Ivor Swartz het in Grabouw se rooigrondstrate grootgeword. Hier was baie rondloperhonde en min pa’s. Hier in die “Gaatjie”, die ghetto, wêrelde verwyder van die prentjiemooi Elgin-gedeelte.

Sy pa was Pieter, ’n werker op ’n appelplaas, en hy is dood toe Ivor drie jaar oud was. Ma Lettie moes hom en sy broers en susters alleen grootmaak.

Die oudste broer het die gesin geterroriseer. Een nag het Ivor en ’n vriend hom doodgeskiet. Ivor was 14 jaar oud toe hy vir moord opgesluit is.

Bogenoemde is gelukkig net ’n deel van sy verhaal.

Vandag is Ivor jeugleraar by die NG Kerk Pretoria-Oosterlig en ’n skrywer by ekerk, en is hy landwyd by jeugbediening betrokke. In sy boek Die verlore seun ­vannie Gaatjie (Lux Verbi, 2020) vertel hy sy eie Verlore Seun-verhaal, in die hoop dat mense wat dit lees hul bitterheid by die deur sal los en by hul Vader se feesmaal sal gaan aansit.

In die varkhok

Die leser begryp baie gou waarom Ivor die hoofstuk oor sy grootwordwêreld met Johannes 1:46 begin. Dis ’n aanhaling uit ’n gesprek tussen twee skeptiese Jesusdissipels, en lui só: “‘Jy speel seker. Kan daar uit Nasaret enigiets kom wat die moeite werd is?’ was Natanael se reaksie. ‘Kom kyk self,’ het Filippus egter volgehou” (NLV).

Ivor en sy vrou Nadine. Foto verskaf

Ivor beskryf sy grootwordplek só: “In Bosstraat 197, Pineview, is ek gemaak en laat staan, en oorgelaat aan ’n lot wat enige duiwel ’n run vir sy money sou gee. Jy’t ’n PhD plus 15 jaar se ondervinding in survival nodig om by hom kers op te steek. Dis ’n huis wat se fondasie nie die gewig van al sy stories kon dra nie.

“Ons het in die middelste huis van drie gebly – ’n skakelhuis-eenheid reg langs die bruin hoërskool, Groenberg Sekondêr. Net die skool se vibracrete-muur het ons van mekaar geskei. Al drie families in ons eenheid het ’n weduwee as hoof van die huis gehad. Antie Nettie aan ons regterkant en antie Meisie aan ons linkerkant.

“Saam met my ma het hulle gereeld gekuier en by mekaar gekla. Dis waar ek hardop gedroom het, en saggies gehuil het, en bang was vir God. Dis waar ek gewys is hoe liefde nié moet lyk nie. Dis waar ek gehoor het God tug dié wat Hy liefhet, en waar ek een aand op die agterstoep gesit en huil het terwyl die reuk van vars dagga in die lug hang, en ek vir God gevra het om ons nie meer lief te hê nie, want sy tug los merke.”

Ma Lettie en die Coetzees

Ten spyte van Ivor se hoop-lose omstandighede was daar altyd mense wat Jesus se liefde aan hom kom wys het.

Só skryf hy byvoorbeeld oor sy ma: “Vrou-alleen, sonder kla of om te dink aan tou opgooi of om weg te gaan en net nooit terug te kom nie, het sy ons ná my pa se dood grootgemaak. En al sukkel ek om meer van my kinderdae se herinnerings na vore te roep, is daar geen twyfel by my dat my ma vir haar kinders geleef het nie.

“Ek wens nou meer as ooit daar was tyd vir ons om ook vir haar te kon leef.”

Ivor vertel wat sy ma hom geleer het: Wat jy eet, is nie so belangrik nie; eerder saam met wie jy eet. Jy moenie toelaat dat armoede jou vreugde steel nie; haar vreugde het sy aan haar liefde vir haar kinders gemeet.

Dis sy ma se opofferings, sê hy vandag, wat die grootste rede is waarom hy ander mense wil help.
Ivor se bekering as 21-jarige was dan ook die antwoord op sy ma se jare lange gebede. Nadat hy vyf jaar tronkstraf in die Brandvlei-gevangenis uitgedien het, het hy sy lewe vir God gegee.

’n Lidmaat het ná die diens in die Agapé-gemeente met die gebedversoekhouer na hom toe aangestap gekom. Binne-in was ’n klein papiertjie met Ivor se naam op. Sy ma het jare tevore in dieselfde kerk reeds gevra dat almal sal saam bid dat Ivor die pad na sy Vader sal vind.

Dan was daar Gerrit en Ami Coetzee, die eerste wit mense wat Ivor leer ken het. Volgens Ivor het hulle hom aan die Jesuslewe van onselfsugtigheid blootgestel.

Die Coetzees het uit vrye keuse ook in die Gaatjie gewoon. Ivor vertel: “Hulle het in 1993 sak en pak in die Gaatjie ingetrek nadat hulle hul huis, kar en baie ander besittings verkoop het om Jesus tussen die Gaatjie se bruin mense te soek en raak te leef. Voor hulle was die enigste wit mense wat jy in die Gaatjie gesien het óf die polisie óf die welsyn …”

“Ek is gebore om vir jong mense in skole te gaan vertel hulle het waarde, hulle het ’n roeping, hulle het ’n indentiteit in Christus en, bowenal, hulle kan bydra om gesonde gemeenskappe te bou. Hulle hoef nie slagoffers van hulle omstandighede te wees nie. Hulle kan nóú kies om reg te leef.” Foto: Hanneri de Wet

Een skoolvakansie het Ami en Gerrit ’n groep Gaatjie-laaities met ’n Kombi strand toe geneem. Iewers langs die pad het hulle ’n man met ’n Harley-Davidson teëgekom, en dié het Ivor vieslike woorde toegesnou omdat hy na die motorfiets gestaar het.

Hieroor skryf Ivor: “Gerrit en Ami het my gewys dat daar baie meer opregte, mooi, suiwer, liefdevolle, lewegewende wit mense is as wat daar rassistiese mans op motorfietse is.

“Dit hang net af waarop jy fokus. As jy ’n rassis agter elke bos gaan soek, gaan jy een daar kry. Dis ook waar van al die ander rasse in ons land. Ons kan kies om ’n hele groep mense oor dieselfde kam te skeer en om nooit nader te beweeg aan mense wat nie soos ons dink, leef, praat of lyk nie.”

‘Ek is nie skaam nie’

“Ek vou steeds my klere op soos ek dit in die tronk leer doen het. Ek slaap nog elke aand met my kussing oor my oë soos toe ek in die tronk was. Ek eet steeds nie stywe mieliepap nie, omdat ek dit vyf jaar lank in die tronk geëet het.

“Ek het gegroei. Ek is baie ver verwyder van my tronklewe. Niemand wat my vir die eerste keer ontmoet, sal ooit die merke van swaarkry op my gesig of op my lyf of in my lag kan sien nie.

“Maar ek is ook nie skaam oor waar ek vandaan kom nie. Dis deel van wie ek is, en mense moet my óf aanvaar met alles, óf my glad nie aanvaar nie. Ek het die ‘2’ en die ‘6’ wat op my twee skouers getatoeëer is amper 15 jaar later steeds nie verwyder nie, omdat ek soms bang is ek beweeg so ver voor my verlede uit dat ek nie meer gaan onthou waar ek vandaan kom nie.

“Maar dis ook tyd om daardie vallei te groet. Sodat ek nie die hele tyd rondloop en vra hoekom al hierdie dinge met my gebeur het nie. Ek wil liewer vra hoe dié dinge nou, elke dag, tot ’n groter hoop kan bydra, ’n hoop wat ons land desperaat nodig het.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail