Sunday, July 25, 2021

Virtuele gedenkdienste: Kleindogter wil ander help na oupa se dood

Deur Anelia Heese uit Nürnberg, Duitsland

Ek en my man woon al ses jaar in die buiteland. Soos met 820 000 ander emigrasiegesinne, is ons geliefdes reg oor die wêreld versprei. Op Nuwejaarsdag wens ek my oupa ’n geseënde jaar toe. Sy onopgesmukte antwoord oor ’n blikkerige telefoonlyn: “My kind, ek gaan nie hierdie jaar deurmaak nie, en ek gaan jou nie weer sien nie.” ’n Lewe in die buiteland dwing jou om afskeid van baie dinge te neem: jou geborgenheid, jou gemaksone, jou gemeenskap. Jy raak gewoond daaraan, maar die trauma bly jou by. Die afsterwe van my oupa het hierdie letsels ontbloot: die frustrasie van nutteloosheid in ’n nuwe land, en die pynlike verlange na jou mense. Toe kom die inperkings. Sy afskeid was finaal. Nie slegs van my nie, maar van sy reisgenoot van ses dekades, sy kinders, ander kleinkinders, vriendekring, sy gemeenskap. My ouma se boodskap verskyn op ’n koue selfoonskerm: “Ek kon nie eens my maat groet nie … ek kon net vir oulaas by die hospitaal se ingang my elmboog teen syne druk. Hy het in sy laaste oomblikke na my geroep. Ek kon nie daar wees nie.” Afstand baan die weg tot avontuur, maar soms voel dit bloot onregverdig. Grendeltyd het ons van afskeid en bystand beroof. Nietemin skep digitale media ’n legio moontlikhede om met mekaar te kommunikeer. Ek het huldeblyke via WhatsApp-stemboodskappe versamel en die klankopnames in ’n afgeronde diens verwerk.

Anelia Heese vertel ‘n virtuele gedenkdiens is nie ‘n plaasvervanger vir die fisiese nabyheid van geliefdes nie, maar dit laat jou toe om in ‘n spreekwoordelike kring te sit en te kommunikeer. Foto verskaf

Op hierdie besonderse wyse vergader ons almal – elk in sy/haar afsonderlike sitkamer – deur na die oudiodiens te luister. Aussies, Britte, Duitsers, Kapenaars, Transvalers en Boesmanlanders voel vir een besonderse uur mekaar se nabyheid aan. ’n Virtuele gedenkdiens is nie ’n plaasvervanger vir die fisiese nabyheid van ons geliefdes nie. Met die oudiodiens kon ons egter in ’n spreekwoordelike kring sit en elke deelnemer kon met waardigheid kommunikeer: dié wat mompel, dié wie se hande van Parkinson se siekte bewe, dié wat halfpad deur hul huldeblyk begin huil, dié wat uitbundig kon lag oor ’n vrolike herinnering. Die formaat is besonders omdat mense se voorkoms nie hul boodskap oorskadu nie. Ek was gevolglik meer ontvanklik vir dít wat mense gedeel het. Die oudiodiens dien ook as ’n unieke aandenking wat meermale vir ons troos kan bied. Vir iemand wat ’n dekade gelede haar Bybel oopgemaak het, kon ek my Christelike opvoeding deur hierdie rouproses waardeer. Dalk vorm ’n virtuele begrafnisdiens ’n parallel met die krisis waarin ons tans leef, en die kruisiging van Jesus: Ons moderne samelewing is eensaam. Jesus was uiters eensaam in die tuin van Getsemane. Jesus roep uit: “Waarom het U my verlaat?” Ons wag op ’n ingryping, tog bly ons dringende vrae onbeantwoord. Hierdie pandemie is die wond in ons sy wat ons menslikheid, ons feilbaarheid, ontbloot. Thomas betwyfel Jesus se dood. Hy wou die littekens aanskou om sy ontkenning te regverdig. Óns ontken dikwels die pyn wat ons samelewing ons medeburgers – ons naaste – toedien. Soms weier ons selfs om die letsels te aanskou. Ten spyte van die pyn wat Jesus deurgaan met die afskeid van sy aardse bestaan, skenk Hy sy vrede aan ons. Dalk is dít wat hierdie krisis ons noop om te doen: die skenk van vrede, ten spyte van onoorskrybare fisiese grense. Vrede bied ruimte vir liefde, en deur liefdevolle dade kan ons grense verskuif. Liefde skep nabyheid in grendeltyd.

Anelia bied gedenkdiensbegeleiding aan by www.herklink.co.zaFacebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

Arendsvlerke vir dié wat op die Here vertrou

DEUR ENGELA DUVENAGE Elsa Winckler is jare lank reeds een van die gewildste liefdesverhaalskrywers in Afrikaans. Haar jongste boek, Arendsvlerke...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img