Covid-19 het ons minstens een belangrike les geleer: Die lewe is kosbaar; niks is vanselfsprekend nie. Ons is gedwing om eenvoudiger te lewe. Om weg te beweeg van selfbeheptheid en ’n behoefte aan besittings. Om nader aan mense te kom. Maar is dit volhoubaar?

DEUR TREVOR HUDSON

Ek geniet dit om “Masterchef Australia” op TV te kyk. En daar hoor ek dikwels ’n betekenisvolle frase wat een van die beoordelaars keer op keer gebruik, veral wanneer ’n deelnemer met ’n gereg vorendag kom wat oordadig en gans te ingewikkeld is. Die betrokke beoordelaar sal dan sê: “Jy moet vereenvoudig! Jy moet eenvoudig vereenvoudig.”

“Vereenvoudig” is volgens my ’n baie belangrike woord in hierdie tyd. Die talle uitdagings wat die grendeltyd en sy inperkings meegebring het, het groot kompleksiteit by ons daaglikse lewe gevoeg: Ons moes ons dagboek gebalanseerd hou, ons moes noodgedwonge nuwe vaardighede aanleer. Ons moes ons gewone program aanpas, ons moes finansiële verliese hanteer. Die lys hou net aan en aan …

Ek praat onlangs met ’n enkelma wat die afgelope paar maande vanaf haar “kantoor” by die huis moes werk – terwyl sy ook haar twee kinders tuis onderrig, die huishouding behartig en oefen om fiks te bly. Sy gaan net uit om kos te koop. Sy sê toe iets wat hierdie ingewikkelde lewe goed verwoord: “Ek voel net die hele tyd so oorweldig.”

Hoe lyk Christelike eenvoud?

Wanneer ons dit wat Jesus Christus ons geleer het ernstig opneem, en dit met wysheid deel van ons ingewikkelde lewe maak, asem sy Gees oor ons die vryheid van eenvoud uit.

Eenvoud is ’n genadegawe wat God ons gee, maar dis ook ’n duidelike teken dat ons geloof in ons wortelgeskiet het. Ons ontdek dat ons, te midde van die baie uitdagings en krisisse wat dreig om ons te oorweldig, ’n bietjie vryer en ’n bietjie ligter kan leef.

Hierdie reis na Christelike eenvoud begin reg in die middel van ons besige lewe. Jesus het dit voortdurend beklemtoon. In die heel grootste preek wat ooit gepreek is, sê Hy onder meer: “Beywer julle allereers vir die koninkryk van God en vir die wil van God, dan sal Hy julle ook al hierdie dinge gee” (Matt 6:33).

Hoor ook wat Hy nié gesê het nie: Hy het nie geïmpliseer dat kos en klere nie belangrik is nie. Of dat ons nie mooi dinge mag besit, of dat ons nie vir môre hoef te beplan nie. Jesus het ons eerder uitgenooi om die koers van ons hart nuut in te stel. Om ons middelpunt en die fokuspunt van ons aandag te verskuif.

Kortom: Jesus wil hê God moet die middelpunt van ons lewe word. Dit gebeur so dikwels dat ons God heeltemal wegskuif, of na die rand van ons lewe. Die gevolge hiervan is tragies: Te midde van ons veeleisende pligte en verantwoordelikhede skuif ons God weg na ’n afsonderlike godsdienstige sfeer wat hoegenaamd nie verband hou met wat ons elke dag doen nie. Dis geen wonder dat ons lewe oorvol en versplinter en sonder enige integrasie is nie.

Oor die jare het ek geleer dat dit alles verander wanneer God die middelpunt van ons daaglikse lewe is. Wanneer ek dan soggens gaan draf, soek ek na God in die skoonheid van die nuwe dag. Wanneer ek met iemand gesels, wil ek verras word deur God se teenwoordigheid by ons. Wanneer ek sukkel om ’n onmoontlike sperdatum te haal, vra ek God om my te help.

Ek beywer my om my hele lewe, met al die spanning en probleme daaraan verbonde, om die lewende God te laat wentel. Hy wat in Christus na ons toe gekom het.

Is dit hoegenaamd moontlik?

Kán ons, oomblik na oomblik, met Christus as die middelpunt van ons lewe leef?

Ek reken dit ís moontlik. Ek dink ons kan, in die krag van die Heilige Gees, leer om in onafgebroke gemeenskap met God te leef.

Dit kan eenvoudig só werk: Wanneer ons soggens opstaan, kan ons, in plaas daarvan om ons hand na ons selfoon uit te steek, vir God fluister: “Here, wees U vandag die middelpunt van my lewe.”

Wanneer ons ons eerste koppie koffie geniet, kan ons in ons hart bid en doodgewoon sê: “Dankie, Here.”

Ons kan elke ander mens wat ons ontmoet as ’n beelddraer van God beskou. Elke e-pos wat ons stuur, kan ons saam met ’n seënwens vir die ontvanger stuur.

Een van die wonderlike gevolge van so ’n lewenshouding is vergenoegdheid. Selfs al bly die lewe ingewikkeld. Met God in die middelpunt van ons lewe, weet ons dat ons die lewe nie uit eie krag aanpak nie. Ons leef nou in die genade van God se teenwoordigheid én in sy krag.

Nou kan ons doen wat ons ook al moet doen, na die beste van ons vermoë – en ons vertrou Hom met die afloop daarvan. Ons leef met dankbaarheid vir elke seëning wat ons ontvang, hoe klein dit ook al vir ons lyk. Daar is ’n innerlike vrede, rustigheid en blydskap wat ons geleidelik vul, en wat oorloop na ons verhoudings met die mense om ons. Ons bevind ons nou op die reis na Christelike eenvoud.

Mense bó dinge

In die destydse Joodse samelewing was daar 613 gebooie. Om vrygespreek te kon word, moes jy ál 613 hierdie gebooie nakom.

Kan jy jou voorstel hoeveel spanning hierdie onmoontlike eis veroorsaak het?

Toe iemand op ’n keer vir Jesus gevra het wat die heel grootste gebod is, het Hy eenvoudig geantwoord: “Jy moet die Here jou God liefhê met jou hele hart en met jou hele siel en met jou hele verstand. Dit is die grootste en die eerste gebod. En die tweede, wat hiermee gelyk staan, is: Jy moet jou naaste liefhê soos jouself. In hierdie twee gebooie is die hele wet en die profete saamgevat” (Matt 22:37-40).

Om God lief te hê met alles wat ons het, is om Hom die middelpunt van ons lewe te maak. Ná Jesus se verduideliking weet sy volgelinge ook dat om God lief te hê van hulle vra om mense bó dinge te stel.

Een van die belangrikste redes waarom die lewe ons so oorweldig en waarom ons lewe so oorvol en gekompliseerd is, is omdat ons dinge bó mense stel. In plaas daarvan dat ons leer om mense lief te hê en dinge tot ons voordeel te gebruik, leef ons ons lewe deur dinge lief te hê en mense tot ons voordeel te gebruik.

Ons raak geheg aan ons aardse besittings en allerlei uiterlike dinge, en ons word selfbehep en selfgerig. Ons leef hygend en blasend om meer en meer dinge te kan koop, om meer en meer bymekaar te maak, om nóg en nóg te kan besit. Eenvoud word ’n vreemdeling.

’n Geliefde vriend

Een van die geskenke van die afgelope tyd was dat ons daaraan herinner is dat ons almal ten diepste aan mekaar verbind is. Met hierdie pandemie het God ons weer gewys op die heiligheid van menslike lewe.

Wanneer ons dit eers besef, beweeg ons weg van ons algehele selfbeheptheid na ’n groter belangstelling in die mense om ons. Ons begin besef dat mense belangrik is. Ons luister na hul stories. Ons reageer op hul behoeftes. Ons aanvaar niemand as vanselfsprekend nie.

Elke ontmoeting met iemand anders gee aan ons die geleentheid om God in ons naaste te ervaar. Aardse besittings, hoe belangrik dit ook al is, vind hul regte plek in ons lewe.

En die heel belangrikste: Eenvoud word weer ’n geliefde vriend.

  • Trevor Hudson is ’n predikant in die Metodistekerk, ’n pastorale terapeut en ’n retraite-leier.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail