Sunday, July 25, 2021

VIDEO: Ma se leuse na dogtertjie se dood: ‘As sý kon uithou, kan ék dit doen’

23 April 2021


Deur Conette le Roux; Video: Robert Cable

“Ek het die volgende oggend gaan draf. Ek kon nie eens ’n kilometer maak nie. Die trane het geloop, maar ek is om die Perdeskoen. Dit was vir my verskriklik bevrydend.”

Só beskryf Anja Coetzee die dag na haar 7-jarige dogtertjie aan ’n rare kanker gesterf het. Dié ma het maande lank nie uit die kamer gekom nie omdat sy Mia 24 uur per dag versorg het. Mia was een van die jongste kinders in Afrika wat dié jellie-agtige kankergewas (chordoma) naby haar breinstam gehad het.

Anja se verskriklike verlies het haar aangespoor om die volgende oggend die hoefystervormige roete van sowat 7 km op haar Bolandse tuisdorp Wellington te gaan aanpak.

Dis nou ’n jaar en ’n half later en Anja draf nou met gemak 42 km én sy oefen vir die volgende Comrades. Nogal ’n prestasie vir iemand wat nooit voorheen enige vorm van hardloop aangepak het nie.

Maar Anja verduidelik sy kan nie anders nie. Want die manier hoe Mia braaf bly veg het vir haar lewe, gee háár die moed.

“Die laaste week wat Mia met ons was, was sy verskriklik swak. Sy kon vir ’n paar maande nie meer hoor nie. Sy kon nie regtig praat nie. Maar sy het bly fight, sy het net nooit ophou fight nie. Daardie laaste week het my twee beste vriendinne by my gesit, toe ek sê ek gaan die Comrades hardloop. Ek het daar gesit, iemand wat skaars uit ’n kamer uit gekom het, toe super-onfiks. Maar ek het gesê ek gaan die Comrades hardloop. Want as sý kon uithou, kan ék dit doen.”

“Ek moes ’n doelbewuste wilsbesluit neem om voort te gaan en gelukkig te wees sedert Mia oorlede is. Ek het nog ’n dogtertjie en ek moet vir haar ook die beste gee wat ek kan,” vertel Anja. Hier is Anja en Mia net voor sy oorlede is. Foto: Hennie van Loggerenberg van Octa 5

Behalwe vir Anja se nuwe stokperdjie is sy baie dankbaar vir die “familie, vriende en vreemdelinge” wat haar steeds onophoudelik ondersteun.

“Mense het vir my gesê die ondersteuning gaan afskaal. Dis nou om jou, maar dit gaan minder raak. Maar in my geval het dit nie, dit het meer en meer geraak. Kennisse het vriende geraak en vreemdelinge het fondsinsamlings gereël en beste vriende geraak. Dit is net ongelooflik.”

Sy vertel met ’n groot glimlag van die “teespan” – tuisblymammas wat in die oggende kom tee drink het – en die “wynspan” wat laatmiddae saam met Anja rondom Mia se bed kom kuier het.

“Mia the brave,” soos Mia bekend geraak het, het Anja en twee vriendinne geïnspireer om ’n nie-winsgewende maatskappy te stig om ander kinders met rare kankers te ondersteun.

Die maatskappy Mia the Brave samel fondse in om ouers veral finansieel by te staan wat hulle kinders midde-in dié moeilike kankerstryd moet help.

LEES OOK: ‘Ek is verpletter na klein Miga se dood, maar God is my Lewensredder’

Volgens Anja is dit onmoontlik vir die versorgende ouer om te werk in so ’n moeilike tyd. “Daai kind is afhanklik van jou. As ’n kindjie siek is soek hulle hul ma. Julle is dae lank in hospitale. En ons praat nie van dae nie, maar van weke en maande.”

Anja vertel dat sy op verskeie kankergroepe is en sien hoe ouers finansieel sukkel om alles by te bring. “Ek het al gesien hoe ouers somtyds nie petrolgeld het om ’n kind na ’n hospitaal te neem nie.”

Anja onthou hoe hulle een keer in die hospitaal nie kon huis toe gaan sonder ’n duur draagbare slymmasjien wat Mia benodig het nie. Haar vriendin Chantelle Grobler het Mia se ondersteuningsgroep op Facebook om hulp gevra, en die volgende dag kon hulle met die masjien huis toe gaan.

Mia the Brave wil ook ander kinders en ouers op dieselfde manier help.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img