Wanneer die antwoord “wag” is

DEUR SIMONE GAUCHE

Ek het onlangs met iets geworstel. Die antwoord wat ek uiteindelik gekry het, was dat ek moet wag.

Maar enigeen wat my ken, sal weet dat wag nie juis my sterkpunt is nie. Ek is ’n “aksie-mens”. Ek maak planne. En my planne moet altyd alternatiewe hê – ’n Plan B, C en selfs D ook!

Om niks te doen nie, om te moet wag, druis teen my hele wese in.

Maar ek hét toe gewag …

En terwyl ek gewag het, het die Here met my uit Genesis 26 kom gesels. Oor die verhaal van Isak en sy mense. Hulle het ’n nomadiese bestaan gelei, hulle het oral agter water en weiding aan getrek. Toe daar op ’n keer ’n droogte uitbreek, het Isak weer sy goed gepak en hom gereed gemaak om te trek.

Maar die Here het aan hom verskyn en gesê: “Moenie Egipte toe trek nie. Bly waar Ek vir jou sê: in hierdie land. Bly ’n tyd lank hier, en Ek sal by jou wees en jou voorspoedig maak. Ek gee hierdie hele wêreld aan jou en jou nageslag. Ek sal die belofte nakom wat Ek met ’n eed teenoor jou vader Abraham afgelê het. Ek sal jou nageslag so baie maak soos die sterre aan die hemel. Ek sal hierdie hele wêreld aan jou nageslag gee, en al die nasies van die aarde sal in jou nageslag geseën wees” (Gen 26:2-5).

Dit was nie vir Isak maklik om daar te bly nie; dit het teen sy nomadiese natuur ingedruis. Dit het waarskynlik glad nie vir hom sin gemaak nie. Desnieteenstaande was hy gehoorsaam. Hy het gebly waar hy was. Hy het op God vertrou.

Hierdie verhaal het my op vele maniere geraak. Een daarvan was dit: Wanneer die Here ons vra om te wag, verwag ons dikwels dat Hy dinge onmiddellik vir ons sal beter maak. Isak het op die harde manier geleer dat dit nie so werk nie. Ja, hy was voorspoedig, sy oeste het ’n hoë opbrengs gelewer en sy vee het vinnig vermeerder. Maar dit het die inwoners van die land jaloers gemaak en hulle het al sy waterputte toegegooi.

Dit was ’n ramp, en Isak het naarstiglik na water gaan soek. Oral waar hy gekom het, het hy egter teëspoed beleef.

Die eerste put wat hy grawe, lei tot ’n onderonsie en hy noem die put “Rusie”. Met die tweede een gaan dit nie juis beter nie en dit kry die naam “Klagte”.

Uiteindelik kom hy by ’n put wat hy “Ruimte” noem. Hy sê: “Nou het die Here vir ons ruimte gemaak en in dié land sal ons voorspoedig wees” (vgl Gen 26:12-22).

Ja, om te moet wag, verg geduld. En dinge verloop nie noodwendig voor die wind nie. Jy wonder of jy die Here reg gehoor het. Moet jy regtig wag? En regtig hiér?

Dit duur dikwels ’n hele ruk voordat jy ’n ruimte vind waarin jy vryelik kan asemhaal.

Hoe nou gemaak?

Dalk is jy nou by ’n put wat jy “Rusie” kan noem; dalk by een genaamd “Klagte”. Hoe nou gemaak?  Hier is ’n paar dinge wat jy kan oorweeg. Dalk help dit:

* Erken aan jou Vader dat “wag” nie jou sterkpunt is nie. Dat jy sukkel. Vra Hom dan om jou hiermee te help, sodat jy hierin kan groei.

* Oordink die Here se beloftes aan jou. Maar wees ook daarop bedag dat dit dalk ’n tydjie mag duur voor hierdie beloftes ’n werklikheid in jou lewe word.

* As jy begin twyfel, praat met ’n geliefde wat jou en jou omstandighede goed ken. Vra dié persoon om saam met jou te bid. Ek, byvoorbeeld, ontlaai by my eggenoot. Hy weet ek kan ongeduldig wees. Hy maak my rustig.

* Indien die twyfel te veel word, vra die Here om sy opdrag aan jou te bevestig. Ons lees dikwels in die Bybel hoe Hy juis dit vir sy geliefde kinders doen.

My wens vir jou is dat jy geduldig sal vasbyt waar jy moet wag. Dat jy uiteindelik ook ruimte sal vind en sodoende die voorspoed uit die Here se hand kan geniet.

  • Simone Gauche is ’n mamma en ’n eggenote. Sy is ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal op Mosselbaai werk.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

- Advertensie -spot_img
LEES OOK ....

‘Ek was in ’n dal van doodskaduwee, en nou is ek weer uit,’ sê ma wat ander bemoedig nadat haar seun sterf

Ses maande gelede het Lelanie Kriel van Durbanville haar enigste seun aan die dood afgestaan ná ’n vier jaar...

SOORTGELYKE STORIES

- Advertisement -spot_img