4 Februarie 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

Dis skemer. Ek draf verby twee tienerdogters. Lang, blonde hare, kortbroeke, T-hemde, tekkies. Elkeen knyp ’n splinternuwe skaatsplank styf tussen bors en bo-arm vas.

Dis duidelik dat hulle doelbewus dié tyd van die dag gekies het om met die skaatsplanke te ry. Daar is minder mense om te sien waarmee hulle besig is. Ek hoor in die verbygaan hoe die een meisie teen ’n effense afdraand aan haar vriendin sê: “Hier, Kate, ons kan net hier afgly!”

My “Mamma”-blog

So drie maande gelede het ek gevoel die Here sê aan my ek moet met ’n “Mamma”-blog begin. Dit nadat ek my meer as vyf jaar gelede aan sosiale media onttrek het. Ek het gereken dis oppervlakkig, dit steel tyd en verkondig dikwels ’n leuen. Ek wou nie meer deel van daardie wêreld wees nie.

LEES OOK: As ek moeg word vir die lewe in die stad …

Daarom het ek gedink ek het sekerlik verkeerd gehoor, en ek het begin bid om duidelikheid hieroor te kry. Ek het my daartoe verbind om my hart en kop oop te hou, sodat die Here se geheimenisvolle weë nie by my verbygaan nie.

Die boodskap het keer op keer gekom: “Jy is nie van hierdie wêreld nie, maar jy is deel daarvan.” As jy ander mense in dié vreemde tyd wil bereik, moet jy aanpasbaar wees.

Daar het bevestiging op bevestiging gekom, en uit verskillende oorde. Daar was deure wat op die vreemdste denkbare plekke oopgegaan het.

Twee maande gelede het my blog-reis begin.

Dis moeilik om in woorde te beskryf hoeveel ek sedertdien moes leer. Gelukkig het ek ’n klompie wonderlike mede-mammas ontmoet – persoonlik én virtueel. Ná hierdie kort tydjie verloop het, het ’n baie opwindende geleentheid hom boonop voorgedoen: Ek gaan weekliks my reis hier op LiG se webblad met lesers deel.

Ek is opgewonde hieroor, ek voel versterk en geïnspireer. En ek sal moet jok as ek sê dat dit ’n blote gelukskoot is. Ek weet dat die Here dit so beplan het.

Beserings en belonings

In my loopbaan in die hospitaal se noodeenheid het ek al baie beserings teëgekom wat met skaatsplanke verband hou: gebreekte bene, kneusplekke, hoofbeserings, noem maar op.  Ek moes heelwat steke insit.

Beteken dit nou dat ek my kinders moet beveel om van ’n skaatsplank weg te bly? Of om fietsry te vermy, nie in ’n boom te klim nie? Om eenvoudig alle aktiwiteite te vermy wat moontlik tot beserings kan lei?

Nee. Inteendeel: Ek moedig my kinders aan om al hierdie dinge te doen. Uiteindelik is dit gewoonlik daardie dinge wat dalk die meeste kan seermaak wat die grootste beloning inhou.

Om te skryf, beteken dat ek my kwesbaar moet maak. Ek moet myself en my motiewe voortdurend ondersoek. Ek moet my gemaksone verlaat. Maar die hoeveelheid groei wat ek reeds ervaar het, is buitengewoon. Daarom pak ek ook hierdie nuwe avontuur opgewonde aan.

Wat gaan jy vanjaar aanpak?

Ek het ’n vriendin wat nog nooit in haar lewe fietsgery het nie. Ek weet nie presies hoe dit gebeur het nie, maar toe sy 30 word, was dit haar geskenk aan haarself: om te leer fietsry.

Ek moet bieg dat dit iets is waarop ek ’n bietjie jaloers is. Hoeveel van ons kan sê ons onthou hoe dit voel om die eerste keer fiets te ry? Oefenwiele af, wind in jou hare, hande wat styf aan die brieke vasklou. Nooit seker of jy harder moet trap of die brieke moet vastrek nie.

LEES OOK: Waardeer wat jy het

Ek is vandag opgewonde om te begin trap. En my vraag aan jou is: Wat is dit wat die Here jou aansê om hierdie jaar aan te pak?

Is daar iets of iemand wat jy vermy? Wat is jou Nineve?

Terug na die jong meisies op die skaatsplanke: Ek gluur hulle aan en kan slegs die glans van blonde hare sien wat in die wind waai. Kate en haar vriendin sweef teen die afdraand af. Ek kan nie help om te glimlag nie.

Dié teksvers was in my gedagtes:

“Selfs jongmanne word moeg en raak afgemat, selfs manne in hulle fleur struikel en val, maar dié wat op die Here vertrou, kry nuwe krag. Hulle vlieg met arendsvlerke, hulle hardloop en word nie moeg nie, hulle loop en raak nie afgemat nie” (Jes 40:30-31).

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat gesonde, gelukkige mammas die boustene vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin is.
  • Simone blog gereeld oor haar geloofsreis by  https://httpthemomwhochangedhermind.wordpress.com/
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail