24 Maart 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

“Dankie, Pappa, dat jy die deur vir Mamma oopgemaak het!”

So skree my oudste vanuit sy karstoeltjie. My man het pas vir my die motor se deur oopgemaak sodat ek kan inklim.

Ons oudste is amper drie jaar oud. Ons is besig om hom te leer om “asseblief” en “dankie” te sê. Hy verstaan dit nog nie heeltemal nie en sal soms vir die vreemdste goed “dankie” sê.

Maar hierdie een waarneming van hom het my aan iets baie belangriks herinner.

LEES OOK: Swaartekrag – die vermiste skakel by leerprobleme

Ons is lief daarvoor om die Hooglied-vers oor die klein jakkalsies wat die wingerd verniel aan te haal. Maar as ons dit sê, impliseer ons sekerlik ook dat dit die klein dingetjies is wat die wingerd laat gedy.
Ek glo dat liefde in die klein dingetjies woon wat ons doen en sê. Veral wanneer die lewe erg bedrywig word. Wanneer daar nie altyd tyd vir groot woorde en groot gebare is nie.

Dan kom ek weer agter dat die liefde nie in wegbreek-naweke, deftige restaurant-etes of groot geskenke woon nie. Die liefde woon in die respek waarmee die motor se deur vir jou oopgemaak word. In die koppie koffie wat julle soggens vroeg vir mekaar maak. In die kosblikkie wat jy vir die werk of die skool pak. In die drukkie ná ’n lang dag.

Die liefde woon in die briefie met die woorde “ek het jou lief”. In die tuisgekookte maaltyd. In die wegneemete sodat jy nie hoef te kook nie.

Die liefde woon in die vinnige kompliment wanneer jy by die deur uitgaan. In die soentjie en drukkie wanneer julle mekaar groet. In die blommetjie wat sommer in die tuin gepluk is.

Die liefde woon in ’n doodnormale dag. In ’n reeks opofferings, die klein bewyse dat jy ’n ander se behoeftes bo jou eie stel.

Ons voel soms skuldig wanneer ons reken ons doen te min om ons liefde te bewys. Dit lyk my eerder dat ons die waarde van die alledaagse onderskat. Dis hier waar ons telkens ’n verskil maak. Dit haal nie die voorblaaie nie en bring ons nie medaljes in die sak nie. Ons kry nie eens altyd ’n “dankie” nie, maar dis in die alledaagse dat ons kinders wedersydse respek en liefde leer.

LEES OOK: Heerlike, hartlike huis-hoender!

Met sy vrolike “dankie, Pappa!” het my seuntjie my opnuut geleer om na die klein dingetjies op te let. So is my hart met dankbaarheid vir die alledaagse gevul.

John Howard Payne het gesê: “Te midde van plesiere en paleise, waar ons ook al mag dwaal, hoe nederig dit ook al mag wees – daar is geen beter plek as jou eie tuiste nie.”

En ek besef dat dit die alledaagse is wat ’n huis ’n tuiste maak.

Mamma, ek hoop dat jy hierdie week met nuwe oë na die alledaagse sal kyk en dat al die klein liefdesgebare jou hart met dankbaarheid sal vul.

  • Simone Gaucheis ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die grondslag lê vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *