Deur Anieka Janse van Rensburg

’n Jaar terug het ek my eerste werkskontrak geteken. Ek moes eweskielik van vry en kommerlose student na die werkersklas omskakel.

Die besef dat ek ’n salaris gaan verdien was lekker, dis mos my eie geld, so ék kan besluit wat om daarmee te doen. Ek het ook besluit ek is nou groot en ek kan op my eie funksioneer.

Min het ek geweet wat op my wag.

“Ek het die jaar baie onseker en bang begin, en ek kan vandag sê ek het die jaar goed afgesluit. Ek is selfversekerd in my beroep sowel as myself. Ek het hartsvriendinne gemaak wat my lewe vul. Ek weet God het ’n plan met my, waar ek is en ook waarheen ek gaan. Ek is dankbaar eerstens vir God, want hy het elke mens in my lewe geplaas met ’n doel,” getuig Anieka Janse van Rensburg, ‘n 24-jarige onderwyseres van Heidelberg. Foto verskaf

Behalwe vir die finansiële penarie waarin ek myself bevind het, het ek tot die besef gekom dat ek wegtrek van alles wat my op my gemak gemaak het. Ek los my sussie, saam met wie ek in ’n woonstel by TUKS gebly het, ek los my kêrel vir wie ek elke dag vir die afgelope twee jaar gesien het, en my vriende wat soveel ondersteuning aan my bied, agter. Ek trek toe met ʼn swaar hart na ’n nuwe dorp met nuwe mense, nuwe winkels, anderste water en ’n nuwe werk. Hallo, Heidelberg.

Gelukkig is een van my skoolvriendinne ook ’n onderwyseres by die skool en sy help my om my weg te vind. Veral in daai eerste twee weke van chaos. “Wat dra ek alles oor aan die leerders? Waar rol ek aktiwiteite af? Hoe maak ek as ek ’n nood in klastyd het?” Allerande sulke goed wat nie deel was van my graadinhoud nie.

Maar kort voor lank het ek my gemaksone gevind en gee ek klas met die selfvertroue van ’n afgetrede aflos-juffrou.

Intussen leer ek ook die ander personeel ken. My mentor is ook my buurvrou by die skool, en ek vind skuiling in haar warm liefdevolle hart. Sy help my so mooi, en leer my al die kortpaaie wat ’n Afrikaans-onnie nodig het.

My mede Afrikaans-onnie, wat my ma se ouderdom is, raak my ouer vriendin. Ons lag saam oor kinders se spelling, en verskonings wat na vore kom vir laat opdragte. Ons huil ook saam oor hartsdinge wat albei raak. Daar is ’n string onderwysers wat ek kan opnoem wat my so tuis laat voel het in die onderwys, maar dié wat werklik vir my lewenslesse geleer het volg hier.

  • My skoolvriendin gee al vir vyf jaar skool en het haar identiteit as juffrou al gevind en gevestig. Sy leer my van baie, baie, baie goed beplan. En om reg te wees vir enigiets. Sy is ook my steunpilaar en ek raak ’n ousus ryker. ’n Gewese skoolkennis, raak my hartsmens en sielsvriendin.
  • ’n Ander vriendin, wat verhuis het van die Kaap omdat sy in September met ’n ingenieur hier in Heidelberg trou, klim so vinnig in my hart in. Sy leer my dat dit okay is om nie perfek te wees nie, en dat jy partykeer net iets moet los. Sy leer my ook wyshede van die lewe soos: los jou merkwerk by die huis en gaan spandeer tyd saam met jou geliefdes. Aan die einde van die jaar ervaar sy moeilikhede, en is ek dankbaar dat ek háár kan bystaan en oortuig om haar passie en liefde vir kinders te bly uitleef.
  • My derde vriendin laat my dink aan myself, met haar onvanpaste taalgebruik en rabbedoe-persoonlikheid, en ek en sy vind sommer dadelik aanklank bymekaar. Dit is ook haar eerste jaar as juffie, en saam spartel on deur die onbekende waters om net nie totaal en al te versuip nie. Ek leer egter soveel wyshede by haar. Haar verhouding met God spreek van absolute afhanklikheid en ek besef ek moet totaal en al oorgee aan ons Hemelse Vader. Sy leef haar geloof uit en straal van heiligheid. Sy raak vir my ’n geestelike rolmodel en ek streef om God so te ken, soos wat sy doen.
  • My laaste vriendin het eers in die tweede kwartaal by ons aangesluit, maar het steeds deel van my identiteit gevorm. Sy is jonk en onervare net soos ek, maar haar teenwoordigheid laat jou stom, want sy lyk asof sy dié al jare doen. By haar leer ek om selfversekerd te wees. Te weet wat ek weet, en nie terug te staan vir dit nie. Sy leer my ook dat as jong juffrou ons baie uitdagings ervaar, maar om jonk te wees is nie een daarvan nie.

Ek het die jaar baie onseker en bang begin, en ek kan vandag sê ek het die jaar goed afgesluit. Ek is selfversekerd in my beroep sowel as myself. Ek het hartsvriendinne gemaak wat my lewe vul. Ek weet God het ’n plan met my, waar ek is en ook waarheen ek gaan. Ek is dankbaar eerstens vir God, want hy het elke mens in my lewe geplaas met ’n doel. Tweedens aan my ouers, wat my soveel geleenthede gegee het en my bystaan in alles. Ek is dankbaar vir my boetie en sussie, want hulle verstaan my totale menswees. En ek is dankbaar vir vriende, vriende wat my hart aanraak en lewe verander.  Ek is ook dankbaar vir Suid-Afrika, want dié is my land en God het ons almal hier geplaas vir ’n rede.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail