Hoop, moed en ’n dubbele porsie geloof. Dit is wat ons nodig het in ’n tyd soos dié. Suid-Afrika, saam met die res van die wêreld, gaan gebuk onder die uitdagings wat Covid-19 bring. Een van die maniere om hoopvol te bly, is om doelbewus te soek vir stories van hoop. Een só ’n storie is die beweging Worship South Africa wat tydens grendeltyd op Facebook ontstaan het.

DEUR HALRIKA BREYTENBACH

Alles het op Sondag 29 Maart begin. Die bekende kunstenaar Stella, oftewel Christelle Combrink, wou iets doen om mense te help om hulle fokus van die negatiewe in grendeltyd na God te verskuif.

“Ek wou graag Sondagaand, 29 Maart, ’n lewendige lof- en aanbiddingsessie op my Facebookblad hou. Ek het gedink almal sit nou by hul huise en kan nie kerk toe gaan nie; mense is bang en onseker … lof en aanbidding het vir my gevoel soos die antwoord tot fokusverskuiwing,” vertel sy.

“Toe ek wakker word die Sondagoggend, sien ek die prentjie van ouds in die Bybel, toe God die Leviete (die aanbiddingsleiers) vooruit gestuur het in die oorlog en dat dit sy oorlogstrategie is. Ek was dadelik oortuig dat nie net ék lof en aanbidding moet lei op my Facebookblad nie, maar dat aanbiddingsleiers regoor die land betrokke moet wees. Die naam Worship South Africa het dadelik by my opgekom, want dit voel soos die opdrag: “Worship, South Africa!”

Nadat sy verras is deur aanbiddingsleiers se positiewe reaksie het dié lid van die groep Duis:Lig die wiele aan die rol gekry om Worship South Africa, ’n platform vir interdenominale aanlyn-lofprysing en –aanbidding, te stig.

’n Whatsappgroep om mede-aanbiddingsleiers te nooi om deel te wees van die aanlyn-aanbiddingsessie het ’n hele weermag aanbiddingsleiers tot gevolg gehad.

Dit was harde werk met baie logistieke en tegniese reëlings. “Ek het vir die eerste drie dae nie tyd gehad vir aantrek, eet, my huis of my gesin nie. Ek het duidelik nie ’n idee gehad waarvoor ek myself inlaat nie!” skerts sy. “Ek’t net gebid en vir God gevra om asseblief mense te stuur om my te help! En toe ek weer sien is ons ’n span van byna 20 mense wat die ding mooi kan bestuur.”

Stella het nie in haar wildste drome kon dink dat Worship South Africa tot ’n platform met sowat 30 000 volgers sou groei nie.

“Inteendeel, ek’t gedink … dis oukei as net mooi niemand saamluister nie,” borrel sy. “Die punt is – daar word geworship van regoor die land en daar is dus ’n aanlyn teenwoordigheid van aanbidding en hoop! Dit voel of God vir my ’n groot geskenk agter sy rug gehou het, en dit in grendeltyd vir my kom gee het om oop te maak. Ek is so bly ek het dit by Hom gevat, want ek is steeds besig om groot skatte daaruit te haal! Dit het ’n geweldige impak op my geestelike reis saam met God gemaak.”

Tydens April 2020 was daar aaneenlopende lewendige uitsendings vanaf 6:00 soggens tot middernag, wat daagliks afgeskop is met gebed. Vanaf Mei het die sessies verander na een lewendige uitsending, drie-uurliks. Terwyl die blad se gewildheid daagliks groei, nie net plaaslik nie, maar ook internasionaal. Daarmee saam, stroom die getuienisse in van lewens wat kragtig aangeraak word, selfs lewensveranderende stories van hoop, danksy dié virtuele plek van konneksie en intimiteit met God.

Kragtige getuienisse spreek tot die vrug van hierdie beweging. Een van die getuienisse handel oor iemand wat selfmoord wou pleeg. Een van die aanbiddingsleiers het vir al die spanleiers en intersessors gevra om spesifiek in te tree vir mense wat wil selfmoord pleeg. Tydens sy sessie het hy gelei gevoel om aanlyn daarvoor te bid. Iemand het hom na die sessie gekontak om te sê hy wou sy lewe neem net voordat hy besluit het om in te skakel op die blad. Toe praat en sing die aanbiddingsleier in sy lewe in – en net daar is hy opnuut met hoop gevul.

“Dit is die hart van hierdie beweging: opregte, suiwer en rou lof en aanbidding. Dit gaan nie oor mense of gewildheid nie, maar om te sing vir ’n gehoor van Een. Om die fokus te draai na God, sodat harte en gedagtes in ’n uitdagende tyd soos hierdie, in lyn kan kom met Syne.”  En dit is wat Worship South Africa sal aanhou doen. Om beskikbaar en gehoorsaam te wees om God se koninkryk te bou, vir so lank as wat Hy wys dat dit moet voortgaan. Tot sy eer.

‘Dit het my fokus in grendeltyd verskuif’

Aanbiddingsleier Ernie Amos.

“Ek is baie opgewonde oor die herstel van die Tabernakel van Dawid in dié tyd! Aanbidding is nie hier op gehore toegespits nie, maar agter toe deure in jou binnekamer, voor die mooiste Koning! Die spreekwoordelike deur wat oopgemaak sal word as ons klop en aanhou klop, staan al op ’n skreufie,” vertel een van die betrokke aanbiddingsleiers Ernie Amos van Potchefstroom.

 

 

Irma Otto, LiG-leser, volg ook die groep Worship SA.

“Worship SA was vir my so ‘n groot seën tydens grendeltydperk, en dit is steeds. Ek het in die agtergrond daarna geluister terwyl ek van die huis af gewerk het. Dit het my fokus heeltemal weggeneem van die vlaag van negatiewe berigte en gerugte – om net op Koning Jesus te fokus. Die rou optredes van die kunstenaars – uit hul sitkamers of lieflike akoestieke, leë vertrekke – het so tot my gespreek en my tot in die diepste aangeraak. En die beste van alles is: dis stemme uit eie bodem!” vertel LiG-leser Irma Otto van Kaapstad.

Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail