Aandaggebrek-hiperaktiwiteitsindroom (AGHS) is ’n siekte wat nie net kinders se lewe besonder ingewikkeld maak nie. Talle volwassenes voer daagliks ’n stryd hierteen; dit dreig om hul loopbaan, verhoudings en selfbeeld te verwoes. Want bloot omdat die simptome by volwassenes dalk nie so sigbaar soos by kinders is nie, beteken dit nie dat dit makliker hanteerbaar is nie. DEUR ILETTE COETZER

Vir kinders wat ’n bietjie woeliger is as wat daar van hulle verwag word, wat dikwels as “stout” en soms as “onmoontlik” beskryf word, word daar dikwels reeds voor hulle skool toe gaan middels soos Ritalin of Conserta voorgeskryf. Ouers en onderwysers is soms hiperbewus van die moontlikheid dat jong kinders aan AGHS kan ly.
Die omvattende invloed wat AGHS – oftewel Attention Deficit Hyperactivity Disorder (ADHD) – egter op baie volwassenes het, word meestal misgekyk. Daar word trouens beraam dat tot 90% van die volwassenes wat aan AGHS ly nie as sodanig gediagnoseer is nie.

LEES OOK: ‘My kind en my (te min) tyd’

“Die onsigbare oorlog”
Die akteur Hykie Berg se stryd met dwelms is wyd bekend; sy geveg teen AGHS egter minder so. In ’n boek wat onlangs verskyn het, My stryd met ADHD: Die onsigbare oorlog (Lux Verbi, 2020), lig hy die sluier oor sy jare lange worsteling met hierdie siekte.
Hy vertel dat hy nooit gevoel het dat hy êrens inpas nie. Op skool was hy impulsief, onoplettend, deurmekaar en uitdagend. In graad twee het die onderwyseres vir sy ma gesê hy gaan eendag in die tronk beland.
Min hoërskole het vir dié rebelse tiener kans gesien. Sy afbrekende gedrag is ook ná skool voortgesit. Ná ’n lang stryd teen dwelms en geestesongesteldheid het hy ’n absolute laagtepunt in sy lewe bereik.
Die pad na herstel was lank en moeilik, maar vandag kan Hykie daarvan getuig dat dit wel moontlik is. Hoewel hy aanvanklik medikasie vir AGHS gebruik het, het hy sekere veranderings aan sy leefstyl gemaak om sy siekte op ’n meer natuurlike wyse te probeer hanteer.

Hykie se storie is een van vele. Dr Kobus Neethling, wêreldbekend as skrywer en kreatiwiteitskundige, sê AGHS is dikwels minder waarneembaar by volwassenes, omdat hulle maniere gevind het om hul frustrasies en impulsiewe gedrag te hanteer. Kinders met AGHS, daarenteen, het dikwels ’n lae selfbeeld omdat hul gedrag gedurig gekritiseer word.
Hierdie aanhoudende kritiek kan jare later steeds ’n negatiewe effek op ’n mens se selfbeeld hê. Dr Neethling sê: “Daar is wel baie AGHS-lyers wat ’n groot sukses van hul lewe gemaak het. Dis egter belangrik om ’n persoon se breinprofiel te ken. Probeer uitvind wat vir hulle belangrik is, ontdek hul passie, en kom só by die regte beroep vir hulle uit.”

Anton van Wyk, ’n Johannesburgse eiendomsontwikkelaar, sê dit het hom lank geneem het om die uitwerking wat AGHS op sy lewe te bestuur. Hy moes leer om sy brein “af te skakel”, en om elke dag doelbewus tyd daaraan af te staan om rustig te raak.
Hy vertel: “’n AGHS-lyer se brein kan nie tussen sy vyf sintuie onderskei nie; dit gee aan elkeen ewe veel aandag. Teen die einde van die dag is jou brein só oorgestimuleer dat jy nie meer konstruktief kan funksioneer nie. Jy kan jou omgewing nie emosioneel of fisies hanteer nie, en jy voel soos ’n mislukking.”
Die moderne lewe is vinnig en dikwels gejaagd, en juis dit laat mense met AGHS erg sukkel. Kortweg: AGHS-lyers moet maniere vind om hulle elke dag tydelik uit die “chaos” te onttrek.

Ek ly aan AGHS – hoe nou?
Daar is nie regtig ’n kuur vir AGHS nie. Vroeër jare het baie dokters gereken dat die meeste kinders dié siekte in hul twintigerjare sal ontgroei. Maar dis dikwels nie die geval nie.
Irene Haasbroek, ’n multidissiplinêre praktisyn in Kimberley, sê AGHS-simptome kan wel deur oefening en harde werk doeltreffend bestuur word. Sy en ander kundiges het die volgende voorstelle:

1. Skep ’n struktuur
Struktuur en roetine is belangrik om te verhoed dat jou daaglikse aktiwiteite oorweldigend raak. Dit sal jou help om op een ding te fokus sonder dat jou aandag afgelei word.
Irene sê: “Probeer om elke dag min of meer op dieselfde tyd te eet, te slaap, te werk en te ontspan. Aanvanklik mag dit ’n stryd wees om by ’n roetine te bly, maar met verloop van tyd sal dit tweede natuur word.”
Dit kan dalk ook help as jy lysies maak en ’n wekker stel om jou aan bepaalde take te herinner.

2. Bly georganiseer
AGHS se grootste vyand is chaos. Irene sê: “Moenie toelaat dat halfklaar projekte jou fisiese of geestelike ruimte oorneem nie. Hou jou werkplek netjies en skaal af. Raak ontslae van enigiets wat nie nodig is nie. Verdeel groter take in ’n reeks kleiner take wat meer hanteerbaar is.

3. Verander jou omgewing
Stel vas wat vir jou werk, en raak ontslae van dinge wat jou aandag aftrek. Aanvaar dat daar ’n sekere mate van ongerief met sekere take gaan wees, maar druk deur. Fokus op die uitkoms van ’n afgehandelde taak.
Irene sê: “Volwassenes met AGHS oorskat dikwels ’n taak se moeilikheidsgraad, en onderskat die positiewe emosies wat met die afhandeling van ’n spesifieke taak gepaard gaan.

4. Ontwerp ’n plan om afleiding te hanteer
Maak ’n lys van algemene afleidings en skryf by elkeen ’n oplossing. Irene noem dit die “indien, dan-plan”. Byvoorbeeld: Indien my kollega my vra of ek wil koffie drink terwyl ek met ’n verslag besig is, dan sal ek sê ek is besig en ons kan later gaan koffie drink.

5. ’n Gesonde leefstyl
Eet reg, oefen gereeld en slaap genoeg. AGHS is ’n wetenskaplike begrip en diagnose en die regte dieet vorm ’n groot deel van die suksesvolle hantering van die simptome daarvan. Dr Shabeer Jeeva, ’n Johannesburgse sielkundige wat in AGHS spesialiseer, stel voor dat AGHS-lyers se dieet uit ’n kombinasie van vrugte, groente, komplekse koolhidrate en maer vleis bestaan.
Dr Jeeva beklemtoon die belang daarvan om drie gebalanseerde maaltye per dag te eet. Hy sê dis ook belangrik dat alle kunsmatige kleurstowwe en geurmiddels, dit wat meestal in verwerkte kosse gevind word, vermy word.
Die ontwikkeling van ’n doeltreffende dieet kan nie regtig sonder kundiges aangepak word nie. Besoek ’n dieetkundige wat in AGHS spesialiseer en werk ’n dieet uit wat by jou leefstyl pas.

6. Oefen gereeld
AGHS-lyers voer daagliks ’n stryd om te kan fokus op dit wat nóú belangrik is. Kundiges stel voor dat lyers met oefeninge soos joga of tai chi begin. Daar is bevind dat dié soort oefening ’n positiewe uitwerking op simptome soos hiperaktiwiteit en angs het.

7. Maak tyd vir jouself
Anton sê dit was vir hom aanvanklik moeilik om sy brein “af te skakel”. Sy terapeut het voorgestel dat hy hom elke middag 15 minute lank afsonder sodat sy brein kans kry om te “herkalibreer”. ’n Volwassene met AGHS kan eksterne stimulasie oorweldigend vind en so ’n mens moet tyd kry om rustig te raak.

Wat van die AGHS-lyer se maat?
Hoe hanteer ’n verhoudingsmaat ’n AGHS-lyer? Irene gee ’n klompie wenke vir diegene wat met ’n AGHS-lyer moet saamleef:
Moenie jou maat se gedrag persoonlik opneem nie.
Lees soveel moontlik oor die siekte.
Wees geduldig met jou maat.
Jy is nie ’n slaansak nie; moenie enige vorm van mishandeling duld nie.
Moenie verantwoordelikheid vir jou maat se optrede neem nie.
Fokus op jou maat se sterkpunte.
Moenie probeer om die probleem op te los nie.
Hou die kommunikasiekanale oop.

Kry professionele hulp
AGHS is nie ’n vonnis nie. Jou lewe hoef nie uit chaos te bestaan nie, maar jy moet hulp kry. Elke persoon wat aan AGHS ly, is anders as ’n volgende; dieselfde medikasie of benadering gaan nie noodwendig vir almal werk nie.
Daar is nie slegs één manier om AGHS te hanteer nie, maar dis ’n geveg wat jy nie sonder ondersteuning kan aanpak nie. Besluit saam met ’n professionele persoon hoe die pad vorentoe moet lyk: Gaan jy met medikasie begin, of wil jy eerder probeer om met die regte dieet en leefstyl die siekte te oorwin?
Hykie sê: “Dis uiteindelik ’n ‘commitment’ aan jouself. Daar ís hoop, jy moet net self besluit dat jy beter wil leef.”

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail