Vandag is een van die Boland se eerste yskoue winterdae. Binnekort moet dié uitgawe drukkers toe gestuur word. Gewoonlik stoei die LiG-span in sulke tye saam, hier in ons geliefde Fergusongebou in Wellington. Maar vandag is dinge anders. Elke lid van die redaksiespan woeker by die huis. Alleen. Daar is geen dinkskrum om die tafel of ’n beker stomende filterkoffie wat gereeld deur koffieklub-kollegas op jou lessenaar neergesit word nie.

Boonop is Francine Prins nie nou hier om LiG se sake te bestuur nie. Gaan lees hier oor hoe die koms van klein Katinka Francine met verwondering en vreugde vul.

conette Julie-redakteursfoto

“Ek het oor die jare geleer dat God juis in moeilike tye mense na jou toe stuur om te kom help,” vertel Conette. Foto: www.octa5.co.za

Ek moet die redakteurstoel volsit – en sedert grendeltyd se aankoms in ons lewe moes ek ook, terwyl ek hier skryf en soos vele ander mammas, my ander nuwe rolle as onderwyser en huisskoonmaker met grasie en geduld probeer vervul. Maar nou jubel ek oor vlak 3.

Maar ek het oor die jare geleer dat God juis in moeilike tye mense na jou toe stuur om te kom help. Mense soos knap kollegas wat die afgelope ruk die ekstra kilometer stap en die ekstra ure insit ten einde die beste moontlike produk aan ons lesers te lewer. Mense wat aanbied om allerlei take, waarby ek eenvoudig nie kan uitkom nie, af te handel. Sonder om vrae te vra.

Die pragtige uitsig hier vanuit my kamer-kantoor is ook ’n seën. Wanneer ek van my skootrekenaar af opkyk, vang my oë die Hawekwa-berge, tot by die hoogste punt van Bainskloof.

’n Nuwe kollega herinner my net verlede week daaraan dat God jou voete soos dié van ’n ribbok maak wanneer jy hoë plekke moet aandurf.            

Werk jy boonop aan ’n wonderlike tydskrif soos dié, ontmoet jy op elke bladsy mense wat jou inspireer.

Ons voorbladvrou, Sonja Herholdt, sê sy probeer ’n wonderwerk in die alledaagse van die Covid-19-pandemie sien. Ook dat sy altyd opkyk na God vir haar krag. En dat sy glo dat die vuur waardeur ons nou gaan, ons nie sal skroei nie. Sy erken wel ook dat die rustigheid wat sy ervaar, met die ouderdom saam gekom het . . .

Die inwoners van Silwerkruin-tehuis is ook deel van my inspirasie-inspuiting. Die tehuis se bestuurder, Yvonne Booysen, vertel van die innerlike krag van ouer persone wat sy in hierdie tyd ervaar het. Van die grasie waarmee hulle die moeilike situasie hanteer. Hulle spring selfs in en help skoonmaak, en hulle skil groente.

Dan is daar Ina Potgieter. Haar seun, sy vrou en hul tweejarige dogtertjie is tien jaar gelede wreedaardig op hul Vrystaatse plaas vermoor. Ina kon die ondenkbare regkry: Sy het die moordenaars vergewe. Sy vertel: “Die Here is nie net mý Verlosser nie; Hy is ook daardie ses misdadigers se Verlosser. God het ’n passie vir siele, en ons is sy medewerkers. As ek wil vergeld, staan ek nie onder God se gesag nie; dan is ék die gesag.”

Maar moenie dink bogenoemdes is die enigste inspirasiebringers nie. Lees, en vind opnuut hoop. Al lê jou pad in hierdie tyd ook met klippe besaai.

Conette

 

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail