Ons lees op verskillende plekke in die Bybel oor vriendskap. Daar word onder meer genoem dat vriende mekaar vorm, dat ’n vriend baie werd is en selfs nader as familie aan jou kan wees.

Terugvoer
Dis kosbaar om terugvoer te kan gee en te kan ontvang in die veilige ruimte wat vriendskap jou bied. Ons kan onsself nie regtig waarneem nie – ons doen dit hoogstens met groot moeite en beperkte insig – en daarom het ons ander mense nodig.
Is jou vriend ’n goeie luisteraar? Sê dit vir hom.
Is jou vriendin ’n uitstekende gasvrou? Maak seker sy weet dit.
Wees eerlik in jou waardering vir jou vriende. Spreek dit teenoor hulle uit.
En wees jy tog oop vir die ander se terugvoer. Aanvaar wat jy hoor. Maak jou hart wyd oop.

Waarheid
Vriende het ook die wonderlike geleentheid om met mekaar die waarheid te praat. Maar “waarheid” is nie altyd so eenvoudig nie; daar is ook iets soos ongemaklike waarhede. Dis om hiérdie soort waarheid te praat wat nie altyd maklik is nie.
Tog is dit moontlik om, indien daar ’n werklike vertrouensverhouding tussen vriende bestaan, eerlik en dapper te wees wanneer ’n moeilike waarheid in die gesig gestaar word. Behou dan ook jou eie openheid om die “ongemaklike” waarheid oor jouself te aanvaar wat ’n ander met jou deel.

Vriende vorm vriende
Jou vriende bevind hulle iewers op ’n spektrum: naby aan jou, en dan al verder weg van jou af. Dié wat nader aan jou is, het meer invloed op jou. Hulle ondersteun jou, maar doen ook meer: Hulle deel in jou vreugde en jou hartseer. En die heel belangrikste: Hulle vorm jou.
Jy leer by hulle, ontdek dinge en verstaan die lewe beter omdat jy dit deur hul oë te siene kry.
Dit alles geskied wedersyds: Jy doen dit alles vir en aan jou vriende ook. Deur hierdie wisselwerking groei jy en word jy geslyp. Ook help jy hulle groei, en help slyp jy aan hulle.
Bewaar dus jou hart en hou jou motiewe so suiwer moontlik.

Blokkeer of nie?
Wanneer ’n vriendskap versuur, kan jy deesdae die ander party “blokkeer”. Maklik: Jy druk net ’n knoppie. My aanvoeling is dat ons dit té maklik doen, so asof ons dink ons kan hierdie persoon op dié manier “wis”, oftewel “delete”. Dis nié moontlik nie. Buitendien: Waarheid werk nie so nie.
Het jy onafgehandelde sake met iemand anders? Handel dit af.
Is die vriendskap op ’n einde? Sê dit aan mekaar.

DEUR RUDI SWANEPOEL
Rudi is lief vir die lewe; hy glo in balans en die waarde van gemeenskap. Hy is voltyds predikant en medestigter van ‘Miles for Mercia’, wat ten doel het om mense wat met serebrale gestremd­heid leef, te bemagtig.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail