Dit is nou sowat vyf dae sedert die foto van Vissie (68) en Dirk Langer (72) in die gietende reën op hulle plaas Kareekop buite Williston geneem is.

Dié foto van ’n kaalvoet Vissie wat met toe oë toelaat dat die water oor haar spoel, terwyl sy hand om die lyf met haar man Dirk staan wat breed glimlag, het mense landwyd aangegryp en is wyd op sosiale media gedeel.

“Die doel was nie om bekend te raak nie, hoor. Ons vriende (Dons en Magda Claassens) van Limpopo het by ons gekuier en die foto geneem omdat ons só bly was dat die trane geloop het.

“Ons was eers bang dis net ’n paar druppels wat weer gaan ophou. Jou hart raak klein, jy is op jou senuwees en jy wonder: Gaan dit regtig reën? Toe dit aanhou, begin ons binne die huis van venster tot venster hardloop en toe gaan ons uit om dit te voel …”

Vissie vertel die foto is toe aan hulle kinders gestuur om ’n kettinggebed te begin, en so het die foto begin versprei.

Almal bid nou saam vir nog goeie reën. Vissie verduidelik: “As ons nie vinnig opvolgreën kry nie, gaan ons nie die diere veld toe kan stuur nie. Dis net te droog.”

Hulle diere is tans in voerkrale.

Sy vertel met dankbaarheid hoe hulle die afgelope paar jaar vanaf donateurs kos-, voer- en dieselskenkings gekry het.

“Familie het gehelp, maar selfs ook mense wat glad nie familie is nie. Ons is so dankbaar, maar dit is moeilik, want soms voel jy soos ’n bedelaar.”

Vissie vertel hulle het vyf dogters wat vanaf Windhoek tot in Ventersdorp woon. “Dié wat in Moorreesburg, Vredendal en Durbanville woon kan ons gereeld sien. Maar ons kon vyf jaar laas vir die ander kinders gaan kuier hoofsaaklik omdat ons die diere moet voer en daarom nie van die plaas kan weggaan nie.”

Hulle moes ook aanpassings maak om te oorleef. “Ons het geleer om tevrede te wees met wat ons het en absoluut net die nodigste te koop. Ons het ons hospitaalplan behou, maar verder alle onnodige uitgawes gesny,” sê Vissie.

Vissie vertel ’n paar dinge het hulle die afgelope droogtejare staande gehou.

“Gebed, ons geloof en bemoediging van jou vriende en kinders. Ons almal in dié wêreld bemoedig mekaar en ons bly glo en vertrou op God.

“Maar daar is dae wat ons geval het, maar ons het nie verder as ons knieë geval nie.”

Vissie skep ’n prentjie van hoe hulle plaas se veld gaan lyk as die reën wel genoeg was: “Die natuur is wonderlik. Hier by ons is die driedoringbos. As daar genoeg reën was, sal hy eerste blom. Die skape hardloop hulle maer agter die bos aan, want hulle is mal daaroor. Dis baie voedsaam vir hulle.”

Sy wil ook byvoeg: “Baie mense (op sosiale media) het gevra hoekom my tuin so groen is op die foto. Ek het gryswater en baie spaarsamig van die boorgatwater gebruik om die blomtuin om ons huis aan die gang te hou. As ek nie die afgelope jare my tuin gehad het nie, weet ek nie. Dit was vir my terapie om daar te sit met die dorre veld om ons.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail