop het ons gesig ook agter ons lapmasker verdwyn. En daarmee saam ons gesigsuitdrukking – ons omgee en ons blydskap en ons pyn wat altyd gesig-groot op ons afgedruk is. Dit alles word nou weggesteek.

Baie van ons se geloofsvlammetjies brand ook al hoe dowwer. Ons geloof maak nie eens meer ’n verskil aan ons manier van leef nie, net soos met Elia daar in die woestyn. Soos hy, is ons moeg. Lewensmoeg. Dood-moeg.

Kos uit die hemel

Ná ’n dag se vlug die woestyn in het Elia onder ’n besembos gaan lê. Sy arms was sekerlik in die sterf-posisie oor sy bors gevou. Hy het net mooi genoeg gehad.

Maar toe kies God om van sy profeet te verskil. Hy kies om ’n engel na Elia toe te stuur, met hemelse kos.
Elia het die fout gemaak om te dink dit was sy laaste aardse ete, soos iemand in die dodesel wat op ’n laaste gunstelingmaaltyd voor die teregstelling geregtig is. Woordeloos het hy sy aardse afskeidsete geëet. En weer gaan lê, gereed vir doodgaan.

Toe skud die engel hom wakker: Elia moes wéér eet. Daar was ’n hemelse tweede porsie.

Dit was toe leef-kos, nie doodgaan-kos nie.

Elia het nie die reg gehad om te besluit wanneer sy lewe oor en verby is nie. Hy kon nie besluit wanneer dit wedstryd­punt teen hom op hierdie aarde is nie. God besluit hieroor, nie sy vuisvoos profeet nie.

Daarom dat die engel met lewenskos opgedaag het. Elia moes krag hê vir die nuwe pad, vir die een daar na Horeb toe. Hy moes gaan berg klim; die berg van die Here het op hom gewag. ’n Nuwe ontmoeting met die Here het voorgelê.

Wanhoop sou nie die laaste sê in Elia se lewe hê nie; God se genade en goedheid sou.

God-fiks

Elia het dit toe tot by Horeb gemaak. Die twee porsies hemelse kos onder die besembos het hom tot daar gedra.

Op God se berg het ’n ontmoeting tussen hemel en aarde plaasgevind. Hierdie keer was dit nie met donderslae, aardbewings of magtige rukwinde nie; in ’n sagte stilte het God Hom aan Elia hoorbaar gemaak.

Só het hoop en geloof op ’n nuwe manier deurgebreek. Nogmaals het God daar in die woestyn én op Horeb geweier dat slegte omstandighede wen. Asook daardie goor leuen dat Hy niks meer omgee nie.

Nooit is dit die einde net omdat óns besluit het dis die einde nie. Die korona­virus besluit dit ook nie namens ons nie.

Die Here se goedheid is nie minder werklik hier in 2021 nie. Slegte dinge het nie die alleen-sê óf die laaste sê nie. Die virus is nie ’n finale uitklophou nie.

Nog ’n keer weier die Here om ons uit te tel as ons teen die planke is. Daarom stuur Hy in hierdie dae, en op sy eie manier, ’n mandjie hemelse kos na ons toe.

Ons moet net ons oë oopmaak en dit raaksien.

God laat Hom steeds vind. Nuwe krag en nuwe hoop is weer in sy omge­wing beskikbaar. God kies om van hooploses te verskil. Horeb wink ons nogmaals nader.

Klim asseblief hoër teen die berg van God op. Hoor sy stem in die sagte fluistering van die windstilte. Raak God-fiks. Leef weer ’n bietjie!

O ja, en deel ook die Here se hoop met almal om jou daar van die bergtop af. Vertel hulle dat Christus se goeie nuus regtig makliker is om te glo as al die slegte nuus waarvoor hulle hul ore so graag in hierdie tyd uitleen.Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img