26 Januarie 2021


Nadat jy ál die argumente oor inenting teen Covid-19 aangehoor en oorweeg het, kom die volgende besluit: Watter een van die Pfizer-BioNTech-entstof of die AstraZeneca-entstof wil jy hê? Dis nou ás jy kan kies …

DEUR SALOMÉ DELPORT

In hierdie stadium lyk dit asof die staat op die AstraZeneca-entstof besluit het vir die algemene bevolking. Maar moontlik kan jy privaat, of as jy oorsee gaan, die Pfizer-BioNTech-entstof kry wat tans in Brittanje en die VSA toegedien word.

Wat maak die een beter as die ander, indien hoegenaamd?

Die nuwe koronavirusentstof is “genetiese” entstof

Praat ons hier van die sogenaamde “GMO”-entstof, met ander woorde entstof wat gebaseer is op die genetiese materiaal van die organismes wat ons siek maak?

Inderdaad.

Die jongste tegnieke vir die maak van entstowwe, ook dié teen die koronavirus, gebruik die genetiese materiaal van die organisme eerder as die organisme self. Dié benadering is ook nie so nuut nie; dit word reeds ten minste twee dekades lank nagevors, byvoorbeeld vir die entstof teen die zika-virus en die nuwer entstof teen hondsdolheid.

Is hierdie nuwe koronavirusentstof gevaarliker as ander entstowwe?

Nee. Navorsers is daarvan oortuig dis eerder veiliger. In beginsel werk ’n entstof só:

  • Jy ontvang ’n dosis van die doodgemaakte of verswakte organisme.
  • Dit ontlok ’n immuunrespons, wat beteken jou liggaam herken iets vreemds en begin dan teenliggaampies vervaardig om die indringer te vernietig.
  • Jou immuunrespons besit ’n ingeboude geheue, en wanneer jy later met die werklike organisme in aanraking kom, word dit onmiddellik herken.
  • Jou liggaam ken nou die “resep” – en as jou immuunstelsel flink werk, vervaardig hy dadelik oorgenoeg teenliggaampies om die werklike organisme te dood voordat dit jou siek maak. So word jy beskerm, al kom jy met die virus in aanraking.

Is die nuwe koronavirusentstof dan anders – en indien wel, hoe?

Terwyl die tradisionele entstof die hele organisme gebruik, gebruik die nuwe entstof brokkies van die genetiese materiaal daarvan en/of verander dit.

Dit werk egter op presies dieselfde manier as die ouer generasie entstof.

LEES OOK: Covid-19-entstof: Watter komplikasies kan jy kry?

Dit maak trouens nie vir jou immuunstelsel saak wátter vreemde materiaal jou liggaam binnekom nie. Dit herken iets vreemds en reageer bloot daarop, sonder om tussen die virus en brokstukke of genetiese materiaal te onderskei.

Waarom die nuwe soort Covid-19-entstof veilig is

Met entstowwe wat op doodgemaakte virusse gebaseer is, is daar ’n baie skraal kans dat enkele virusse sal oorleef wat kan vermeerder en jou kan siek maak. Met entstowwe wat op ’n verswakte virus gebaseer is, bly die kommer dat ’n baie klein hoeveelheid van die virus hul lewenskragtigheid kan herwin, en jou dus kan siek maak. Die risiko wat albei scenario’s betref, is gelukkig ignoreerbaar klein.

In die nuwe entstof is daar egter niks van die werklike koronavirus of sy variante, lewend of dood, nie. Daarom kan hulle nie ’n Covid-19-infeksie veroorsaak nie. In beginsel is die nuwe entstof dus veiliger as die tradisionele soort.

Hoe verskil die Pfizer-BioNTech-entstof van die AstraZeneca-entstof?

Al twee is op die genetiese materiaal van die koronavirus gebaseer.

Só werk die Pfizer-BioNTech-entstof

Een van die tegnieke om die nuwe soort entstof te vervaardig, gebruik die mRNS van die organisme. Die mRNS-entstof werk só:

  • RNS is eintlik die “morsekode” van jou DNS.
  • Die RNS word “geskryf” wanneer ’n sel verdeel en dus ’n presiese kopie van sy DNS aan sy twee nakomelinge moet oordra.
  • Vir ’n RNS-entstof word ’n stukkie van hierdie mRNS nagemaak en dan vir jou ingespuit.
  • Jou liggaam herken dit as vreemd en vervaardig teenliggaampies, soos dit gewoonlik die geval is.
  • As jy later die werklike virus opdoen, begin dit groei en verdeel. Dit vervaardig dus mRNS.
  • Jou immuunstelsel herken hierdie mRNS omdat dit soos die brokstuk lyk waarmee jy ingeënt is. Daarom vervaardig dit teenliggaampies op dieselfde wyse as waarmee dit teen die virus self sou optree.
  • Die teenliggaampies vernietig mRNS wat gevorm word wanneer die virus verdeel, en verhoed só dat dit vermeerder.

Is daar probleme by die Pfizer-BioNTech-entstof?

Ja, daar is.

Die eerste probleem is van ’n praktiese aard: Hierdie entstof moet ononderbroke by -70⁰C in spesiale stikstofvrieshouers geberg word om te verhoed dat die mRNS-brokstuk tot niet gaan.

Dis ’n groot uitdaging in ’n warm klimaat en in baie derdewêreldse lande. Dis waarom die Suid-Afrikaanse regering die Pfizer-BioNTech-entstof as eerste stap slegs aan gesondheidwerkers sal gee. En, soos dit tans lyk, die AstraZeneca-entstof aan die breë bevolking.

Die ander groot en baie belangrike kwessie is dat sommige mense ’n ernstige en potensieel dodelike reaksie op mRNS-entstof vertoon. Niemand weet hoekom dit so is nie; ons weet wel dat die liggaam baie ernstig op vreemde mRNS reageer ten einde te verhoed dat genetiese materiaal van ander organismes in sy eie selle in “geskryf” word wanneer die selle verdeel en vermeerder.

Vermoedelik reageer die liggaam heeltemal onafhanklik op die mRNS-brokstuk. Die koorsigheid en ander newe-effekte wat sommige persone ná die toediening van die Pfizer-BioNTech-entstof ervaar het, het dus niks met die koronavirus self te maak nie.

Hierdie soort reaksie is by die meeste mense binne dae iets van die verlede. Maar daar heers groot kommer oor diegene met outo-immuunsiektes – siektes soos seliaksiekte, Grave se siekte, veelvuldige sklerose, rumatoïede artritis, lupus en psoriase.

Foto: Unsplash

In hierdie stadium moet persone met outo-immuunsiektes eerder die Pfizer-BioNTech-entstof vermy, terwyl diegene met allergieë, asma, hemofilie, en vroue wat swanger is of borsvoed die riglyne moet volg soos dit met verloop van tyd bygewerk word.

Só werk die AstraZeneca-entstof

Hierdie entstof is op ’n baie interessante konsep gebaseer: Dit gebruik ’n leë virus-“dop” as voertuig om ’n DNS-brokstuk van die koronavirus in jou liggaam af te lewer. So ’n virus-“dop” word ’n vektor genoem.

Die virus wat gebruik word, kom baie algemeen in aap-spesies voor. Dit veroorsaak egter nie siekte nie. Ons dra immers talle soortgelyke goedaardige virusse en ander organismes in ons liggaam.

’n Lewende maar verswakte virus word gebruik om die entstof te berei. Die DNS word, verstommend genoeg, uit elke vektor-sel verwyder. Die vektor-virus kan nie sonder die DNS vermeerder nie.

Nou word ’n spesifieke DNS-brokstuk van die koronavirus in die leë vektor-sel geplaas. Jy ontvang dan ’n inspuiting daarvan, jou immuunstelsel herken die vreemde brokstuk en begin om teenliggaampies te vervaardig. As jy later met die werklike koronavirus in aanraking kom, weet jou immuunstelsel reeds hoe om teenliggaampies te vervaardig, en só word jy beskerm.

Is daar probleme met die AstraZeneca-entstof?

Sover ervaar ontvangers daarvan min newe-effekte maar dit is minder doeltreffend. En dit is ’n ramp. Die virus het by ons gemuteer, en staan nou amptelik bekend as die SARS-CoV-2 501.V2-variant. Waar inenting met die Astra-Zeneca-entstof ’n doeltreffendheid van 62% gee (wat al klaar laag is), gee die AstraZeneca-inenting maar sowat 20% beskerming teen hierdie nuwe variant.

Toetsing wys dat reeds 90% van ons nuwe gevalle deur hierdie variant veroorsaak word. Daarom maak dit nie sin om ons daarmee in te ent nie. Dit ís ’n krisis.

Tog verbreed dit ons kennis van die virus. So weet ons nou dat Covid-19 makliker muteer as wat ons gehoop het. Dit impliseer dat dit onwaarskynlik is dat die wêreld een entstof teen die virus sal kan maak, soos daar teen byvoorbeeld die maselsvirus is. Dus lyk die hoop dat mens een keer ingeënt kan word, en lewenslank beskerm sal bly, maar skraal. Dit is waarskynliker dat ons jaarliks of gereeld  ’n enstof sal moet ontvang.

Verder weet ons nou dat medikasie – en dus navorsing daaroor – uiters belangrik is, aangesien die hoop op ’n eenmalige voorkomende entstof maar vaag is.

  • Dié artikel is op 16 Februarie 2021 bygewerk.

Vernaamste bronne

British Medical Journal, Januarie 2021 https://www.bmj.com/content/372/bmj.n86

The Lancet, Desember 2020 https://www.thelancet.com/journals/lancet/article/PIIS0140-6736(20)32623-4/fulltext

  • Salomé Delport is ’n bekroonde gesondheidsjoernalis wat sowat 15 jaar lank gesondheidsredakteur van die tydskrif rooi rose was. Sy is tans ’n vryskutjoernalis en -inhoudskepper.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail