10 Maart 2021


DEUR SIMONE GAUCHE

Vandat ek kan onthou, het die gelykenis van die drie slawe en die goue muntstukke by my gespook. Volgens dié Jesusverhaal het elke slaaf, na die eienaar se diskresie, ’n aantal muntstukke ontvang.

Ek het nog altyd ’n wesenlike vrees gehad dat ek besig is om my muntstukke te begrawe. Dalk is dit omdat ek reken dat ek baie daarvan ontvang het. Dalk het ek nie behoorlik boekgehou van hoeveel muntstukke ek wel het nie. Dalk weet ek dat ek bloot nie genoeg daarmee gewoeker het nie.

LEES OOK: Die bepaalde tyd vir mammas

“Hulle hou ’n mens besig, nè?” sê die oom met die gryskop as ek blasend verby hom hardloop. In die stootwaentjie voor my uit is my jongste, terwyl ek my oudste seun op sy fietsie jaag. Dis ’n fase, ek weet. En ander mense is lief daarvoor om ons daaraan te herinner.

Ons kinders is klein, onderskeidelik een en drie. Hulle is volledig afhanklik van ons en neem die grootste deel van ons lewe in beslag. Dis doeke ruil, kos gee, aantrek, bad, in die bed sit, tande borsel. Dit hou nie op nie.

Dis uiters bevredigend, ja, maar dis ook uitputtend. Vra diegene met klein kindertjies, hulle sal weet. Vra egter iemand wat heelwat ouer as jy is, en jy kom agter dié persoon het waarskynlik vergeet . . .

Ek wil “besig wees” egter nie as ’n verskoning gebruik nie. Vir alles wat jy ervaar, is daar iemand anders wat dieselfde ervaar, en dalk meer hulp benodig as jy. Ek hoor gereeld dinge soos: “As my kinders net eers snags kan deurslaap, self eet, self aantrek. As hulle net eers in die laerskool kom . . .”

Ek is daarvan oortuig dat die Here jou in elke fase van jou lewe gebruik. Daar is altyd iets wat jy kan doen, jy moet bloot ’n bietjie woeker. Ek dink dis ’n goeie gewoonte om gereeld jou muntstukke te tel en seker te maak jy woeker steeds daarmee. Hulle is nie in elke seisoen dieselfde nie; soms het jy meer om mee te werk en soms minder.

Vra jou gereeld af: Sê nou ek skort my verskonings op? Sê nou ek omhels my omstandighede met ope arms? Sê nou ek hou op om vir die Here te sê ek sal hiérdie ding vir Hom doen wanneer dáárdie ding eers gebeur? Sê nou ek hou op bid dat die Here my vir iets spesifieks moet gebruik en ek word bloot bruikbaar? Sê nou ek hou op bid dat die Here my uit ’n gat moet haal en ek begin eerder om ander mense te help wat saam met my in die gat is?

Dalk is die vraag nie hoekom ek hier is nie, maar wat ek hier moet doen. Sê nou ek hou op wegskram en aanvaar verantwoordelikheid vir die feit dat ek my getuienis moet uitleef?

Ja, ons kinders is klein en dis slegs ‘n fase, maar dis ’n fase waarin die Here ons steeds wil gebruik. My “hier en nou” is my muntstukke.

LEES OOK: Ek en my huis – só sal ons die Here dien

As ons net kan besef dat ons ons getuienis moet uitleef, sal daar selfs meer aan ons gegee word en ons sal ’n oorvloed hê. Maar as ons ons muntstukke vandag begrawe, sal die bietjie wat ons het ook van ons weggeneem word.

Kom ons besluit om ons getuienis uit te leef. Nie môre nie, nie gister nie. Vandag.

Ek probeer my getuienis uitleef, en dan in alle omstandighede en fases waarin ek my bevind. My wens is dat ek ook sal hoor: “Mooi so! Jy is ’n goeie en getroue slaaf. Oor min was jy getrou, oor baie sal ek jou aanstel. Kom in en deel in my vreugde!”

* Lees uit die Woord: Matteus 25:14-30

  • Simone Gauche is ’n mamma, eggenote en ’n mediese dokter wat in die staatshospitaal in Mosselbaai werk. Sy het ’n passie vir vrouegesondheid en wil graag ’n gesonde liggaam, verstand en gees bevorder. Sy reken dat dié drie nie van mekaar geskei kan word nie. Sy stel ook in vroeëkinderontwikkeling belang, veral nadat haar twee seuns in onderskeidelik 2018 en 2020 gebore is. Sy is daarvan oortuig dat ’n gesonde, gelukkige mamma die bousteen vorm vir gesonde, gelukkige kinders en ’n gesonde, gelukkige gesin.
Facebooktwitterredditpinterestlinkedinmail

Leave a Reply

Your email address will not be published. Required fields are marked *