Lê net vinnig besoek af by jou kind se skool se WhatsApp-groep – en jy begin gou wonder oor jou vermoëns as ma. Hoe bly jy by met die ander ma’s? Die model-ouers wat skynbaar moeiteloos aan al die eise voldoen wat die skool en die samelewing aan hulle stel?

DEUR RENÉ BADENHORST

Niks kan ’n mens voorberei op daardie heilige oomblik wanneer jy vir die eerste keer ’n bondeltjie mens in jou arms vashou nie. Met een slag tref ’n warboel uiteenlopende emosies jou: van ’n intense gevoel van liefde en opgewondenheid en geluksaligheid, tot die oorweldigende besef dat jy in hierdie nuwe rol geen vorige ondervinding het om op te steun nie.

Omdat jy net die heel beste vir jou kind wil hê, maak jy gou seker wat al die mylpale is wat jou kind moet behaal. Én hoe om hierdie nuwe stuk verantwoordelikheid op die beste moontlike manier groot te maak. Jy sorg dat jy jou met alle moontlike inligting bewapen om uit die staanspoor álles reg te doen.

LEES OOK: Die Spreuke 31-vrou? Wat van (arme) ék?

Maar gou besef jy dat daar meer bestanddele as net die regte inligting nodig gaan wees om sukses met hierdie resep te behaal.

Want, sien, hierdie klein mensie, die een vir wie jy net die beste wil hê, het ‘n eie wil … En dis ’n wil wat nie altyd kalm en verstaanbaar en met mooi woorde uitgedruk word nie. Én wat meestal wêrelde verskil van die planne wat jy so netjies uitgewerk het.

As daar boonop ’n boetie of sussie (elk ook met ’n eie wil) in die prentjie kom, asook verantwoordelikhede by die werk en in jou huis en huwelik, dan voel dit gou asof dinge buite beheer raak.

Om sake te vererger, word jy so tussendeur met allerlei prentjies op televisie en sosiale media gebombardeer van hoe ander ma’s – van die vlytige, bekwame, perfékte soort – glimlaggend en sweetvry daarin slaag om alle moontlike balle in die lug te hou.

Nee, suksesvolle moederskap is jou, helaas, nie beskore nie …

Multitasking mother working from homeHokaai, eers!
Baie ma’s voel skuldig omdat hulle nie aan hul omgewing se immer groeiende en veranderende standaarde voldoen nie. Ons moet onsself egter daaraan herinner dat die beeld wat die media aan ons voorhou nie altyd die volle prentjie weerspieël nie. Wie weet watter uitdagings trotseer elk van daardie ma’s wat so perfek voorkom?

’n Ou gesegde wil dit hê dat vergelykings jou vreugde steel. Net soos ons nie ons voorkoms, besittings of sukses met ander mense s’n kan vergelyk nie, kan ons dit ook nie met ouerskap doen nie. Hierdie soort vergelykings is gewaarborg om ons
vreugde te steel.

Die belangrike vraag is: Wat is werklik belangrik vir my kinders?

Letsie de Beer van Durbanville vertel hoe sy as werkende ma allermins by die samelewing se perfekte prentjie ingepas het toe haar kinders klein was. “Ek was
meer in die buiteland as tuis,” vertel sy.

“Ons drie peuters (toe onderskeidelik vier, drie en een jaar oud) was op daardie stadium baie afhanklik van hul ouers, en ek was maar te dankbaar dat my man bloot met hul basiese behoeftes – eet, slaap en bad – kon byhou.

“Om dit alles saam met sy werk en met die matige behoud van sy ‘sanity’ reg te kry, was wat ons betref ’n groot oorwinning. Selfdoenprojekte vir die kinders was maar yl gesaai. Ons projekte was eerder dinge soos elementêre modderspeletjies, koekies bak en blokkies bou. “So 10, 15 jaar gelede het sosiale media genadiglik nog nie so ’n groot rol gespeel nie, en die ‘model-ma’s’ was minder sigbaar.”

Letsie se kinders is nou in die hoërskool, wat haar met ander oë laat kyk na wat kinders werklik nodig het. Sy sê: “Ek het altyd geglo my korporatiewe werk weerhou my daarvan om ’n goeie ma vir my jong kinders te wees, maar vandag is hulle onafhanklike, selfstandige jong mense. Ek het tans die voorreg om van die huis af te werk, en ek geniet die drie jong volwassenes se uiteenlopende denkpatrone en geestelike paadjies.”

Haar raad aan ander ma’s?

“Wees die beste weergawe van jouself, dan is jy die beste ma vir jou kinders. As ek dit alles weer kon doen, sou ek doelbewus meer tyd bestee aan dit wat ek nodig het om my tenk vol te maak. Sodat ek in die kort tydjies wat ek saam met my kinders het, volledig teenwoordig kan wees, liefde en aandag kan gee en saam met hulle kan pret hê.

“Een ding waarvan ek meer sou wou hê toe my kinders klein was, is persoonlike, aangesig tot aangesig-geselstyd. Die waarde van kommunikasie, verbondenheid en identiteit word daardeur sóveel versterk, sommer van kleins af.”

Jy is goed genoeg!
Naas die huwelik is ma-wees seker een van die mees verrykende ervarings in die groei van ons menswees en ons verhouding met God.

Een van die dinge wat ouerskap in ons na vore bring, is ’n diep gewortelde behoefte aan erkenning. Dis nie altyd vir onsself so sigbaar nie, maar wanneer ons gedurig probeer oplet hoe perfek (of “nieperfek”) ons kinders in vergelyking met ander mense se kinders is, en sodoende (volgens ons) vasstel hoe suksesvol ons ouerskap is, dui dit net op een ding: ons prestasiegedrewenheid.

Ons val pens en pootjies vir die leuen dat jou waarde bereken word deur jou prestasies en mislukkings teen mekaar op te weeg. Boonop leer ons dit dan aan ons kinders, al is dit bloot deur die druk wat ons op hulle plaas. Ja, die gesinslewe kan soms ’n mynveld wees. Ons maak foute. Niemand slaag daarin om elke situasie elke dag ewe wonderlik te hanteer nie.

“Maar,” sê Jim Daly, president van Focus on the Family,” dis juis in die veilige ruimte van die gesin waar ons veilig genoeg kan voel om onsself te wees. En om in ons strewe om soos Jesus te word, ook te mag foute maak.”

Dis te midde van hierdie uitdagings dat ons moet besef dat God se genade alles
bedek. Hy sien al ons foute raak, en sê steeds: “Jy is goed genoeg!”

Hy is oneindig lief vir ons, feilbaarheid en gebrokenheid en al. Wanneer God se liefde en aanvaarding ons fokus word, kom ons vry van die knaende gevoel dat ons iewers gefaal het.

God maak nie foute nie. Hy het geweet dat juis jy die ma is wat jou kinders moet hê. Jou unieke talente en swakhede is, saam met God se werk in jou kinders se lewe, goed genoeg om hulle die liefde en bystand te gee wat hulle nodig het.

Ons moet ook besef dat ons nie alles kan beheer nie. Met al die veranderlikes wat by ons kinders se opvoeding betrokke is (insluitend daardie eie wil …) kan ons net ons bes doen. En dan erken dat ons vir die res van God afhanklik is.

“Jy kan nie ’n saadjie laat ontkiem nie,” sê Jim. “Jy kan dit nie dwing om te groei en te blom nie. Jou werk is om dié wonderwerk te help voltrek.”

Ons stap nie die pad van ouerskap alleen nie; God stap saam met ons. Dit wat bo ons vermoë is, kan ons net van Hom ontvang of biddend aan Hom oorlaat. Ons kan Hom met ons kinders vertrou.

Wanneer ons hierdie dinge besef, kan ons ons met vrede aan hierdie “kompetisie” onttrek en bloot ons ma-wees geniet. Dan sal ons nie so besig wees met allerlei projekte om die perfekte ma te probeer wees nie. En nie die voorreg verspeel om ons kinders lief te hê en te waardeer vir wie hulle is nie.

Wees gerus maar voluit die ma wat God jou gemaak het om te wees. Net soos jy is.


Bykomende bron

Home

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail